2 Samuel 11
Afrikaans PWL
1Toe het dit in die lente, wanneer die konings uittrek, gebeur dat Dawid vir Yo’av, sy diensknegte saam met hom en die hele Yisra’el uitstuur en hulle het die seuns van `Ammon vernietig en Rabbah beleër, maar Dawid het in Yerushalayim gebly.

2Met sonsondergang het Dawid van sy bed af opgestaan en op die dak van die paleis rondgeloop en van die dak af het hy ’n vrou gesien wat besig was om te bad en die vrou was baie mooi in voorkoms. 3Dawid het gestuur en navraag gedoen na die vrou en een het gesê: “Is dit nie BatSh’va, die dogter van Eli’am, die vrou van Uriyah, die Hittiet, nie? 4Dawid het boodskappers gestuur en haar laat haal en toe sy by hom kom, het hy by haar gelê en nadat sy haar van haar onreinheid gereinig het, het sy teruggekeer na haar huis. 5Die vrou het swanger geword, gestuur en Dawid vertel en gesê: “Ek is swanger.”

6Toe het Dawid na Yo’av gestuur: “Stuur Uriyah, die Hittiet, na my toe.” Yo’av het vir Uriyah na Dawid toe gestuur. 7Toe Uriyah by hom kom, vra Dawid of dit goed gaan met Yo’av, die manskappe en die stand van die oorlog. 8Toe sê Dawid vir Uriyah: “Gaan af na jou huis toe en was jou voete.” Uriyah het uit die paleis uitgegaan en ’n geskenk van die koning is agter hom aan gestuur. 9Uriyah het egter by die deur van die paleis geslaap saam met al die diensknegte van sy meester en nie na sy huis afgegaan nie. 10Toe het hulle Dawid vertel en gesê: “Uriyah het nie na sy huis afgegaan nie.” Dawid vra toe vir Uriyah: “Kom jy nie van ’n reis af nie? Waarom gaan jy nie af na jou huis toe nie?” 11Uriyah sê vir Dawid: “Die ark, Yisra’el en Y’hudah bly in tydelike skuilings en my meester Yo’av en die diensknegte van my meester kamp in die oop veld. Sou ek dan na my huis toe gaan om te eet en te drink en by my vrou te lê? So waar as u leef en lewe in u is, ek sal dit nie doen nie!” 12Dawid sê vir Uriyah: “Bly vandag ook hier en môre sal ek jou laat gaan.” Uriyah het daardie dag en die volgende in Yerushalayim gebly. 13Dawid het hom geroep en hy het voor hom geëet en gedrink en hy het hom dronk gemaak en met sonsondergang het hy uitgegaan om op sy slaapplek by die diensknegte van sy meester te gaan slaap, maar hy het nie afgegaan na sy huis toe nie.

14In die oggend skryf Dawid ’n brief aan Yo’av en stuur dit saam met Uriyah. 15Hy het in die brief geskryf en gesê: “Sit Uriyah op die voorpunt van die hewigste geveg en onttrek van hom af sodat hy neergeslaan kan word en sterf.” 16So was dit dat terwyl Yo’av die stad verken, hy Uriyah op ’n plek sit waar hy geweet het daar dapper manne is. 17Die manne van die stad het uitgegaan en teen Yo’av geveg en sommige van die manne, van die diensknegte van Dawid, het geval en Uriyah, die Hittiet, het ook gesterf. 18Toe stuur Yo’av om aan Dawid die hele verloop van die geveg te rapporteer. 19Hy het die boodskapper beveel en gesê: “Wanneer jy klaar die hele verloop van die geveg aan die koning vertel het 20en dit gebeur dat die woede van die koning opkom en hy vir jou sê: ‘Waarom het julle so naby die stad gegaan om te veg? Het julle dan nie geweet dat hulle bo van die muur af sou skiet nie? 21Wie het Avimelekh, die seun van Yerubbeshet, verslaan? Het ’n vrou nie ’n boonste meulsteen van bo van die muur af op hom gegooi sodat hy in Tevetz gesterf het nie? Waarom het julle so naby die muur gekom?’ Dan moet jy sê: ‘U dienskneg Uriyah, die Hittiet, is ook dood!’”

22Die boodskapper het gegaan en gekom en aan Dawid alles rapporteer wat Yo’av vir hom gestuur het om te vertel. 23Die boodskapper het vir Dawid gesê: “Die manne was vir ons te sterk en het teen ons uitgekom in die veld, maar ons het hulle teruggedruk tot by die ingang van die poort. 24Meer nog, die boogskutters het bo van die muur af op u diensknegte geskiet; sommige van die koning se diensknegte is dood en u dienskneg, Uriyah, die Hittiet, is ook dood.” 25Toe het Dawid vir die boodskapper gesê: “So moet jy vir Yo’av sê: ‘Moenie dat hierdie saak jou ontevrede stel nie, want die swaard verteer die een sowel as die ander; maak jou geveg teen die stad onveranderlik sterker en verwoes dit.’ So moet jy hom bemoedig.”

26Toe die vrou van Uriyah hoor dat Uriyah, haar man, dood is, het sy oor haar man gerou. 27Toe die routyd verby was, het Dawid gestuur en haar na sy huis toe gebring en sy het sy vrou geword. Toe het sy vir hom geboorte gegee aan ’n seun, maar die ding wat Dawid gedoen het, was boos in die oë van יהוה.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Samuel 10
Top of Page
Top of Page