Eksodus 40
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Op die eerste dag van die eerste maand, moet jy die Tent van Ontmoeting oprig 3en jy moet die ark van die Getuienis daarin sit en die ark met die verdelingsgordyn toemaak. 4Jy moet die tafel inbring en daarop regsit wat daarop hoort. Jy moet ook die lampstaander inbring en sy lampe opsteek. 5Jy moet ook die goue altaar vir die reukwerk voor die ark van die Getuienis neersit. Jy moet die gordyn van die ingang van die tabernakel ophang. 6Jy moet ook die brandofferaltaar voor die ingang van die Tent van Ontmoeting neersit 7en die kom tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar neersit en water ingooi. 8Maak die voorhof rondom en hang die gordyn aan die poort van die voorhof op. 9Jy moet die salfolie neem en jy moet die tent en alles wat daarin is salf en dit afsonder met alles wat daarby hoort en dit sal afgesonderd wees. 10Jy moet ook die brandofferaltaar salf met al sy bybehore en jy moet die altaar afsonder en die altaar sal heeltemal afgesonderd wees. 11Salf die kom en sy voetstuk en sonder dit af. 12Jy moet ook vir Aharon en sy seuns na die ingang van die Tent van Ontmoeting laat kom en jy moet hulle met water was. 13Jy moet vir Aharon die afgesonderde klere aantrek en hom salf en afsonder sodat hy My kan dien as priester. 14Jy moet ook sy seuns laat kom en vir hulle die klede aantrek. 15Jy moet hulle salf, soos jy hulle vader gesalf het en hulle moet My dien as priesters, want hulle salwing sal vir hulle ’n ewige priesterskap wees, in hulle geslagte.” 16Dit het Moshe gedoen, volgens alles wat יהוה hom beveel het, net so het hy gedoen.

17In die eerste maand, in die tweede jaar, op die eerste van die maand, is die tabernakel opgerig. 18Moshe het die tabernakel opgerig: hy het sy voetstukke neergesit, sy planke daarop gesit, sy pale vasgemaak en sy pilare opgerig. 19Hy het die tent oor die raamwerk gespan en die dekkleed van die tent bo-oor getrek, net soos יהוה Moshe beveel het. 20Verder het hy die Getuienis gevat en dit in die ark ingesit en die pale aan die kant van die ark ingesteek en die Toedekking het hy bo-op die ark gesit. 21Hy het die ark in die tabernakel ingebring, die verdelingsgordyn as bedekking opgehang en die ark van die Getuienis toegemaak, soos יהוה Moshe beveel het. 22Hy het die tafel in die Tent van Ontmoeting neergesit, aan die noordekant van die tabernakel, buitekant die verdelingsgordyn. 23Hy het die brood daarop gerangskik voor die Teenwoordigheid van יהוה, soos יהוה Moshe beveel het. 24Hy het ook die lampstaander in die Tent van Ontmoeting gesit, oorkant die tafel, aan die suidekant van die tabernakel. 25Hy het die lampe opgesteek, voor die Teenwoordigheid van יהוה, soos יהוה Moshe beveel het. 26Hy het die goue altaar in die Tent van Ontmoeting neergesit, voor die verdelingsgordyn 27en reukwerk van speserye daarop aan die brand gesteek, soos יהוה Moshe beveel het. 28Hy het die gordyn aan die ingang van die tabernakel opgehang. 29Hy het die brandofferaltaar by die ingang van die Tent van Ontmoeting neergesit en hy het die brandoffer en die graanoffer daarop gebring, soos יהוה Moshe beveel het. 30Hy het die kom tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar gesit en hy het water ingegooi om mee te was 31en Moshe, Aharon en sy seuns het hulle hande en voete daar gewas. 32Wanneer hulle ingaan in die Tent van Ontmoeting of naderkom na die altaar, het hulle hul gewas, soos יהוה Moshe beveel het. 33Hy het die voorhof wat rondom die tabernakel is en die altaar opgerig en die gordyn vir die poort van die voorhof opgehang. So het Moshe dan die werk voltooi

34en die wolk het die Tent van Ontmoeting oordek en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het die tent gevul. 35Moshe was nie in staat om in die Tent van Ontmoeting in te gaan nie omdat die wolk daarop gerus en die Teenwoordigheid van יהוה die tent gevul het. 36Wanneer ook al die wolk van die tent af oplig, het die seuns van Yisra’el weggetrek op al hulle reise, 37maar as die wolk nie oplig nie, dan trek hulle nie weg nie, tot die dag wat dit weer oplig, 38want die wolk van יהוה was bedags en vuur in die nag op die tent, voor die oë van die hele huis van Yisra’el, op al hulle reise.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 39
Top of Page
Top of Page