Deuteronomium 5
Afrikaans PWL
1Moshe het die hele Yisra’el laat roep en vir hulle gesê: “Luister, Yisra’el, na die reëls en die wette wat ek vandag voor julle ore uitspreek sodat julle dit moet leer en dit sorgvuldig moet doen. 2יהוה, ons God, het by Horev met ons ’n verbond gesluit. 3יהוה het nie hierdie verbond met ons vaders gesluit nie, maar met ons, met almal van ons wat vandag hier lewe. 4יהוה het van oog tot oog op die berg, vanuit die vuur, met julle gepraat. 5In dié tyd het ek tussen יהוה en julle gestaan om aan julle die boodskap van יהוה bekend te maak, want julle was bang as gevolg van die vuur en het nie op die berg opgegaan nie. Hy het gesê:

6‘Ek is יהוה, jou God, wat jou uit die land van Mitzrayim, uit die huis van slawerny, uitgelei het.

7Jy mag geen ander gode in My Teenwoordigheid hê nie.

8Jy mag vir jou geen afgod of enige afbeelding maak van wat bo in die hemele is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. 9Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of hulle dien nie, want Ek, יהוה, jou God, is ’n jaloerse, Magtige God wat die oortredinge van die vaders die kinders laat beïnvloed tot by die derde en die vierde geslag van dié wat My haat, 10maar wat liefdevol omgee vir duisende; dié wat My liefhet en My opdragte uitvoer.

11Jy mag die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, jou God, nie valslik gebruik nie, want יהוה sal die een wat Sy Naam valslik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

12Onderhou die Shabbatdag, deur dit af te sonder soos יהוה, jou God, jou beveel het. 13Ses dae moet jy werk en al jou besigheid doen, 14maar die sewende dag is ’n Shabbat van יהוה, jou God; dan mag jy géén besigheid doen nie; nie jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou donkie of enige van jou beeste, of die besoeker wat by jou bly nie sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus saam met jou. 15Onthou dat jy in die land van Mitzrayim ’n slaaf was en dat יהוה, jou God, jou daarvandaan uitgelei het deur ’n magtige hand en ’n uitgestrekte arm; daarom het יהוה, jou God, jou beveel om die Shabbatdag te hou.

16Eer jou vader en jou moeder soos יהוה, jou God, jou beveel het sodat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat יהוה, jou God, aan jou gee.

17Jy mag nie moord pleeg nie.

18Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

19Jy mag nie steel nie.

20Jy mag nie vals getuienis teen jou naaste bring nie.

21Jy mag jou nie verlustig in jou naaste se vrou nie en jy mag nie jou naaste se huis begeer nie, nie sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of enige iets wat aan jou naaste behoort nie.’

22Hierdie woorde het יהוה tot julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die dik duisternis met ’n groot stem gepraat en Hy het niks verder bygevoeg nie. Hy het dit op twee kliptafels geskryf en dit vir my gegee. 23Toe julle die stem uit die duisternis hoor terwyl die berg met vuur brand, het julle na my toe gekom, al die hoofde van julle stamme en julle oudstes 24en gesê: ‘Let op, יהוה, ons Magtige God, het ons Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid en Sy Grootheid laat sien en ons het Sy stem uit die vuur gehoor. Vandag het ons gesien dat God met die mens praat en tog lewe hy nog. 25Waarom moet ons nou sterf? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van יהוה, ons God, nog langer hoor, sal ons sterf, 26want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor praat het soos ons en steeds lewe? 27Gaan ú nader en luister na alles wat יהוה, ons God, sal sê; sê u dan alles vir ons wat יהוה, ons God, vir u sal sê en ons sal luister en dit doen.’

28יהוה het die klank van julle woorde gehoor toe julle met my gepraat het en יהוה sê vir my: ‘Ek het die klank van die woorde van hierdie volk, wat hulle met jou gepraat het, gehoor; dit is alles goed wat hulle gesê het. 29Ag, as hulle so ’n wil, emosie en verstand in hulle gehad het om My respekvol te vrees en al My opdragte altyd te doen sodat dit met hulle en hul seuns vir ewig goed kan gaan! 30Gaan sê vir hulle: Gaan terug na julle tente toe, 31maar jy, bly hier by My staan sodat Ek aan jou al die opdragte, die reëls en die wette wat jy hulle moet leer, kan meedeel sodat hulle dit kan doen in die land wat Ek hulle gee, om te besit. 32Let op dat julle daarom doen net soos יהוה, julle God, julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie. 33Julle moet loop op al die paaie wat יהוה, julle God, julle beveel het sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle jul dae kan verleng in die land wat julle sal besit.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 4
Top of Page
Top of Page