Prediker 8
Afrikaans PWL
1Wie is soos die wyse man en wie ken die interpretasie van dinge? Die wysheid van ’n mens verhelder sy gesig, maar hy wat skaamteloos is, sal gehaat word.

2Gehoorsaam die koning se bevel en moenie haastig wees aangaande die eed aan God nie. 3Moenie haastig wees in Sy Teenwoordigheid nie en moenie vasstaan op ’n bose saak nie, want Hy doen wat Sy plesier is. 4Dit wat die koning sê is wet en wie kan vir hom vra: “Wat doen u?”

5Hy wat ’n opdrag uitvoer, sal geen boosheid ken nie en die verstand, wil en emosie van ’n wyse man onderskei beide tyd en oordeel, 6want vir elke doel is daar tyd en oordeel, want die ongelukkigheid van die mens druk swaar op hom, 7want daar is nie een wat weet wat was en wat hom kan vertel wat na hom sal wees nie. 8Daar is geen mens met heerskappy oor die wind om die wind terug te hou nie en ook het hy nie mag oor die dag van die dood nie; daar is ook geen vrystelling van plig in die dag van die geveg nie; net so sal boosheid ook nie dié bevry wat aan dit oorgegee is nie. 9Dit alles het ek gesien en my binneste gerig op elke werk wat onder die son gedoen word; daar is ’n tyd wanneer een man heers oor ’n ander om hom seer te maak.

10Ek het net so die bose gesien begrawe word, wat gekom en gegaan het vanaf die Afgesonderde Plek en hulle is vergete in die stad waar hulle soveel bose dinge gedoen het. Ook dit is waardeloosheid. 11Die begeerte van die seuns van die mens is vas in hulle om boosheid te doen omdat die wraak teen die boosdoeners nie gou uitgevoer word nie. 12Hy wat sondig, doen boosheid ’n honderd keer en sy dag word uitgerek, nogtans weet ek verseker dat dit goed sal gaan met die aanbidders van יהוה, wat respekvol vrees in Sy Teenwoordigheid, 13maar dit sal nie goed gaan met die bose nie en hy sal ook nie sy dae verleng soos ’n skaduwee nie omdat hy nie voor God vrees nie.

14Daar is ’n waardeloosheid wat op die aarde gedoen word; daar is regverdige manne met wie dit gebeur volgens die werke van die bose en daar is bose manne met wie dit gaan volgens die dade van die regverdiges; ek sê dat dit ook waardeloosheid is. 15Toe beveel ek vreugde aan, want daar is niks beters vir die mens onder die son as om te eet en te drink en hom te verheug nie, want dit sal hom in sy harde werk vergesel al die dae van sy lewe wat God hom gee onder die son;

16daarom het ek my binneste gerig om wysheid te ken en om die dinge te sien wat op die aarde gedoen word, want daar is hulle wie se oë geen slaap sien nie, beide dag of nag. 17Toe het ek al God se werke gesien en dat die mens nie kan uitvind van die werk wat onder die son gedoen word nie; al werk ’n man hard om dit uit te vind, tog sal hy dit nie vind nie. Hy wat dink dat hy wys is, selfs hy sal dit nie vind nie,

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ecclesiastes 7
Top of Page
Top of Page