Handelinge 7
Afrikaans PWL
1Die hoofpriester vra vir hom of die dinge so is,

2maar hy sê: “Broers en vaders, luister! Die God van eer, lof en aanbidding het verskyn aan ons vader Avraham toe hy in `Aram Naharayim (tussen die riviere) was, voordat hy in Haran gewoon het, 3en vir hom gesê: ‘Trek uit jou land en uit die teenwoordigheid van die kinders van jou familie en kom na die land wat Ek jou sal wys.’ 4Toe het Avraham uitgetrek uit die land van die Kasdeërs en in Haran gaan woon en ná die dood van sy vader het Hy hom daarvandaan laat trek na hierdie land waarin julle nou bly 5en Hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie ’n voetspoor nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as erfenis te gee, toe hy nog geen seun gehad het nie. 6God het vir hom gesê dat sy nageslag vreemdelinge in ’n vreemde land sou wees en dat die mense hulle tot slawe sou maak en sou mishandel vir vier honderd jaar lank 7en “die nasie vir wie hulle slawe sal wees, sal Ek oordeel,” het God gesê “en daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien.” 8Hy het hom die verbond van die besnydenis gegee en hy het die vader van Yitz’gak geword en hom op die agtste dag besny en Yitz’gak het die vader van Ya’akov geword en Ya’akov van die twaalf vaders.

9Hulle, ons vaders, was jaloers op Yosef en het hom na Mitzrayim toe verkoop, maar God was met hom 10en het hom uit al sy moeilikhede verlos en hom onverdiende guns en wysheid gegee voor Farao, die koning van Mitzrayim en dié het hom aangestel as hoof administrateur oor Mitzrayim en oor sy hele huis.

11Daar het ’n hongersnood en groot benoudheid oor die hele Mitzrayim en Kena’an gekom en daar was niks om ons vaders te versadig nie, 12maar toe Ya’akov hoor dat daar graan in Mitzrayim was, het hy ons vaders eerste uitgestuur 13en die tweede keer het Yosef hom aan sy broers bekendgemaak en Yosef se familie het aan Farao bekend geword. 14Toe het Yosef gestuur en sy vader Ya’akov en sy hele familie laat roep, vyf en sewentig mense. 15Ya’akov het afgegaan na Mitzrayim en is daar dood, hy en ons vaders 16en hy is oorgeplaas na Sh’khem en begrawe in die graf wat Avraham met silwer gekoop het van die seuns van Hamor.

17Namate die tyd van die belofte wat God aan Avraham met ’n eed beloof het, nader gekom het, het die volksmense toegeneem en vermeerder in Mitzrayim 18totdat daar ’n ander koning opgestaan het oor Mitzrayim, wat nie vir Yosef geken het nie. 19Hy het listig met ons nasie te werk gegaan en ons vaders wreed behandel deur hulle te verplig om hul babas buite te gooi sodat hulle dit nie sou oorleef nie. 20Op die bepaalde tyd is Moshe, wat spesiaal was vir God, gebore. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader grootgemaak, 21maar toe hy buite gesit is deur sy moeder, het Farao se dogter hom gevind en hom as haar seun grootgemaak. 22Moshe is opgelei in al die wysheid van die Mitzrayiete en was voorbereid in redevoering en in dade 23en nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy gedagtes, wil en emosie opgekom om sy broers, die kinders van Yisra’el, te besoek. 24Toe hy sien dat een uit sy stam verkeerd behandel word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel is, gewreek deur die man van Mitzrayim dood te maak. 25Hy het gedink dat sy broers, die kinders van Yisra’el, sou verstaan dat God hulle deur sý hand bevryding sou gee, maar hulle het dit nie verstaan nie 26en ’n ander dag het hy by hulle aangekom terwyl hulle besig was om onderling te baklei en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: ‘Manne, julle is broers, waarom behandel julle mekaar verkeerd?’ 27Hy wat sy naaste verkeerd behandel het, het hom weggestamp en gesê: ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? 28Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Mitzrayiet doodgemaak het?’ 29Moshe het op hierdie woord gevlug en ’n vreemdeling geword in die land van Midyan, waar hy twee seuns gehad het.

30Nadat veertig jaar verloop het, het Die Engel van יהוה aan hom verskyn in die wildernis by die berg Sinai, in die vlamme van ’n brandende bos. 31Moshe het dit gesien en hom oor die gesig verwonder en toe hy nader gaan om dit te ondersoek, het die stem van יהוה vir hom gesê: 32אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die God van jou vaders, die God van Avraham, die God van Yitz’gak en die God van Ya’akov,’ maar Moshe het bang geword en nie gewaag om te kyk na die verskynsel nie. 33יהוהsê vir hom: ‘Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is afgesonderde grond. 34Ek het gekyk en die mishandeling van My volk wat in Mitzrayim is, gesien en hulle gekerm gehoor en afgekom om hulle te bevry en nou, kom hier, Ek sal jou na Mitzrayim toe stuur.’

35Hierdie Moshe wat hulle verwerp het deur te sê: ‘Wie het jou aangestel as ’n heerser en regter?’ hóm het God as heerser en bevryder gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die struik. 36Dit is hy wat hulle uitgelei en tekens, wonderwerke en magtige dade in Mitzrayim, die Rietsee en veertig jaar lank in die wildernis gedoen het. 37Dit is dié Moshe wat aan die kinders van Yisra’el gesê het: ‘יהוה, julle God, sal vir julle ’n profeet, wat net soos ek is, vanuit julle broers verwek; julle moet Hom gehoorsaam.’ 38Dit is hy wat in die byeenkoms in die wildernis saam met die boodskapper was, wat met hom op die berg Sinai gepraat het en saam met ons vaders was. Hy het die lewende Woorde van God ontvang om aan ons te gee. 39Ons vaders wou Hom nie gehoorsaam nie, maar hulle het hom verwerp en met hulle verstand, wil en emosie na Mitzrayim toe teruggedraai 40toe hulle vir Aharon gesê het: ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit sal gaan, want ons weet nie wat van hierdie Moshe, wat ons uit Mitzrayim uitgelei het, geword het nie.’ 41Hulle het in daardie dae ’n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld ’n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verheug, 42maar God het Hom omgedraai en hulle oorgegee om die sterre van die hemel te aanbid, soos geskrywe is in die boekrol van die profete: ‘Huis van Yisra’el, dit is nie vir My dat julle slagoffers en offers gebring het gedurende veertig jaar in die wildernis nie! 43Julle het die tent van Molek saamgevat en die ster van julle god Kiyun (Remfan), die beelde wat julle gemaak het, om te aanbid. Ek sal julle in ballingskap tot anderkant Bavel wegvoer.’

44Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die wildernis, net soos Hy, wat met Moshe gepraat het, hom beveel het om dit te maak volgens die bloudrukplan wat hy gesien het, 45wat deur ons vaders ontvang is en saam met Y’hoshua ingebring is in die land wat hulle in besit geneem het van die nasies, wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid, 46wat onverdiende guns gekry het voor God en gevra het om ’n blyplek vir die God van Ya’akov te voorsien. 47Shlomo het ’n huis vir Hom gebou, 48maar Ha’Elyon (die Allerhoogste) bly nie in mensgemaakte tempels nie, net soos die profeet sê:

49‘Die hemel is My troon en die aarde die voetstoel vir My voete. Waar is die huis wat julle vir My sal bou, sê יהוה, of waar is die plek van My rus?

50Het My hand nie al hierdie dinge gemaak nie?’

51Julle hardnekkiges en onbesnedenes van verstand, wil, emosie en ore, julle hou aan om altyd die Gees van afsondering teë te staan. Net soos julle vaders, so doen julle ook. 52Watter een van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Hulle het dié gedood wat vooraf die koms van die Onskuldige aangekondig het, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; 53julle wat die wet deur die bemiddeling van engele ontvang het en dit tog nie gehoorsaam het nie!”

54Toe hulle dit hoor, was hulle na verstand, wil en emosie woedend en het op die tande gekners oor hom, 55maar hy, vol van vertroue en die Gees van Afsondering, het aanhou kyk na die hemel en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van God gesien en Yeshua wat staan aan die regterhand van God 56en hy het gesê: “Let op, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” 57Hulle het egter met ’n harde stem geskree en hulle ore toegestop en soos een man op hom afgestorm. 58Hulle het hom gegryp en buitekant die stad gevat en hom gestenig 7 en die wat teen hom getuig het, het hulle klere neergesit by die voete van ’n jongman met die naam van Sha’ul. 59Hulle het Stefanos gestenig terwyl hy uitroep en sê: “Ons Meester, Yeshua, ontvang my gees!” 60Hy het op sy knieë neergeval en met ’n harde stem uitgeroep: “Ons Meester, hou nie hierdie sonde teen hulle nie!” en met dié woorde is hy dood.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 6
Top of Page
Top of Page