Kolossense 2
Afrikaans PWL
1Ek wil hê dat julle moet weet watter groot stryd ek het vir julle en vir die wat in Laodikeia is en vir al die wat my gesig nie in die vlees gesien het nie 2sodat hulle verstand, wil en emosie vertroos en versterk mag word en hulle in liefde nader kan kom aan al die rykdom van die volle versekering en die insig van die kennis van die geheime van God-die-Vader en van Die Gesalfde Een, 3in Hom in Wie al die skatte van wysheid en kennis weggesteek is. 4Dit sê ek sodat niemand julle mag mislei met die oortuiging van woorde nie. 5Alhoewel ek ook liggaamlik afwesig is, is ek by julle in die gees en ek verbly my om julle goeie orde te sien en die standvastigheid van julle vertroue in Die Gesalfde Een.

6Net soos julle daarom Die Gesalfde Een, Yeshua, die Meester, ontvang het, leef so in eenheid met Hom, 7soos julle jul wortels versterk en julle opgebou word in Hom en bevestig word in vertroue. Mag julle met dankbaarheid oorvloedig wees in dit wat julle geleer het.

8Wees versigtig dat niemand julle beroof deur filosofieë en leë misleiding nie; volgens die leringe van mense en volgens die beginsels van die wêreld en nie volgens Die Gesalfde Een nie, 9want in Hom bly die hele volheid van wat God is gesamentlik 10en in Hom is julle ook volledig; Hy wat die Hoof is van elke heerser en outoriteit. 11In Hom is julle besny met ’n besnydenis wat nie met hande gedoen word nie, deur die liggaam van die sondige natuur af te lê deur die besnydenis van Die Gesalfde Een. 12Julle is in die doop saam met Hom begrawe en in dit is julle ook saam opgewek omdat julle vertroue het in die krag van God wat Hom uit die dood uit opgewek het. 13Hy het vir julle, wat dood was deur julle sonde en die onbesnedenheid van julle menslike natuur, lewe gegee saam met Hom en ons al ons sondes vergewe. 14Hy het die geskrewe aanklag teen ons, wat vir ons nadelig was, deur Sy Outoriteit, uitgevee en uit ons midde weggevat en dit aan Sy kruis vasgeslaan. 15Deur Sy liggaam af te lê, het Hy die heersers en outoriteite gestroop en hulle in die openbaar beskaam deur Sy wesenlike self.

16Laat niemand julle daarom oordeel oor eet of oor drink of oor die uitsondering van ’n fees of ’n Nuwemaanfees (Rosh-Hodesh) of Shabbatte nie 17omdat hierdie dinge skaduwees is van die dinge wat sou kom, naamlik die liggaam van Die Gesalfde Een. 18Laat niemand julle oordeel in nederigheid van gedagte nie, deur julle ondergeskik te stel aan die aanbidding van die engele waardeur hy dinge aflei wat hy nie sien nie en sonder oorsaak trots is deur sy gesindheid van die menslike natuur 19en nie vashou aan die Hoof, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en ledemate ondersteun en saamgebind word en groei met God se groei nie,

20want as julle saam met Die Gesalfde Een die beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom leef julle nog asof julle in die wêreld geoordeel word: 21moenie raak nie, moenie proe nie, moenie vashou nie? 22Dit is alles dinge wat vernietig moet word en die opdragte en leringe van mense is 23en van buite lyk of hulle die woorde van wysheid het, in die skyn van nederigheid en aanbidding van God en sonder die spaar van die liggaam; nie in dinge van eer nie, maar in die behoeftes van die liggaam.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Colossians 1
Top of Page
Top of Page