Eksodus 21
Afrikaans PWL
1“Hierdie is die regsuitsprake wat jy hulle moet voorhou:

2as jy ’n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy vry weggaan sonder om te betaal. 3As hy alleen kom, moet hy alleen weggaan; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom weggaan. 4As sy meester aan hom ’n vrou gee en sy vir hom geboorte gee aan seuns of dogters, moet die vrou met haar kinders haar meester se eiendom wees en hy moet alleen weggaan, 5maar as die slaaf duidelik sê: ‘Ek het my meester, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as ’n vry man weggaan nie,’ 6dan moet sy meester hom na God toe bring, asook na die deur of die kosyn toe bring en sy meester moet sy oor met ’n els deurboor en hy moet hom vir altyd dien.

7As ’n man sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie soos die slawe vry weggaan nie. 8As sy nie aanvaarbaar gevind word in die oog van haar meester wat haar vir homself uitgehou het nie, moet hy haar laat loskoop. Hy het nie outoriteit om haar aan ’n vreemde volk te verkoop nie omdat hy ontrou teenoor haar opgetree het. 9As hy haar aan sy seun verloof het, moet hy met haar handel volgens die gebruik van dogters; 10as hy vir hom ’n ander een vat, mag hy haar kos, haar klere en haar huweliksplig (seksuele gemeenskap) nie verminder nie 11en as hy nie hierdie drie dinge vir haar doen nie, kan sy vry weggaan, sonder om te betaal.

12Hy wat ’n mens slaan dat hy doodgaan, moet die dood sterf. 13As hy egter nie daarvoor lê en wag het nie, maar God hom in sy hand laat val het, dan sal Ek vir jou ’n plek aanwys waarheen hy mag vlug, 14maar as ’n man met voorbedagte rade teen sy naaste optree, om hom met misleiding dood te maak, moet jy hom selfs van My altaar af wegvat dat hy sal sterf.

15Hy wat sy vader of moeder slaan, moet die dood sterf.

16Hy wat ’n mens steel en hom verkoop, of as hy in sy besit gekry word, dié moet die dood sterf.

17Hy wat sy vader of moeder vloek, moet die dood sterf.

18As manne stry en die een die ander met ’n klip of met die vuis slaan sodat hy nie doodgaan nie, maar bedlêend word; 19as hy weer opstaan en buite met sy staf rondloop, moet hy wat hom geslaan het, vrygestel word; net sy tydverlies moet hy vergoed en voorsien dat hy van sy beserings genees.

20As iemand sy slaaf of slavin met ’n stok slaan dat dié onder sy hand sterwe, moet wraak geneem word om dit te wreek, 21maar as hy ná een of twee dae nog lewe, moet dit nie gewreek word nie, want hy is deel van sy eiendom.

22As manne met mekaar baklei en ’n swanger vrou so stamp dat haar kind afkom, maar sonder skade, moet hy ’n boete betaal volgens wat die man van die vrou van hom verwag en hy moet dit betaal volgens wat die regters besluit, 23maar as daar enige verdere skade is, dan moet jy as straf lewe vir lewe aanwys, 24oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, 25brandplek vir brandplek, wond vir wond, merk vir merk.

26As iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan en hy dit vernietig, moet hy hom vry laat weggaan vir sy oog. 27As hy die tand van sy slaaf of van sy slavin uitslaan, moet hy hom vry laat weggaan vir sy tand.

28As ’n bees ’n man of ’n vrou deurboor sodat hy sterf, moet die bees met klippe tot die dood gestenig word en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die eienaar van die bees sal vry wees, 29maar as die bees tevore al met sy horings gestoot het en sy eienaar gewaarsku is, maar dit nie ingeperk het nie en dit ’n man of ’n vrou doodmaak, moet die bees gestenig word en sy eienaar moet ook gedood word. 30As aan hom loskoopgeld opgelê word, moet hy vir die loskoping van sy lewe alles gee wat hom opgelê word. 31Of dit ’n seun deurboor het of ’n dogter, volgens hierdie selfde oordeel moet met hom gehandel word. 32As die bees ’n slaaf of slavin deurboor, moet hy aan hulle meester dertig sikkels silwer gee en die bees moet gestenig word.

33As iemand ’n put oopmaak, of as iemand ’n put grawe en dit nie toemaak nie en ’n bees of donkie val daarin, 34moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die dier geld gee en die dooie dier moet syne wees.

35As ’n man se bees die bees van ’n ander stoot sodat dit sterf, moet hulle die lewendige bees verkoop en die geld daarvan verdeel en die dooie een moet hulle ook verdeel, 36of as dit bekend was dat die bees tevore al stoterig was en sy baas dit nie ingeperk het nie, moet hy ten volle bees vir bees vergoed en die dooie een sal syne wees.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 20
Top of Page
Top of Page