Eksodus 1
Afrikaans PWL
1Hierdie is die name van die seuns van Yisra’el wat in Mitzrayim ingekom het; elkeen het met sy huisgesin saam met Ya’akov gekom: 2Re’uven, Shim’on, Levi en Y’hudah; 3Yissakhar, Z’vulun en Binyamin; 4Dan, Naftali, Gad en Asher. 5Al hierdie lewens wat uit Ya’akov se lendene voortgekom het, was sewentig siele, maar Yosef was reeds in Mitzrayim. 6Yosef, al sy broers en daardie hele geslag is dood. 7Die kinders van Yisra’el was vrugbaar en het uitermate vermeerder, hulle het buitengewoon baie geword en hulle het die land gevul.

8Daar het ’n nuwe koning oor Mitzrayim opgestaan wat Yosef nie geken het nie. 9Hy het aan sy mense gesê: “Let op, die volk van die seuns van Yisra’el is meer en kragtiger as ons. 10Kom, laat ons hulle met wysheid hanteer sodat hulle nie kan vermeerder en in die geval van oorlog, hulle ook by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land uit weggaan nie.” 11Hulle het daarom taakmeesters oor hulle aangestel om hulle te onderdruk met harde arbeid en hulle het die voorraadstede Pitom en Ra’amses vir Farao gebou. 12Hoe meer hulle hul onderdruk het, hoe meer het hulle vermenigvuldig en versprei en hulle was bang vir die seuns van Yisra’el. 13Die Mitzrayiete het die seuns van Yisra’el om hierdie rede hard laat werk 14en hulle lewe bitter gemaak deur swaar werk met klei, bakstene en deur allerhande werk in die landerye. Al dié werk wat hulle hul laat doen het was met hardheid.

15Die koning van Mitzrayim het met die Hebreeuse vroedvroue; die een se naam was Shifrah en die ander se naam Pu’ah, gepraat 16en gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue by ’n geboorte help en hulle op die geboortestoele sien: as dit ’n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogter is, moet sy lewe.” 17Die vroedvroue het God egter respekvol gevrees en nie gedoen soos die koning van Mitzrayim hulle beveel het nie, maar die seuns laat lewe. 18Toe laat die koning van Mitzrayim die vroedvroue roep en hy sê vir hulle: “Waarom het julle hierdie ding gedoen en die seuns laat lewe?” 19Die vroedvroue sê vir Farao: “Die Hebreeuse vroue is nie soos die Mitzrayiete nie, want hulle is sterk. Voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle reeds geboorte gegee.” 20God was tevrede met die vroedvroue en die volk het vermenigvuldig en uitermate baie geword. 21So was dit: omdat die vroedvroue God respekvol gevrees het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee. 22Farao het sy hele volk beveel en gesê: “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die rivier (Nyl) gooi, maar al die dogters moet julle laat lewe.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 50
Top of Page
Top of Page