Esegiël 39
Afrikaans PWL
1“Jy, seun van ’n mens, profeteer teen Gog en sê: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek is teen jou, o Gog, hoofprins van Meshekh en Tuval. 2Ek sal jou omdraai en jou voortdryf, jou bring vanuit die verste dele van die noorde en jou teen die berge van Yisra’el laat kom. 3Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val. 4Jy sal val op die berge van Yisra’el, jy en al jou troepe en die volke wat saam met jou is; Ek sal jou gee as kos aan elke soort roofvoël en aan elke soort wilde dier van die veld. 5Jy sal op die oop veld val, want dit is Ek wat gepraat het,” verklaar יהוה-God. 6“Ek sal vuur stuur op Magog en die wat in veiligheid die kuslande bewoon en hulle sal weet dat Ek יהוה is.

7Ek sal My afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) bekendmaak te midde van My volk Yisra’el en Ek sal nie dat My afgesonderde Naam meer onteer word nie en die nasies sal weet dat Ek יהוה is, die Afgesonderde Een in Yisra’el. 8Let op, dit kom en dit sal gedoen word,” verklaar יהוה-God. “Dít is die dag waarvan Ek gepraat het;

9dan sal die inwoners van die stede van Yisra’el uitgaan en vuur maak met die wapens en hulle brand, beide klein en groot skilde, boë en pyle, knopkieries en spiese en hulle sal daarmee vuur maak vir sewe jaar lank. 10Hulle sal nie hout uit die veld vat of vuurmaakhout in die woude bymekaarmaak nie, want hulle sal vuurmaak met die wapens en hulle sal die buit vat van dié wat hulle buit gevat het en die plunder vat van dié wat hulle geplunder het,” verklaar יהוה-God.

11Op daardie dag sal Ek vir Gog ’n begraafplaas daar in Yisra’el gee, die vallei van dié wat aan die oostekant van die see verbytrek en dit sal die wat deurtrek blokkeer. Daar sal hulle vir Gog begrawe en sy hele menigte en hulle sal dit noem: die vallei van Hamon-Gog. 12Die huis van Yisra’el sal sewe maande lank besig wees om hulle te begrawe om die land te reinig. 13Al die mense van die land sal hulle begrawe en dit sal tot hulle roem wees, die dag as Ek Myself loof en vereer,” verklaar יהוה-God. 14Selfs sewe maande daarna sal daar manne wees wat voortdurend deur die land gaan en die wat bo-op die grond oorgebly het begrawe, om dit te reinig. 15Elkeen wat deur die land trek, enige een wat ’n mensebeen sien, sal ’n merkteken daarby opsit totdat die begrawers dit begrawe het in die vallei van Hamon-Gog. 16Selfs die naam van die stad sal Hamonah wees. So sal hulle die land reinig.”’

17Jy, seun van ’n mens, so sê יהוה-God: ‘Praat met elke soort voël en met elke soort wilde dier van die veld: “Vergader en kom, versamel vanaf elke kant by My offer wat Ek vir julle gaan offer, as ’n groot offer op die berge van Yisra’el dat julle vlees mag eet en bloed drink! 18Julle sal die vlees van die magtige manne eet en die bloed van die prinse van die aarde drink, asof ramme, lammers, bokke, bulle, almal vetgemaakte diere van Bashan. 19Julle sal vet eet totdat julle oorversadig is en bloed drink totdat julle dronk is, van My offer wat Ek vir julle geoffer het. 20Julle sal aan My tafel ooreet wees aan perde en hulle ruiters, aan magtige manne en alle soorte krygsmanne,” verklaar יהוה-God.

21Ek sal My Gemanifesteerde Teenwoordigheid tussen die nasies bring en al die nasies sal My oordeel sien wat Ek uitgevoer het en My hand wat Ek op hulle gelê het. 22Die huis van Yisra’el sal van daardie dag af aan weet dat Ek, יהוה, hulle God is. 23Die nasies sal weet dat die huis van Yisra’el as gevolg van hulle onregverdigheid in ballingskap gegaan het omdat hulle ontrou teenoor My opgetree het en Ek My gesig vir hulle weggesteek het; Ek het hulle in die hand van hul teëstanders oorgegee en almal van hulle het deur die swaard geval. 24Volgens hulle onreinheid en volgens hulle oortredinge het Ek met hulle gehandel en My gesig vir hulle weggesteek.”’”

25יהוה-God sê daarom: “Nou sal Ek die welgevalle van Ya’akov herstel en omgee vir die hele huis van Yisra’el en Ek sal jaloers wees ter wille van My afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit). 26Hulle sal hul vernedering vergeet en al hul ontrouheid wat hulle teen My begaan het, wanneer hulle veilig in hul land woon met niemand om hulle bang te maak nie. 27Wanneer Ek hulle terugbring uit die volke en hulle versamel uit die lande van hulle vyande, dan sal Ek deur hulle afgesonder word voor die oë van baie nasies, 28dan sal hulle weet dat Ek, יהוה, hulle God is omdat Ek hulle in ballingskap laat gaan het tussen die nasies en hulle toe versamel het in hulle eie land en Ek sal nie een van hulle meer daar agterlaat nie. 29Ek sal nie langer My gesig vir hulle wegsteek nie, want Ek sal My Gees oor die huis van Yisra’el uitgiet,” verklaar יהוה-God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 38
Top of Page
Top of Page