Esegiël 26
Afrikaans PWL
1In die elfde jaar, op die eerste van die maand, het die woord van יהוה tot my gekom en gesê: 2“Seun van ’n mens, omdat Tzor aangaande Yerushalayim gesê het: ‘Aha, die poort van die volke is gebreek; dit het na my toe oopgemaak; ék sal vol word, sy is in puin gelê;’ 3daarom, so sê יהוה-God: ‘let op, Ek is teen jou, o Tzor en Ek sal baie nasies teen jou bring, soos die see sy golwe opstoot. 4Húlle sal die mure van Tzor verwoes en haar torings afbreek en Ek sal haar puin van haar af wegvee en haar ’n kaal rots maak. 5Sy sal binne-in die see ’n plek wees vir nette om te droog, want Ek het gepraat,’ verklaar יהוה-God; ‘en sy sal ’n buit vir die nasies word. 6Haar dogters wat op die land is, sal ook met die swaard neergeslaan word en hulle sal weet dat Ek יהוה is,’”

7want so sê יהוה-God: “let op, Ek sal N’vukhadnetzar, koning van Bavel, koning van konings, met perde, strydwaens, perderuiters en ’n groot weermag van die noorde af teen Tzor bring. 8Hy sal jou dogters op die vasteland met die swaard doodmaak, beleëringsmure teen jou opstel, ’n wal teen jou gooi en ’n groot skild teen jou oprig. 9Hy sal die slag van sy stormram teen jou mure draai en jou torings met sy byle afbreek. 10As gevolg van die menigte van sy perde sal hulle stofwolk jou toedek; jou mure sal bewe deur die geraas van perderuiters, wiele en strydwaens as hy deur jou poorte ingaan, soos ’n mens ’n stad binnegaan wat oopgebreek is. 11Hy sal met die hoewe van sy perde al jou strate vertrap; jou mense sal hy met die swaard doodmaak en jou sterk klippilare sal op die grond val. 12Hulle sal ook ’n buit maak van jou rykdom en jou koopware roof, jou mure afbreek en jou aangename huise vernietig en hulle sal jou klippe, jou houte en jou puin in die water gooi. 13So sal Ek die klank van jou liedere laat ophou en die klank van jou harpe sal nie meer gehoor word nie. 14Ek sal jou ’n kaal rots maak, ’n plek om nette op oop te gooi. Jy sal nie weer gebou word nie, want Ek, יהוה, het gepraat,” verklaar יהוה-God.

15So sê יהוה-God vir Tzor: “Sal die kuslande nie bewe van die geluid van jou val, wanneer die gewondes kerm, wanneer die slagting in jou midde gebeur nie? 16Dan sal al die prinse van die see van hulle trone afklim, hulle mantels afhaal en hulle geborduurde klere uittrek. Hulle sal hulself met bewing aantrek; hulle sal op die grond sit, elke oomblik bewe en ontsteld wees oor jou.

17Hulle sal ’n klaaglied oor jou aanhef en vir jou sê: ‘Hoe het jy vergaan, o bewoonde een, vanaf die seë, o hoog geroemde stad, wat magtig was op die see, sy en haar inwoners, wat haar verskrikking op al haar inwoners afgedwing het.

18Nou sal die kuslande bewe op die dag van jou val; ja, die kuslande wat by die see is, sal vreesbevange wees as jy verbygaan,’”

19want so sê יהוה-God: “wanneer Ek jou ’n verlate stad maak, soos die stede wat nie bewoon word nie; wanneer Ek die ondergrondse water oor jou laat opkom en die groot waters jou bedek, 20dan sal Ek jou afbring saam met dié wat afgaan in die put, na die mense van ouds en Ek sal jou laat bly in die onderste dele van die aarde, soos die antieke puinhope, saam met die wat in die put afgaan sodat jy nie bewoon sal word nie, maar Ek sal lof, eer en aanbidding gee in die land van die lewendes. 21Ek sal verskrikkings oor jou bring en jy sal nie meer wees nie; alhoewel jy gesoek sal word, sal jy nooit weer gevind word nie,” verklaar יהוה-God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 25
Top of Page
Top of Page