2 Samuel 1
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur ná die dood van Sha’ul, toe Dawid terug was nadat die `Amalekiete verslaan is, dat Dawid twee dae in Ziklag gebly het. 2Let op, op die derde dag kom ’n man uit Sha’ul se kamp, met geskeurde klere en stof op sy kop. Dit het gebeur dat, toe hy by Dawid kom, hy op die grond neerval en op sy gesig gaan lê. 3Toe vra Dawid vir hom: “Van waar af kom jy? Hy antwoord hom: “Ek het ontsnap uit die kamp van Yisra’el.” 4Dawid sê vir hom: “Hoe het dit gegaan? Vertel my asseblief.” Hy antwoord: “Die manne het van die geveg af gevlug en baie van die manne het geval en is dood en Sha’ul en sy seun Y’honatan is ook dood.” 5Dawid vra die jongman wat vir hom die boodskap gebring het: “Hoe weet jy dat Sha’ul en sy seun Y’honatan dood is?” 6Die jongman wat vir hom die boodskap gebring het, antwoord: “Ek was toevallig op die berg Gilboa en let op, Sha’ul het op sy spies geleun en die strydwaens en perderuiters was op hom. 7Toe hy omkyk, het hy my gesien en na my geroep.”Ek het gesê: “Hier is ek.” 8Hy het vir my gevra: “Wie is jy?” Ek het hom geantwoord: “Ek is ’n `Amalekiet.” 9Toe sê hy vir my: ‘Staan asseblief langs my en maak my dood, want ’n beangstheid het my beetgepak omdat my lewe nog in my talm.’ 10Ek het langs hom gaan staan en hom doodgemaak, want ek het geweet dat hy nie ná sy val sou kon leef nie. Ek het die kroon wat op sy kop was en die armband wat om sy arm was, gevat en dit hier na my meester toe gebring.”

11Toe gryp Dawid sy klere en skeur dit en so ook al die manne wat by hom was. 12Hulle het tot die aand toe oor Sha’ul en oor sy seun Y’honatan en vir die volk van יהוה en vir die huis van Yisra’el gerou, gehuil en gevas omdat hulle deur die swaard geval het. 13Dawid vra vir die jongman wat hom vertel het: “Waar kom jy vandaan?” Hy antwoord: “Ek is die seun van ’n vreemdeling, ’n `Amalekiet.” 14Toe sê Dawid vir hom: “Hoe is dit dat jy nie bang was om jou hand uit te steek om die gesalfde van יהוה dood te maak nie?” 15Dawid roep een van die jongmanne en sê: “Gaan, slaan hom neer!” Hy het hom neergeslaan en hy is dood. 16Dawid het vir hom gesê: “Jou bloed is op jou kop, want jou mond het teen jou getuig omdat jy sê: “Ek het die gesalfde van יהוה doodgemaak.”

17Toe het Dawid hierdie klaaglied geneurie oor Sha’ul en sy seun Y’honatan 18en hy het beveel dat ‘die Lied van die Boog’ vir die seuns van Y’hudah geleer moet word; let op, dit is geskryf in die Boek van Yashar.

19Jou eer en lof, o Yisra’el, lê dood op jou hoë plekke. Hoe het die helde geval!

20Moenie daarvan praat in Gat nie; moet dit nie verkondig op die strate van Ashkelon nie, anders sal die dogters van die F’lishtyne hulle verheug, die dogters van die onbesnedenes sal juig!

21Berge van Gilboa, mag daar op julle geen dou, geen reën en geen velde van offergawes wees nie, want daar is die skild van die magtiges beswadder, die skild van Sha’ul nie met olie gesalf nie!

22Vanaf die bloed van die gesneuweldes, vanaf die vet van die magtiges het die boog van Y’honatan nie teruggedraai nie en die swaard van Sha’ul het nie leeg teruggekeer nie.

23Sha’ul en Y’honatan, geliefdes en aangenaam in hulle lewe en in hulle dood is hulle nie geskei nie. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus.

24Dogters van Yisra’el, huil oor Sha’ul wat julle weelderig met skarlaken beklee het, wat goue versiersels op julle klere gesit het.

25Hoe het die helde geval te midde van die geveg! Y’honatan lê verslaan op jou hoë plekke.

26Ek is ontsteld oor jou, my broer Y’honatan! Jy was baie aangenaam vir my; jou liefde vir my was wonderliker as die liefde van vroue.

27Hoe het die magtiges geval en is die oorlogswapens vernietig!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 31
Top of Page
Top of Page