2 Samuel 17
Afrikaans PWL
1Verder het Agitofel vir Avshalom gesê: “Laat my asseblief twaalf duisend man kies sodat ek kan opstaan en Dawid vannag agtervolg. 2Ek sal op hom afkom terwyl hy moeg en uitgeput is en hom verskrik sodat al die mense vlug wat by hom is. Dan sal ek slegs die koning neerslaan 3en ek sal die hele volk na u toe terugbring. Die terugkeer van almal hang af van die man wat u soek; die hele volk sal tevrede wees.” 4Die plan was goed in die oë van Avshalom en al die oudstes van Yisra’el.

5Toe het Avshalom gesê: “Roep nou ook vir Hushai, die Arkiet en laat ons ook hoor wat hy te sê het.” 6Toe Hushai by Avshalom gekom het, het Avshalom vir hom gesê: “So het Agitofel gepraat. Sal ons sy plan uitvoer? So nie, praat jy dan.” 7Hushai sê vir Avshalom: “Die advies wat Agitofel hierdie keer gegee het, is nie goed nie.” 8Verder het Hushai gesê: “U ken u vader en sy manne dat hulle magtige manne is en verbete, soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is in die veld; ook is u vader ’n deskundige in oorlogvoering en hy sal nie die nag by die mense deurbring nie. 9Let op, hy het homself versteek in een van die grotte of in ’n ander plek en dit sal wees dat, as hy hulle oorval by die eerste aanval, wie ook al dit hoor sal sê: ‘Daar was ’n slagting onder die manne wat Avshalom volg!’ 10Selfs die een wat dapper is, wie se hart ’n leeu se hart is, sal heeltemal moed verloor, want die hele Yisra’el weet dat u vader ’n magtige man is en dat die manne by hom dapper is, 11maar ek adviseer dat die hele Yisra’el, van Dan tot by Be’er-Sh’va, so oorvloedig soos die sand wat aan die seestrand is, sekerlik by u bymekaargebring word en dat u persoonlik in die geveg tree. 12So sal ons op hom afkom in een van die plekke waar hy hom bevind en ons sal hom oorval soos die dou op die aarde val en van hom en van al die manne wat by hom is, sal selfs nie een oorbly nie. 13As hy in ’n stad terugtrek, moet die hele Yisra’el toue na daardie stad toe bring en ons sal dit in die vallei in sleep totdat daar selfs nie ’n klein klippie te vinde is nie.” 14Toe sê Avshalom en al die manne van Yisra’el: “Die advies van Hushai, die Arkiet, is beter as die advies van Agitofel,” want יהוה het beskik om die goeie advies van Agitofel te verydel sodat יהוה katastrofe oor Avshalom kon bring.

15Toe sê Hushai vir Tzadok en Avyatar, die priesters: “Dit is wat Agitofel Avshalom en die oudstes van Yisra’el geadviseer het, maar dít het ek geadviseer. 16Nou, daarom, stuur gou en laat Dawid weet: “Moenie oornag by die driwwe van die wildernis nie, maar gaan sekerlik oor; anders sal die koning en al die mense wat by hom is, vernietig word.” 17Y’honatan en Agima’atz het by `Ein-Rogel gebly en ’n diensmeisie sou gaan om hulle te vertel en hulle moes dan gaan en dit aan koning Dawid vertel, want hulle kon nie gesien word dat hulle die stad binnegaan nie. 18’n Jongman het hulle egter gesien en vir Avshalom vertel; hulle twee het haastig vertrek en by die huis van ’n man in Bagurim gekom wat ’n put in sy binnehof gehad het en hulle het daarin afgegaan. 19Die vrou het ’n bedekking gevat en dit bo-oor die put se opening uitgesprei en graan daarop gestrooi sodat niks sigbaar was nie. 20Toe kom Avshalom se diensknegte by die vrou by die huis en vra: “Waar is Agima’atz en Y’honatan?” Die vrou sê vir hulle: “Hulle het die stroompie water oorgegaan.” Toe hulle gesoek en niks gekry het nie, het hulle na Yerushalayim teruggegaan.

21Dit het gebeur nadat hulle weggegaan het dat hulle uit die put uit opgekom en gegaan en aan koning Dawid berig gebring het en hulle het vir Dawid gesê: “Staan op en trek gou deur die water, want so het Agitofel teen julle advies gegee.” 22Toe het Dawid en al die mense wat by hom was, opgestaan en die Yarden oorgesteek en teen oggendlig het selfs nie een oorgebly wat nie die Yarden oorgesteek het nie.

23Toe Agitofel sien dat sy advies nie gevolg is nie, het hy sy donkie opgesaal, opgestaan en na sy huis, na sy stad, gegaan en sy huis in orde gekry en homself verwurg; so is hy dood en is begrawe in die graf van sy vader.

24Toe het Dawid in Maganayim aangekom en Avshalom het die Yarden oorgesteek, hy en al die manne van Yisra’el saam met hom. 25Avshalom het `Amasa in Yo’av se plek oor die leër aangestel. `Amasa was die seun van ’n man met die naam van Yitra, die Yisra’eliet wat ingegaan het by Avigayil, die dogter van Nagash, suster van Tz’ruyah, Yo’av se moeder. 26Yisra’el en Avshalom het gekamp in die land van Gil’ad.

27Toe Dawid in Maganayim kom, bring Shovi, die seun van Nagash uit Rabbah, uit die seuns van `Ammon, Magir, die seun van `Ammi’el, uit Lo-D’var en Barzillai, die Gil’adiet, uit Roglim, 28beddens, skottels, erdegoed, koring, gars, meel, gebraaide graan, bone, lensies, gebraaide sade, 29heuning, dikmelk, kleinvee en kaas van beesmelk na Dawid en die mense wat by hom was, om te eet, want hulle het gesê: “Die mense is honger, moeg en dors in die wildernis.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Samuel 16
Top of Page
Top of Page