2 Timotheus 4
Afrikaans PWL
1Ek beveel jou, voor God en ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een; Hy wat die lewende en dié wat dood is, gaan oordeel by die openbaring van Sy Koninkryk: 2verkondig die boodskap; staan ywerig daarop, tydig en ontydig; berispe, spreek aan met baie aanhoudende geduld en lering, 3want daar kom ’n tyd dat hulle die ware leer nie sal gehoorsaam nie, maar leermeesters bymekaarmaak volgens hulle eie begeertes, wat hulle gehoor kan streel 4en hulle sal hulle ore van die waarheid af wegdraai en na fabels toe draai. 5Jy egter, wees waaksaam in alles. Verdra booshede; doen die werk van ’n verkondiger van die goeie boodskap en vervul jou bediening,

6want ek word daarom as ’n offer geoffer en die tyd van bevryding het aangebreek. 7Ek het die goeie geveg baklei, my resies voltooi en my vertroue behou. 8Van nou af is daar vir my opsy gesit die kroon van onpartydige opregtheid waarmee my Meester my sal beloon op die dag wat Hy die regverdige sal beoordeel en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat Sy openbaring liefgehad het.

9Doen moeite om gou na my toe te kom, 10want Demas het my verlaat, uit liefde vir die huidige wêreld en het weggegaan na Thessalonike; Kreskes na Galatia en Titos na Dalmatia. 11Slegs Luka is by my. Vat vir Markos en bring hom saam met jou, want hy is vir my geskik vir die bediening. 12Tugikos het ek na Efesos gestuur. 13As jy kom, moet jy die boektas bring wat ek by Karpos in Troas gelos het en die boekrolle, veral dié rolle van perkament. 14Alexander, die kopersmid, het my groot boosheid aangedoen. Mag ons Meester hom beloon volgens sy dade! 15Wees jy ook versigtig vir hom, want hy is baie arrogant teenoor ons boodskappe.

16By my eerste verdediging het niemand my ondersteun nie, maar almal het my verlaat. Mag dit nie teen hulle bereken word nie! 17My Meester het my egter ondersteun en my in staat gestel sodat deur my die verkondiging heeltemal voltooi kan word en al die ander nasies dit kan hoor, dat ek uit die bek van die leeu bevry is 18en my Meester sal my bevry van elke bose daad en sal aan my Lewe gee in Sy Koninkryk, wat in die hemel is, want tot Hom is die eer, lof en aanbidding vir tydlose ewigheid! Dit is waar.

19Groet Priskilla en Akulas en die huis van Onesiforos. 20Erastos het in Korinthos gebly. Trofimos het ek siek in Miletos gelos. 21Doen moeite om voor die winter te kom. Eubulos, Pudes, Linos, Klaudia en al die broers groet jou.

22Ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, is met jou gees! Onverdiende guns bly by jou! Dit is waar.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Timothy 3
Top of Page
Top of Page