Afrikaans PWL 1Daarna het Moshe en Aharon ingegaan en vir Farao gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Laat My volk gaan dat hulle vir My ’n fees kan hou in die wildernis.”
2Farao antwoord: “Wie is יהוה dat ek Sy stem moet gehoorsaam om Yisra’el te laat gaan? Ek het nie ’n verbondsverhouding met יהוה nie en ek sal Yisra’el ook nie laat gaan nie.”
3Hulle sê: “Die God van die Hebreërs het met ons ontmoet; laat ons nou drie dagreise ver die woestyn intrek en aan יהוה, ons God, offer sodat Hy ons nie oorval met peste of die swaard nie.”
4Die koning van Mitzrayim antwoord hulle: “Moshe en Aharon, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Gaan terug na julle werk toe.”
5Farao sê ook: “Let op, die mense van die land is nou reeds baie en julle het hulle laat ophou met hulle werk.” 6Farao het daarom op dieselfde dag aan die taakmeesters en hulle opsigters bevel gegee en gesê: 7“Julle moet geen strooi meer aan die volk gee om bakstene te maak soos gister en eergister nie. Laat hulle gaan en vir hulleself strooi bymekaarmaak. 8Die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het, moet julle van hulle verwag en niks daarvan verminder nie, want hulle verslap en daarom roep hulle uit en sê: ‘Laat ons gaan en aan ons God offer!’ 9Laat meer werk op die manne gelaai word sodat hulle daaraan kan werk en nie misleidende woorde oorweeg nie.” 10Die taakmeesters en die opsigters van die volk het uitgegaan en met die volk gepraat en gesê: “So sê Farao: ‘Ek sal nie vir julle strooi gee nie. 11Gaan haal self vir julle strooi waar julle dit kan kry, maar geen van julle werk word verminder nie’.” 12Toe is die volk oor die hele Mitzrayim versprei om stoppels te versamel vir strooi 13en die taakmeesters het op hulle gedruk en gesê: “Voltooi julle werk volgens die eis van elke dag net soos toe daar strooi was.” 14Die opsigters van die seuns van Yisra’el wat Farao se taakmeesters oor hulle aangestel het, is geslaan en gevra: “Waarom het julle gister en vandag nie soos tevore julle voorgeskrewe hoeveelheid stene gemaak nie?” 15Die opsigters van die seuns van Yisra’el het daarom gegaan en uitgeroep na Farao en gesê: “Waarom maak u so met u diensknegte? 16Daar word geen strooi aan u slawe gegee nie en hulle sê vir ons: ‘Maak bakstene!’ Let op, u diensknegte word geslaan, maar die skuld lê by u mense.” 17Hy antwoord egter: “Julle is lui! Baie lui en sê daarom: ‘Laat ons gaan en aan יהוה offer.’ 18Gaan dus nou en werk, want geen strooi sal vir julle gegee word nie en tog moet julle die hoeveelheid bakstene lewer.” 19Die opsigters van die seuns van Yisra’el het gesien dat dit sleg met hulle gaan omdat daar gesê is: “Julle mag jul bakstene, volgens die eis van elke dag, nie verminder nie.” 20Toe hulle by Farao uitkom het hulle Moshe en Aharon teëgekom, wat daar gestaan en wag het vir hulle 21en sê vir hulle: “יהוה kyk na julle en oordeel julle omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy diensknegte, deur ’n swaard in hulle hand te gee om ons dood te maak.” 22Moshe het teruggegaan na יהוה en gesê: “Meester, waarom het U skade op die mense gebring? Waarom het U my dan gestuur, 23want sedert ek na Farao gegaan het om in U Naam (Karakter en Outoriteit) te praat, het hy skade aan hierdie mense gedoen en U het ook glad nie U volk gered nie?” Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |