Esegiël 1
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur in die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand terwyl ek tussen die ballinge by die K’varrivier was, dat die hemele oopgemaak is en ek visioene van God gesien het. 2Op die vyfde van die maand, in die vyfde jaar van die ballingskap van koning Y’hoyakhin, 3het die woord van יהוה uitdruklik tot Yegezk’el, die priester, die seun van Buzi, gekom in die land van die Kasdeërs, by die K’varrivier en daar het die hand van יהוה op hom gekom.

4Terwyl ek kyk, let op, het ’n stormwind uit die noorde gekom, ’n groot wolk met aanhoudende flitsende vuur en ’n helder lig rondom dit en in die middel daarvan, iets soos gloeiende metaal, binne-in die vuur. 5Binne-in dit was figure wat gelyk het soos vier lewende wesens en dit was hulle voorkoms: hulle het ’n menslike vorm gehad. 6Elkeen van hulle het vier gesigte en vier vlerke gehad. 7Hulle bene was reguit en hulle voete soos ’n kalf se hoef en hulle het geskitter soos blink gevryfde koper. 8Onder hulle vlerke aan hulle vier kante was mensehande. Wat die vier van hulle se gesigte en vlerke betref: 9hulle vlerke het aanmekaar geraak. Hulle gesigte het nie gedraai wanneer hulle beweeg nie; elkeen het reguit vorentoe gegaan. 10Wat die vorm van hulle gesigte betref: elkeen het die gesig van ’n man gehad; al vier het die gesig van ’n leeu aan die regterkant en die gesig van ’n bul aan die linkerkant gehad; al vier het die gesig van ’n arend gehad. 11Dit was hulle gesigte. Hulle vlerke was boontoe uitgesprei; elkeen het twee gehad wat aan ’n ander geraak het en twee wat hulle liggame bedek het. 12Elkeen het reguit vorentoe gegaan; waar hul gees ook al heen gegaan het, het hulle gegaan, sonder om te draai as hulle gaan. 13In die middel van die lewende wesens was daar iets wat gelyk het soos brandende kole van vuur, soos fakkels wat heen en weer tussen die lewende wesens spring. Die vuur was helder en weerlig het uit die vuur geslaan. 14Die lewende wesens het heen en weer gehardloop, soos weerligstrale.

15Soos ek na die lewende wesens kyk, let op, was daar een wiel op die grond langs die lewende wesens, vir elkeen van die vier van hulle. 16Die voorkoms van die wiele en hulle vakmanskap was soos skitterende beril en al vier het dieselfde vorm gehad; hulle voorkoms en hulle vakmanskap was asof daar een wiel binne-in ’n ander was. 17Wanneer hulle beweeg, het hulle in enige van hulle vier rigtings beweeg sonder om te draai as hulle beweeg. 18Hulle vellings was verhewe en wonderbaar en al vier se vellings was vol oë reg rondom. 19Wanneer die lewende wesens beweeg, beweeg die wiele saam met hulle en wanneer die lewende wesens oplig van die grond af, lig die wiele ook. 20Waar hulle gees ook al heen wou gaan, in daardie rigting het hulle gegaan; die wiele het naby, langs hulle opgelig, want die gees van die lewende wesens was in die wiele. 21Wanneer dié gaan, gaan hulle en wanneer dié stil staan, staan hulle stil en wanneer dié hulle van die grond af oplig, lig die wiele naby langs hulle op, want die gees van die lewende wesens was in die wiele.

22Oor die koppe van die lewende wesens was daar iets soos ’n uitgestrektheid, soos die wonderbare skynsel van kristal, uitgesprei bo-oor hulle koppe. 23Onder die uitgestrektheid was hulle vlerke reguit na mekaar, een na die ander uitgestrek; elkeen het ook twee vlerke gehad wat eenkant en anderkant hul liggame bedek het. 24Ek het ook die klank van hulle vlerke gehoor as hulle beweeg, soos die klank van baie waters, soos die stem van die Almagtige, die geluid van oproering, soos die klank van ’n leërkamp; wanneer hulle stil staan, het hulle hul vlerke laat sak. 25Daar het ’n stem gekom van bo die uitgestrektheid wat oor hulle koppe was; wanneer hulle stil staan, het hulle hul vlerke laat sak.

26Bokant die uitgestrektheid wat oor hulle koppe was, was daar iets wat gelyk het soos ’n troon, wat gelyk het soos lapis lazuli en op dit wat gelyk het soos ’n troon, ’n figuur wat gelyk het soos ’n mens. 27Toe merk ek op dat vanaf Sy lendene opwaarts lyk dit na iets soos gloeiende metaal wat lyk soos vuur, reg rondom binne-in en vanaf Sy lendene ondertoe sien ek iets soos vuur en daar was ’n glans rondom Hom. 28Soos die voorkoms van die reënboog in die wolke op ’n reëndag, so het die omringende glans gelyk. So was die voorkoms van die beeld van die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה. Toe ek dit sien, het ek op my gesig geval en ’n Stem hoor praat.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Lamentations 5
Top of Page
Top of Page