Daniël 10
Afrikaans PWL
1In die derde jaar van Koresh, koning van Perse, is iets aan Dani’el, wat Belt’shatzar genoem is, geopenbaar en die woord is waar, maar die woord en die visioen was moeilik te onderskei en te verstaan.

2In daardie dae het ek, Dani’el, vir drie tydperke van sewe (weke) getreur. 3Ek het geen fyn kos geëet nie en geen vleis en wyn het in my mond gekom nie; ek het myself ook glad nie gesalf nie totdat drie weke verby was. 4Op die vier en twintigste dag van die eerste maand terwyl ek op die wal van die groot rivier, Giddekel (Tigris) was, 5het ek my oë opgelig en gekyk en let op: ’n sekere man in linne aangetrek, wie se heupe vasgebind is met lof, eer en majesteit. 6Sy voorkoms was vreemd en daar is niks soos hy nie en sy gesig was soos die verskyning van weerlig en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos die kleur van blink gevryfde koper en die klank van sy woorde soos die klank van baie weermagte. 7Ek, Dani’el, het alleen hierdie gesig gesien, want die manne wat saam met my was, het nie die visioen gesien nie, maar ’n groot vrees het oor hulle geval en hulle het gevlug as gevolg van die vrees; 8daarom is ek alleen gelaat en het hierdie groot visioen gesien en daar het geen krag in my oorgebly nie en my binneste het gebewe en daar was geen krag in my nie 9en toe ek die klank van sy woorde gehoor het, het ek op my gesig op die grond geval.

10Let op, ’n hand het my aangeraak en my op my knieë en handpalms laat staan 11en hy het vir my gesê: “Dani’el, geliefde man, verstaan die woorde wat ek met jou praat en staan regop, want ek is nou na jou gestuur.” Toe hy hierdie woorde met my gepraat het, het ek bewende opgestaan. 12Toe sê hy vir my: “Moenie bang wees nie, Dani’el, want van die eerste dag af dat jy jou verstand, wil en emosie daarop gesit het om te verstaan sodat jy in die Teenwoordigheid van jou God kan staan, is jou woorde gehoor en ek het gekom in antwoord op jou woorde. 13Die heerser van die koninkryk van Perse het my een en twintig dae lank teëgestaan, maar let op, Mikha’el, een van die leier prinse, het gekom om my te help en ek het daar aangebly teen die heerser van Perse. 14Nou het ek gekom om jou in te lig oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want steeds is die visioen vir die einde van die vasgestelde dae.”

15Toe hy hierdie woorde vir my gesê het, het ek my gesig na die grond gedraai en was sprakeloos. 16Let op, een wat soos ’n mens gelyk het, het my lippe aangeraak en ek het my mond oopgemaak en gepraat en aan hom wat voor my staan, gesê: “My meester, met die visioen het my binneste gebewe en ek was nie in staat om op te staan nie, 17want hoe kan die dienskneg van my meester met my meester praat? Let op, daar is geen krag in my nie en ook geen asem oor in my nie.”

18Toe het die een wat soos ’n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk 19en gesê: “Moenie bang wees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees dapper, wees onveranderlik sterk!” Toe hy met my gepraat het, was ek versterk en het gesê: “My meester kan maar praat, want ek is versterk.” 20Toe sê hy vir my: “Weet jy waarom ek na jou toe gekom het? Nou moet ek teruggaan om te veg met die prins van Perse en as ek weggegaan het, let op, die heerser van Griekeland kom, 21maar ek sal jou wys wat opgeteken is in die boekrol van waarheid en daar is niemand om my te help in hierdie dinge nie, behalwe julle prins, Mikha’el.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Daniel 9
Top of Page
Top of Page