Ester 6
Afrikaans PWL
1In daardie nag kon die koning nie slaap nie en hy het beveel dat die boek van opgetekende kronieke gebring moes word en hulle is voor die koning gelees 2en dit is opgeteken gevind dat Mordekhai vertel het van Bigtana en Teresh, twee lyfknegte van die koning, bewakers van die deure, wat gesoek het om die hand aan koning Agashverosh te slaan. 3Die koning het gevra: “Watter eer en waardigheid is op Mordekhai geplaas as gevolg hiervan? Toe het die koning se diensknegte en ministers geantwoord: “Daar is niks vir hom gedoen nie.” 4Toe sê die koning: “Wie is in die hof?” Nou, Haman het in die buitenste hof van die koninklike paleis ingekom om met die koning te praat om Mordekhai op te hang aan die galg wat hy vir hom voorberei het. 5Die koning se diensknegte antwoord hom: “Let op, Haman staan in die hof.” Die koning sê: “Laat hy inkom.” 6Haman het ingekom en die koning vra vir hom: “Wat moet met die man gedoen word aan wie die koning eer wil bewys?” Haman het in sy verstand gedink: “Aan wie sou die koning wou eer bewys meer as aan my?” 7Haman antwoord die koning: “Vir die man aan wie die koning eer wil bewys: 8die koninklike kleed moet gebring word wat die koning dra en die perd waarop die koning ry en die koninklike kroon moet op sy kop gesit word 9en hulle moet die kleed en die perd afgee in die hand van een van die edelste prinse van die koning en hy moet die man aantrek aan wie die koning eer wil bewys en hom laat ry op die perd en hom rondneem in die stad en voor hom uitroep: “So sal dit gedoen word aan die man aan wie die koning eer wil bewys.”

10Toe sê die koning vir Haman: “Maak gou, vat die kleed en die perd, soos jy gesê het en doen so aan Mordekhai, die Y’hudahiet, wat in die poort van die koning sit; laat niks onvervuld bly van alles wat jy gepraat het nie.” 11Toe het Haman die kleed en die perd gevat, vir Mordekhai aangetrek en hom op die perd deur die strate van die stad begelei en voor hom uitgeroep: “So sal gedoen word aan die man aan wie die koning eer wil bewys.”

12Mordekhai het weer na die poort van die koning gegaan, maar Haman het na sy huis gegaan, treurend en met sy kop bedek. 13Haman het aan sy vrou Zeresh alles vertel wat hom oorgekom het. Toe sê sy vriende en sy vrou Zeresh vir hom: “As Mordekhai uit die geslag van Y’hudah is, voor wie jy alreeds begin val het, sal jy nie teen hom staande kan bly nie, maar weer voor hom verneder word.”

14Terwyl hy nog met hulle gepraat het, het die koning se boodskappers gekom en gehaas om Haman na die feesmaal te bring wat Ester voorberei het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Esther 5
Top of Page
Top of Page