Handelinge 11
Afrikaans PWL
1Die Afgevaardigdes en die broers wat in Y’hudah was, het gehoor dat die ander nasies ook die boodskap van God aanvaar het 2en toe Shim’on opgaan na Yerushalayim, het die wat uit ‘die besnydenis groep’ was, hom teëgestaan 3en gesê: “Jy het in die teenwoordigheid van onbesnede manne ingegaan en saam met hulle geëet.” 4Shim’on het tussenbeide getree en vir hulle gesê: 5“Toe ek in die stad Yafo in gebed was, het ek in ’n visioen ’n voorwerp, soos ’n groot laken, uit die hemel sien neerdaal, wat aan die vier hoeke uit die hemel afgesak het en dit het tot by my gekom. 6Ek het daarna gekyk en diere daarin gesien; viervoetige diere van die aarde, kruipende diere en die voëls van die hemel 7en ek het ’n stem vir my hoor sê: ‘Shim’on, staan op en eet!’ 8Ek het geantwoord: ‘Nooit nie, my Meester, want ek het nog nooit iets vuils of onrein geëet nie.’ 9Die stem het weer uit die hemel geantwoord: ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie vuil ag nie.’ 10Dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel in 11en dadelik sien ek drie manne, wat van Kaisareia af na my toe gestuur is, voor die ingang staan waar ek gebly het. 12Die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. Hierdie ses broers het ook saam met my gegaan en ons het in die man se huis ingegaan 13en hy het aan ons verduidelik hoe die boodskapper in sy huis verskyn en vir hom gesê het: ‘Stuur manne na Yafo en laat vir Shim’on haal, wat ook Kefa genoem word, 14wat vir jou woorde sal bring waardeur jy en jou hele huis lewe sal ontvang.’ 15Terwyl ek daar besig was om te praat, het die Gees van Afsondering op hulle gekom net soos in die begin op ons 16en ek is herinner aan die woord van die Meester, dat Hy gesê het: ‘Yoganan het met water gedoop, maar julle sal met die Gees van Afsondering gedoop word.’ 17As God daarom aan hulle, wat in die Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, vertrou het, dieselfde geskenk gegee het soos aan ons, wie was ek dan, dat ek God kon keer?” 18Toe hulle dit hoor, was hulle stil en het eer, lof en aanbidding aan God gebring en gesê: “Miskien het God ook aan die ander nasies die erkenning, belydenis en wegdraai van sonde na God toe, tot die lewe, gegee.”

19Die wat verstrooi was, deur die vervolging wat na Stefanos ontstaan het, het Foinike bereik, asook die streek van Kupros en Antiogeia, sonder om aan iemand die boodskap te bring, behalwe tot die Jode alleen, 20maar daar was sommige van hulle, manne van Kupros en Kurene, wat in Antiogeia gekom het en met die Grieke gepraat het en aangaande ons Meester Yeshua verkondig het 21en die hand van יהוה was met hulle en ’n groot getal het vertrou en het omgedraai na יהוה toe. 22Toe die boodskap hiervan die gemeente, wat in Yerushalayim was, se ore bereik, het hulle Bar-Nabba afgestuur na Antiogeia. 23Toe hy daar kom en die onverdiende guns van God sien, was hy verheug en het almal aangemoedig om met hulle hele verstand, wil en emosie aan ons Meester vas te hou, 24want hy was ’n goeie man en vol van die Gees van Afsondering en vertroue en baie mense is by ons Meester bygevoeg. 25Hy het na Tarsus vertrek om Sha’ul te soek 26en toe hy hom kry, het hy hom saam met hom na Antiogeia gebring en hulle het ’n hele jaar lank as een saam in die gemeente bymekaargekom en baie mense geleer en die studentevolgelinge is in Antiogeia vir die eerste keer ‘volgelinge van Die Gesalfde Een’ genoem.

27In dié dae het daar profete van Yerushalayim na Antiogeia afgekom 28en een van hulle met die naam van Agav het opgestaan en deur die Gees te kenne gegee dat daar ’n groot hongersnood oor die hele land sou kom, wat ook gebeur het onder keiser Klaudios. 29Die studentevolgelinge het besluit dat elkeen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broers wat in Y’hudah bly, 30wat hulle deur die hande van Bar-Nabba en Sha’ul, aan die oudstes gestuur het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 10
Top of Page
Top of Page