2 Petrus 1
Afrikaans PWL
1Shim’on Kefa, ’n slaaf en afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, aan die wat waardig geag is tot vertroue, gelyk aan ons in eer, deur die onpartydige opregtheid van ons Meester en ons Verlosser, Yeshua, Die Gesalfde Een: 2mag die onverdiende guns en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle vermeerder word deur die leringe van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een!

3As die Een wat vir ons al daardie dinge deur Sy lering gegee het, wat vanuit die Goddelike krag is, saam met die lewe en die aanbidding van God, het Hy ons geroep in Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid en Grootsheid; 4Hy wat deur hierdie groot en kosbare verklarings aan julle gegee het om deel te wees aan hierdie Goddelike natuur wanneer julle vlug van die korrupsie van die begeertes wat in die wêreld is. 5Daar is nog dit: wanneer julle met ywer alles gebring het, voeg by julle vertroue, goedheid en by die goedheid, kennis 6en by die kennis, volharding en by die volharding, geduld en by die geduld, respekvolle vrees vir God 7en by die respekvolle vrees vir God, liefdevolle omgee vir die broers en by die liefdevolle omgee vir die broers, liefde, 8want as julle hierdie dinge het en dit meer word, is hulle nie leeg of onvrugbaar in julle nie, maar vestig dit julle in die leringe van ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een. 9Hy wat hierdie dinge nie het nie, is blind en het vergeet van die reiniging van sy vorige sondes. 10Aangaande dit, broers, doen moeite om julle roeping en verkiesing seker te maak deur goeie dade, want wanneer julle hierdie dinge doen, sal julle nooit val nie, 11want só word daar ryklik vir julle ingang gegee in die ewige Koninkryk van ons Meester en Verlosser, Yeshua, Die Gesalfde Een.

12Ek word nie moeg om julle aan die waarheid van hierdie dinge te herinner nie, wanneer julle dit ook goed weet en vasstaan in hierdie waarheid, 13maar dit lyk vir my goed om so lank as wat ek in hierdie liggaam is, julle geheue wakker te maak 14omdat ek weet dat ek spoedig my liggaam sal verlaat, soos ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, dit ook vir my gesê het 15en ek sal moeite doen sodat julle ook voortdurend nadat ek weg is, van hierdie dinge ’n rekord sal hou,

16want ons het nie slim uitgewerkte mites gevolg toe ons julle vertel het van die wonderwerkende krag en koms van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, nie, maar ons was ooggetuies van Sy grootheid, 17want toe Hy van God-die-Vader die waardering, eer, lof en aanbidding ontvang het toe die stem uit die wonderlike grootheid van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid tot Hom gekom het: “Hierdie is My Seun wat Ek liefhet, Hy waarmee Ek tevrede is,” 18het ons ook daardie stem uit die hemel gehoor kom toe ons saam met Hom op die afgesonderde berg was.

19Vir ons is daar ook die waarheid van die profetiese woord, wat julle goed sal doen om na te kyk soos na ’n lamp wat in ’n donker plek skyn totdat die dag aanbreek en die son sal skyn in julle verstand, wil en emosie. 20Eerstens moet julle dít weet: geen profesie word uitgelê deur die een wat dit skryf nie, 21want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens gebring nie, maar wanneer deur die Gees van Afsondering beweeg, het die afgesonderde mense van God gepraat.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Peter 5
Top of Page
Top of Page