Handelinge 17
Afrikaans PWL
1Hulle het deur Amfipolis en Apollonia gereis en in Thessalonike gekom, waar ’n bymekaarkomplek van die Jode was. 2Volgens sy gewoonte het Sha’ul ingegaan en vir drie Shabbatte lank met hulle uit die Skrifte gepraat 3en dit uitgelê en gewys dat Die Gesalfde Een moes ly en uit die dood uit opstaan en gesê: “Hierdie Yeshua wat ek aan julle verkondig, Hy is Die Gesalfde Een.” 4Sommige van hulle is oortuig en het by Sha’ul en Sila aangesluit, asook ’n groot getal van die gelowige Grieke en nie min van die belangrike vrouens nie.

5Die Jode was jaloers en het bose manne vanuit die strate saamgevat, ’n skare mense bymekaargemaak en die stad in oproer gebring. Hulle het die huis van Yasoon aangeval en probeer om hulle uit te bring van daar en aan die mense oor te gee. 6Toe hulle hul nie daar kry nie, het hulle Yasoon en die broers wat daar was na die goewerneur gesleep en geskree: “Die mense wat die wêreld in opstand bring, het ook hierheen gekom 7en Yasoon het hulle ontvang en hulle oortree almal die bepalings van die keiser en sê dat daar ’n ander Koning is, naamlik Yeshua.” 8Die goewerneur en al die mense was verontrus toe hulle dit gehoor het 9en hulle het borg van Yasoon en die ander ontvang en hulle losgelaat.

10Die broers het dadelik, toe dit nag word, vir beide Sha’ul en Sila na Beroia weggestuur en toe hulle daar kom, het hulle in die bymekaarkomplek van die Jode ingegaan. 11Hierdie Jode was meer edel as dié in Thessalonike; hulle het elke dag die boodskap met gretigheid ontvang terwyl hulle uit die Skrifte onderskei het om te sien of hierdie dinge so was. 12Baie van hulle het vertrou, asook baie van die Griekse manne en van die belangrike Griekse vroue! 13Toe die Jode van Thessalonike gehoor het dat die boodskap van God ook in Beroia deur Sha’ul verkondig is, het hulle gekom en nie opgehou om die mense daar op te sweep en te verontrus nie. 14Die broers het toe dadelik vir Sha’ul weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Sila en Timotheos het daar gebly. 15Hulle wat saam met Sha’ul gegaan het, het saam met hom tot by Athenai gegaan en nadat hulle ’n brief van hom ontvang het aan Sila en Timotheos om so gou as moontlik na hom toe te kom, het hulle vertrek.

16Terwyl Sha’ul in Athenai vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die hele stad vol afgode was. 17Hy het elke dag in die bymekaarkomplek met die Jode en met die godsdienstige mense gepraat en op die mark met dié wat hom ontmoet. 18Sommige van die volgelinge van Epikourios en die Stoikos filosowe, het met hom gedebatteer. Sommige het gesê: “Wat probeer hierdie storiemaker tog sê?” Ander weer: “Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode” omdat hy aan hulle die goeie boodskap van Yeshua en Sy opstanding verkondig het. 19Hulle het hom gevat na die plek van oordeel, wat genoem word: Arios-Pagos (Rots van Ares - Marsheuwel) en gesê: “Ons wil weet wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? 20Jy het vreemde woorde in ons gehoor gesaai en ons wil weet wat hierdie dinge is.” 21Al die Atheners en die vreemdelinge wat by hulle gewoon het, het al hulle vrye tyd gebruik om te praat of te luister na iets nuuts.

22Sha’ul het opgestaan op die Rots van Ares en gesê: “Manne van Athenai, ek sien dat julle in elke opsig uitblink in die aanbidding van demone. 23Terwyl ek geloop het en die plekke van julle aanbidding gesien het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: ‘Aan ’n onbekende god’. Hom wat julle dan aanbid en nie ken nie; Hom verkondig ek aan julle. 24Die God wat die heelal gemaak het en alles wat daarin is, Hy is Meester van die hemele en van die aarde; Hy woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie; 25ook word Hy nie deur mensehande gedien en het Hy niks nodig nie omdat Hy self aan almal gees en lewe gee. 26Hy het uit een bloed die hele mensdom op die aarde gemaak, om oor die hele aarde te bly terwyl Hy vooraf bepaalde tye in Sy opdragte uitgestip en grense vir hulle blyplek vasgestel het 27sodat hulle God kon soek en navraag doen en Hom deur Sy skepping kon vind, want Hy is nie ver van elkeen van ons af nie, 28want deur Hom het ons lewe, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle wyses ook gesê het: ‘Ons is van Sy nageslag.’ 29As ons dan die nageslag van God is, kan ons mos nie dink dat God aan goud, silwer en steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. 30God het die tye van misleiding verban en beveel alle mense nou dat elkeen op elke plek moet erken en bely en wegdraai van die sonde na God toe 31omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in onpartydige opregtheid sal oordeel deur die Man wat Hy aangestel het en Hy het Sy vertrouenswaardigheid aan almal bewys, deur Hom uit die dood uit te laat opstaan.”

32Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het sommige begin spot en ander het gesê: “Ons sal u op ’n ander tyd daaroor hoor.” 33So het Sha’ul van hulle af weggegaan, 34maar sommige manne het by hom aangesluit en vertrou, onder wie ook Dionusios, die Aresraadslid, ’n vrou met die naam van Damaris en ander saam met hulle.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 16
Top of Page
Top of Page