Deuteronomium 15
Afrikaans PWL
1Aan die einde van elke sewe jaar moet jy ’n kwytskelding van skuld laat plaasvind. 2Dit is hoe die kwytskelding plaasvind: elke skuldeiser moet dit wat hy aan sy naaste geleen het, kwytskeld; hy moet sy naaste en sy broer nie aanmaan nie, want dit is aangekondig as die kwytskelding van יהוה. 3Jy mag dit van ’n buitelander aanmaan, maar wat by jou broer is, moet jou hand kwytskeld. 4Nogtans sal daar niemand behoeftig onder julle wees nie, want יהוה sal jou ryklik seën in die land wat יהוה, jou God, jou as erfenis gee, om dit te besit. 5Slegs as jy gehoorsaam luister na die stem van יהוה, jou God, om al die opdragte wat ek jou vandag beveel versigtig te gehoorsaam, 6sal יהוה, jou God, jou seën soos Hy jou beloof het sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie leen nie en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.

7As daar by jou, een uit jou broers, ’n behoeftige is in een van jou dorpe, in jou land wat יהוה, jou God, jou gee, dan moet jy nie jou binneste verhard en jou hand toemaak vir jou behoeftige broer nie, 8maar jy moet jou hand vrylik oopmaak vir hom en aan hom genoegsaam leen vir sy behoefte, waarin hy ook al tekort kom. 9Wees versigtig dat daar in jou verstand, wil en emosie geen slegte gedagte is nie en sê: ‘Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby’ en met ’n bose oog na jou broer kyk (suinig wees) en hom niks gee nie; dan mag hy teen jou na יהוה uitroep en dit sal ’n sonde in jou wees. 10Jy moet gewilliglik aan hom gee en jou gedagtes moenie bedroef wees as jy aan hom gee nie, want ter wille hiervan sal יהוה, jou God, jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan, 11want die arme sal nie ophou om in die land te wees nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die arme en die behoeftige in jou land.

12As jou broer, ’n Hebreeuse man of ’n Hebreeuse vrou, aan jou verkoop word, moet hy jou ses jaar lank dien, maar in die sewende jaar moet jy hom vrymaak 13en wanneer jy hom vry laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande laat weggaan nie. 14Jy moet hom vrylik voorsien vanuit jou kleinvee, jou dorsvloer en jou wyn pers. Jy moet aan hom gee soos יהוה, jou God, jou geseën het. 15Jy moet onthou dat jy ’n slaaf in die land van Mitzrayim was en dat יהוה, jou God, jou losgekoop het; daarom beveel ek jou hierdie dinge vandag, 16As dit gebeur dat hy vir jou sê: ‘Ek wil nie van jou af weggaan nie,’ aangesien hy jou en jou huis liefhet omdat dit vir hom goed was by jou, 17dan moet jy ’n els neem en dit deur sy oor in die deur steek en hy sal jou slaaf wees vir ewig. Met jou slavin moet jy net so doen.

18Dit moenie moeilik in jou oë wees om hom vry te laat weggaan nie, want hy het jou ses jaar lank gedien teen dubbel die diens van ’n dagloner en יהוה, jou God, sal jou seën in alles wat jy doen.

19Al die eersgeborenes van die manlike geslag wat uit jou beeste en jou kleinvee voortgebring word, moet jy aan יהוה, jou God, afsonder; jy mag nie werk met die eersgeborene van jou beeste nie of die eersgeborene van jou kleinvee skeer nie. 20Jy en jou huis moet dit jaar vir jaar eet, op die plek wat יהוה sal kies, voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, 21maar as daar ’n liggaamsgebrek aan is, dit lam of blind is of enige lelike gebrek het, dan moet jy dit nie aan יהוה, jou God, offer nie. 22Jy moet dit binne jou poorte eet, soos die rooibok (gasel) en die takbok, die onrein en die rein persoon saam. 23Jy mag net nie die bloed eet nie; jy moet dit op die grond uitgooi soos water.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 14
Top of Page
Top of Page