Efesiërs 3
Afrikaans PWL
1Om hierdie rede is ek, Sha’ul, vir júlle van ander nasies se ontwil, die gevangene van Die Gesalfde Een, Yeshua. 2As julle gehoor het van die toepassing van die onverdiende guns van God wat aan my gegee is tussen julle 3dat Hy aan my deur ’n openbaring die geheim, soos ek vroeër in kort geskryf het, geleer het; 4waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die geheim van Die Gesalfde Een kan verstaan, 5wat in ander generasies nie aan die kinders van die mens bekend gemaak is soos dit nou aan Sy afgesonderde afgevaardigdes en profete openbaar word deur die Gees nie: 6dat die ander nasies mede-erfgename is, lede van Sy liggaam en van die belofte wat in Hom gegee is deur die goeie boodskap. 7Dit waarvan ek ’n bedienaar geword het, volgens die geskenk van die onverdiende guns van God wat aan my gegee is, volgens die aksie van Sy wonderwerkende krag. 8Aan my, die geringste van al die afgesonderdes, is hierdie onverdiende guns gegee om onder die ander nasies die goeie boodskap van die rykdom van Die Gesalfde Een, wat nie ondersoek word nie, te verkondig 9en dat ek elke persoon die lig laat sien deur die toepassing van die geheim, wat verborge was vir die wêreld, in God, die Skepper van alles 10sodat die groot en omvattende wysheid van God, deur die heersers en outoriteite wat in die hemele is, deur die gemeente geken sal word. 11Dit wat Hy voorbereid gehad het vanaf ewigheid en uitgevoer het in Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester, 12in Wie ons vrymoedigheid en toegang het, in die versekering van Sy vertroue. 13As gevolg hiervan vra ek dat julle nie swak word deur my beproewinge ter wille van julle nie, want dit is julle eer en lof.

14Ek buig my knieë voor die Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, 15vanaf Wie elke vaderskap in die hemele en op die aarde sy karakter en outoriteit (naam) ontvang 16sodat Hy aan julle kan gee volgens die rykdom van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid om met wonderwerkende krag in Sy Gees versterk te word dat in julle innerlike mens, 17Die Gesalfde Een deur vertroue mag bly en dan in julle verstand, wil en emosie, in liefde, julle wortel en fondasie versterk 18sodat julle saam met al die afgesonderdes kan ontdek wat die breedte, lengte, diepte, hoogte 19en die grootheid van die kennis van die liefde van Die Gesalfde Een is en dit kan ken en gevul kan word met al die volheid van God.

20Aan Hom wat meer as kragtig is, om vir ons te doen ver bo alles wat ons vra of dink, volgens Sy wonderwerkende krag wat in ons werk, 21die eer, lof en aanbidding in Sy gemeente, in eenheid met Die Gesalfde Een, Yeshua, deur alle geslagte vir tydlose ewigheid! Dit is waar!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ephesians 2
Top of Page
Top of Page