Deuteronomium 19
Afrikaans PWL
1Wanneer יהוה, jou God, die nasies afsny wie se land יהוה, jou God, jou gee en jy hulle onteien het en in hulle stede en in hulle huise bly, 2moet jy vir jou drie stede opsy sit in jou land wat יהוה, jou God, jou gee om te besit. 3Jy moet vir jouself paaie voorberei en jou grondgebied wat יהוה, jou God, jou as besitting gee, in drie dele verdeel sodat elkeen wat manslag begaan het, daarheen kan vlug.

4Dit is die saak vir hom wat manslag begaan het, wat daarheen vlug sodat hy kan lewe: hy wat sy vriend sonder opset doodslaan terwyl hy hom in die verlede nie gehaat het nie; 5soos byvoorbeeld hy wat saam met sy vriend in die bos ingaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap en die yster glip van die steel af en tref sy naaste sodat hy sterf; hy moet na een van hierdie stede vlug om te bly lewe; 6anders agtervolg die bloedwreker hom wat manslag begaan het en haal hom in omdat die pad lank is en slaan hom dood terwyl sy emosie warm is terwyl hy die dood nie verdien het nie omdat hy hom van gister en eergister af nie gehaat het nie. 7Ek gee daarom aan jou bevel en sê: ‘Jy moet vir jou drie stede afsonder.’

8As יהוה, jou God, jou grondgebied vergroot, soos Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het en jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou vaders te gee, 9as jy versigtig al hierdie opdragte uitvoer wat ek jou vandag beveel om te doen, om יהוה, jou God, lief te hê en altyd op sy paaie te loop; dan moet jy vir jou nog drie stede byvoeg bo en behalwe hierdie drie 10sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat יהוה, jou God, jou as besitting gee en skuld vir bloedvergieting op jou kom nie,

11maar as daar ’n man is wat sy naaste haat en hom voorlê en teen hom opstaan en hom slaan sodat hy sterf en hy na een van hierdie stede vlug, 12dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee sodat hy kan sterf. 13Jou oog mag hom nie jammer kry nie, maar jy moet hom doodmaak en die skuld van onskuldige bloedvergieting uit Yisra’el verwyder dat dit met jou goed kan gaan.

14Jy mag nie jou naaste se landsgrense skuif wat deur die voorvaders getrek is, in jou erfenis wat jy sal erf in die land wat יהוה, jou God, jou gee om te besit nie.

15’n Enkel getuie mag nie teen iemand opstaan insake enige oortreding of enige sonde wat hy begaan het nie; deur die getuienis van twee of drie getuies sal ’n saak vasgestel word. 16As ’n kwaadwillige getuie teen iemand opstaan om hom te beskuldig dat hy verkeerd gedoen het, 17dan moet die twee manne wat die verskil het, gaan staan voor die Teenwoordigheid van יהוה, voor die priesters en die regters wat aangestel is in dié dae. 18Die regters moet deeglik ondersoek instel en as die getuie ’n valse getuie is en vals teen sy broer getuig het, 19dan moet julle met hom doen soos hy gedink het om met sy broer te doen; so sal jy die bose uit jou midde uitroei. 20Die ander sal hoor en bang wees en sal nooit weer so ’n boosheid onder julle doen nie. 21Jou oog mag nie jammer kry nie: lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 18
Top of Page
Top of Page