Amos 6
Afrikaans PWL
1Wee die gerustes in Tziyon en die wat veilig voel op die berg van Shomron, die vooraanstaandes van die voorstes van die nasies, na wie die huis van Yisra’el kom!

2Gaan oor na Kalneh en kyk, gaan vandaar na Hamat, die grote, gaan dan af na Gat van die F’lishtyne! Is hulle beter as hierdie koninkryke, of is hulle grondgebied groter as julle s’n?

3Julle wat wag op die dag van onheil en die Shabbat van boosheid laat nader kom;

4hulle wat op beddens van ivoor lê, hulleself oorgee aan plesiere op hulle rusbanke en die vetgemaakte lammers van die kleinvee en die kalwers uit die stal eet,

5wat sing by die klank van die harp, hulleself bekwaam beskou met musiekinstrumente soos Dawid,

6wat suiwer wyn drink en hulleself met die beste soorte olie salf, maar hulle is gevoelloos oor die vernietiging van Yosef;

7daarom sal hulle nou aan die voorpunt van die ballinge in ballingskap gaan en die vreugde sal van hulle heersers af weggevat word.

8יהוה-God het by Homself gesweer, יהוה-God van die leërmagte het verklaar: “Ek verafsku die arrogansie van Ya’akov en haat sy kastele; daarom sal Ek die stad en alles wat daarin is oorlewer.”

9Dit sal wees as daar tien man in een huis oorgebly het, hulle sal sterf, 10dan sal die een se oom, of sy begrafnis-ondernemer, hom oplig om sy lyk uit die huis uit te dra en aan die een wat in die heel binneste van die huis is, sê: “Is enige iemand anders by jou?” Daardie een sal antwoord: “Nie een nie.” Dan sal hy antwoord: “Bly stil, want die Naam van יהוה moenie genoem word nie,” 11want let op, יהוה gaan beveel dat die groot huis tot stukkies geslaan word en die klein huisie tot splinters.

12Kan perde op rotse hardloop, of ploeg ’n mens op hulle met osse? Tog het julle die regverdige oordeel in gif verander en die vrug van onpartydige opregtheid in wilde-als.

13Julle wat bly is oor nietigheid en sê: “Het ons nie deur ons eie krag horings verkry nie?”

14“Want let op, Ek gaan ’n nasie teen julle opwek, o huis van Yisra’el,” verklaar יהוהGod van die leërmagte, “en hulle sal julle teister vanaf die ingang na Hamat af tot by die spruit van die Vlakte (`Aravah).

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Amos 5
Top of Page
Top of Page