Deuteronomium 7
Afrikaans PWL
1Wanneer יהוה, jou God, jou inbring in die land waarheen jy gaan, om dit te besit en Hy baie nasies voor jou uitgegooi het: die Hettiete, Girgashiete, Emoriete, Kena’aniete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete, sewe (7) nasies, groter en magtiger as jy 2en wanneer יהוה, jou God, hulle aan jou oorgegee het, sal jy hulle verslaan en hulle vernietig tot uitwissing; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle geen guns bewys nie 3en jy mag nie met hulle trou nie; jy mag nie jou dogter gee aan sy seun en nie sy dogter vat vir jou seun nie, 4want hulle sal jou seuns van My af laat wegdraai, om ander gode te dien en die woede van יהוה sal teen julle brand en jou vinnig vernietig, 5maar julle moet hulle so behandel: julle moet hulle altare omgooi, hulle pilare stukkend breek en hulle Astarte beelde omkap en hulle gekerfde beelde met vuur verbrand, 6want jy is ’n afgesonderde volk tot יהוה, jou God; יהוה, jou God, het jou vanuit al die volke wat op die aarde is, gekies om ’n volk vir Sy eie besit te wees.

7יהוה het nie Sy liefde op julle gesit of julle gekies omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die minste van al die volke, 8maar omdat יהוה julle liefhet en die eed gehou het wat Hy tot julle vaders gesweer het, het יהוה julle met ’n sterk hand uitgelei en julle bevry uit die huis van slawerny, uit die hand van Farao, die koning van Mitzrayim. 9Weet daarom dat יהוה, jou God, God is, die getroue Magtige God, wat Sy verbond en Sy onverdiende guns hou tot ’n duisendste geslag met dié wat Hom liefhet en Sy opdragte gehoorsaam, 10maar aan die wat Hom haat, betaal Hy dit terug in hulle gesig, om hulle te vernietig. Hy sal nie terughou teenoor dié wat Hom haat nie, Hy sal hom in sy gesig terugbetaal. 11Jy moet daarom die opdragte, die reëls en die wette wat ek jou vandag beveel, doen.

12Dan sal dit gebeur omdat jy hierdie wette gehoorsaam, hou en doen dat יהוה, jou God, Sy verbond en Sy onverdiende guns met jou sal hou wat Hy aan jou vaders gesweer het 13en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig; Hy sal ook die vrug van jou baarmoeder en die vrug van jou land seën, jou graan, jou nuwe wyn en jou olie, die aanteel van jou beeste en die vermeerdering van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders gesweer het om vir jou te gee. 14Jy sal meer geseënd wees as al die volke; daar sal tussen jou geen man of vrou steriel of onvrugbaar wees nie; nie onder jou of onder jou vee nie. 15יהוה sal elke siekte van jou af wegvat en jou nie aantas met enige van al die skadelike siektes van Mitzrayim wat jy geken het nie, maar sal dit laat kom op almal wat jou haat. 16Jy moet al die volke wat יהוה, jou God, aan jou oorgee, vernietig. Jou oog mag hulle nie jammer kry nie en jy mag nie hulle gode dien nie, want dit sal vir jou ’n valstrik wees.

17As jy in jou hart sou dink: ‘Hierdie nasies is groter as ek, hoe kan ek hulle onteien?’ 18Moenie vir hulle bang wees nie, maar jy moet onthou wat יהוה, jou God, aan Farao en die hele Mitzrayim gedoen het, 19die groot toetsinge wat jou oë gesien het, die tekens en die wonders en die magtige hand en die uitgestrekte arm waardeur יהוה, jou God, jou uitgebring het. So sal יהוה, jou God, aan al die volke doen waarvoor jy bang is. 20יהוה, jou God, sal verder ook die perdebye teen hulle stuur totdat hulle wat oorgebly het en wat vir jou wegkruip, sterf. 21Jy moenie vir hulle bang wees nie, want יהוה, jou God, die groot en gevreesde, Magtige God, is by jou. 22יהוה, jou God, sal hierdie nasies stukkie vir stukkie voor jou uit verjaag; jy sal nie in staat wees om hulle almal vinnig te vernietig nie, want die wilde diere sal te veel word vir jou, 23maar יהוה, jou God, sal hulle aan jou oorgee en sal hulle oorwin met groot verwarring totdat hulle uitgewis is. 24Hy sal ook hulle konings in jou hand oorgee en jy sal hulle naam onder die hemel laat verdwyn. Geen man sal teen jou kan staan totdat jy hulle vernietig het nie. 25Jy moet die gekerfde beelde van hulle gode met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou vat nie sodat jy nie daardeur verstrik raak nie, want dit is verwerplik vir יהוה, jou God. 26Jy mag ook geen verwerplike ding in jou huis inbring nie sodat jy nie saam met dit totaal vernietig word nie. Jy moet dit ten diepste verafsku en dit geheel en al haat, want dit is iets wat verban is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 6
Top of Page
Top of Page