Prediker 5
Afrikaans PWL
1Laat jou optrede gepas wees wanneer jy na die huis van God gaan en om nader te kom om te luister, te hoor en te doen, is beter as die offers van dwase, want hulle weet nie om te doen wat goed is nie. 2Wees nie haastig met jou mond nie en laat jou verstand, wil en emosie nie haastig wees om ’n woord te uiter voor God nie, want God is in die hemel en jy op die aarde; laat daarom jou woorde min wees, 3want ’n droom kom deur baie besig te wees en ’n dwaas se stem word geken deur ’n menigte woorde.

4Wanneer jy ’n gelofte aan God gedoen het, moenie uitstel om dit na te kom nie, want Hy het geen plesier in dwase nie, maar wat jou betref, betaal wat jy belowe het. 5Dit is baie beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en dit nie doen nie. 6Laat nie jou mond toe om jou vlees te laat sondig nie en sê ook nie voor God dat dit ’n fout was nie dat God nie kwaad sal wees oor jou stem en die werke van jou hande sal verwoes nie, 7want in die menigte van drome, waardelose dinge en menigte van woorde is valse aanbidding, maar jy moet God respekvol vrees.

8As jy die onderdrukking van die arme en gewelddadige verdraaiing van regverdige oordeel sien in ’n stad, verwonder jou nie oor die saak nie, want Hy wat hoër is as die hoogste hou dit dop en Hy wat hoër is, is oor hulle. 9Die rykdom van die aarde is vir almal; die koning self word gedien deur sy eie land te bewerk.

10Hy wat geld liefhet, sal nie bevredig word deur geld nie en hy wat rykdom liefhet, sal dit nie behou nie. Ook dit is waardeloos. 11As die besittings vermeerder, word hulle wat dit opeet ook meer en watter voordeel is daar vir die eienaars, behalwe om dit met sy oë te aanskou? 12Soet is die slaap van ’n werkende man, of hy min eet of baie, maar die oorvloed van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.

13Daar is ook ’n ander erge boosheid wat ek onder die son gesien het: rykdom wat deur sy eienaar gehou word tot sy eie nadeel 14en daardie rykdom gaan verlore in ’n bose transaksie en wanneer hy ’n seun verwek, is daar niks in sy hand nie. 15Soos hy uit sy moeder se baarmoeder uitgekom het, sal hy kaal na die aarde terugkeer om te gaan soos hy gekom het en sal niks van sy harde werk in sy hand saamdra nie 16en ook dit is ’n erge boosheid, want net soos hy gekom het, so sal hy gaan en watter voordeel het hy wat hard gewerk het, vir wind? 17Hy eet ook al sy dae in duisternis, in baie woede en toorn, in rou en in siekte.

18Dit is wat ek, die prediker, gesien het: dit is goed en toepaslik vir een om te eet en te drink en die goeie van al sy harde werk, waarvoor hy al die dae van sy lewe, wat יהוה hom gee onder die son, werk, te geniet, want dit is sy deel. 19יהוה het ook aan elke mens rykdom en skatte gegee en die vermoë om daarvan te eet, sy deel te vat en hom te verheug in sy harde werk; dit is die geskenk van God, 20want hy sal nie meer die dae van sy lewe onthou nie, want God sal hom besig hou met die vreugde van sy verstand, wil en emosie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ecclesiastes 4
Top of Page
Top of Page