Esegiël 3
Afrikaans PWL
1Toe het Hy vir my gesê: “Seun van ’n mens, eet wat jy vind; eet hierdie boekrol en gaan praat met die huis van Yisra’el.” 2Ek het my mond oopgemaak en Hy het my dié rol gevoer. 3Hy het vir my gesê: “Seun van ’n mens, voed jou maag en vul jou liggaam met hierdie boekrol wat Ek vir jou gee.” Toe het ek dit geëet en dit was soet soos heuning in my mond.

4Toe het Hy vir my gesê: “Seun van ’n mens, gaan na die huis van Yisra’el en verkondig My boodskappe aan hulle, 5want jy word nie gestuur na ’n volk met ’n onverstaanbare spraak of moeilike taal nie, maar na die huis van Yisra’el; 6nie na baie volke wat ’n onverstaanbare spraak of moeilike taal het nie, wie se woorde jy nie kan verstaan nie, maar Ek het jou gestuur na hulle wat na jou behoort te luister en dit te doen; 7tog sal die huis van Yisra’el nie gewillig wees om na jou te luister en dit te doen nie, aangesien hulle nie na My wil luister en dit doen nie. Die hele huis van Yisra’el het sekerlik ’n harde voorkop en is eiewillig. 8Let op, Ek het jou gesig net so hard gemaak soos hulle gesigte en jou voorkop so hard soos hulle voorkoppe. 9Ek het jou voorkop soos ’n diamant, harder as flint, gemaak. Moenie vir hulle bang wees of ontsteld wees voor hulle nie, alhoewel hulle ’n rebelse huis is.” 10Hy het verder vir my gesê: “Seun van ’n mens, neem al My boodskappe wat Ek vir jou sal sê, in jou verstand, wil en emosie op en luister mooi. 11Gaan na die ballinge, na die seuns van jou volk en praat met hulle en sê vir hulle, of hulle luister en dit doen of nie: ‘So sê יהוה-God.’”

12Toe het die Gees my opgelig en ek het ’n groot dreunende geluid agter my gehoor: “Geseënd is die lof, eer en aanbidding van יהוה in Sy plek!” 13Ek het die geluid gehoor van die vlerke van die lewende wesens wat aan mekaar raak en die geluid van die wiele langs hulle, ’n groot dreunende klank. 14Die Gees het my opgelig en my weggevat en ek het verbitterd in die woede van my gees gegaan en die hand van יהוה was sterk op my. 15Toe het ek by die ballinge gekom wat in Tel-Aviv, langs die K’varrivier gebly het en ek het sewe dae lank daar gesit by die plek waar hulle gebly het en konsternasie tussen hulle veroorsaak.

16Aan die einde van sewe dae het die woord van יהוה tot my gekom en gesê: 17“Seun van ’n mens, Ek het jou as wagter vir die huis van Yisra’el aangestel; wanneer jy ook al ’n boodskap uit My mond hoor, moet jy hulle namens My waarsku. 18Wanneer Ek vir die bose oortreder sê: ‘Jy sal sekerlik sterf ’ en jy waarsku hom nie of praat nie om die bose oortreder aangaande sy bose lewenswyse te waarsku dat hy kan lewe nie, sal daardie bose oortreder in sy oortredinge sterf, maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. 19Tog, as jy die bose oortreder gewaarsku het en hy draai nie van sy boosheid of van sy bose lewenswyse af weg nie, sal hy in sy oortredinge sterf, maar jy het jouself bevry. 20Ook, as ’n onpartydige en opregte man wegdraai van sy onpartydige opregtheid en oortredinge begaan en Ek ’n struikelblok voor hom gooi, sal hy sterf en omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy sterf in sy sonde en sy onpartydige en opregte dade wat hy gedoen het, sal nie onthou word nie, maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. 21As jy die onpartydige en opregte man egter gewaarsku het dat die onpartydig opregte man nie moet sondig nie en hy sondig nie, sal hy sekerlik leef omdat hy die waarskuwing aanvaar het en jy het jouself bevry.”

22Die hand van יהוה was daar op my en Hy het vir my gesê: “Staan op, gaan uit na die vlakte toe en Ek sal daar met jou praat.” 23Ek het opgestaan en na die vlakte gegaan en let op, die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het daar gestaan soos die Gemanifesteerde Teenwoordigheid wat ek by die K’varrivier gesien het en ek het op my gesig neergeval. 24Die Gees het in my ingekom en my op my voete laat staan en Hy het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan, sluit jouself toe in jou huis. 25Wat jou betref, seun van ’n mens, hulle sal toue om jou sit en jou met hulle vasbind sodat jy nie onder hulle kan uitgaan nie. 26Meer nog, Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat vassit sodat jy stom sal wees en nie ’n man kan wees wat hulle kan bestraf nie, want hulle is ’n rebelse huis, 27maar wanneer Ek met jou praat, sal Ek jou mond oopmaak en jy moet vir hulle sê: ‘So sê יהוה-God.’ Hy wat hoor en doen, laat hom hoor en doen en hy wat dit weier, laat hom weier, want hulle is ’n rebelse huis.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 2
Top of Page
Top of Page