2 Konings 15
Afrikaans PWL
1In die sewe en twintigste jaar van Yarov’am, koning van Yisra’el, het `Uziyahu, die seun van Amatzyah, koning van Y’hudah, koning geword. 2Hy was sestien jaar oud toe hy koning geword het en hy het vir twee en vyftig jaar in Yerushalayim regeer en sy moeder se naam was Y’kholyahu, van Yerushalayim. 3Hy het reg gedoen in die oë van יהוה, net soos sy vader Amatzyah gedoen het. 4Net die hoë plekke is nie weggevat nie; die volk het steeds op die hoë plekke geoffer en wierook laat opgaan. 5יהוה het die koning getref sodat hy ’n melaatse was tot die dag van sy dood. Hy het in ’n afsonderlike huis gebly terwyl Yotam, die seun van die koning, oor die huishouding was en geoordeel het oor die mense van die land. 6Die res van die dade van `Uziyahu en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? 7`Uziyahu is neergelê by sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid en Yotam, sy seun, het in sy plek koning geword.

8In die agt en dertigste jaar van `Uziyahu, koning van Y’hudah, het Z’kharyah, die seun van Yarov’am, koning geword oor Yisra’el in Shomron vir ses maande lank. 9Hy het boos gedoen in die oë van יהוה, soos sy vaders gedoen het; hy het nie weggedraai van die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, waarmee hy Yisra’el laat sondig het nie. 10Toe het Shallum, die seun van Yavesh, saamgesweer teen hom en hom voor die mense geslaan en doodgemaak en in sy plek geheers. 11Die res van die dade van Z’kharyah, let op, dit is opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’. 12Dit is die woord van יהוה wat Hy tot Yehu gepraat en gesê het: “Jou seuns tot die vierde geslag sal op die troon van Yisra’el sit,” en dit was so.

13Shallum, die seun van Yavesh, het in die nege en dertigste jaar van `Uziyah, koning van Y’hudah, koning geword en ’n maand lank in Shomron regeer. 14Toe het Menagem, die seun van Gadi, vanaf Tirtzah opgegaan en in Shomron gekom en Shallum, die seun van Yavesh, in Shomron geslaan en doodgemaak en in sy plek koning geword. 15Die res van die dade van Shallum en sy sameswering wat hy gesmee het, let op, dit is opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’. 16Toe het Menagem Tifsag verslaan met almal wat daarin was tot by sy grens met Tirtzah omdat hulle nie vir hom oopgemaak het nie; daarom het hy dit verslaan en al die swanger vroue daarvan oopgesny.

17In die nege en dertigste jaar van `Uziyahu, koning van Y’hudah, het Menagem, die seun van Gadi, koning oor Yisra’el geword in Shomron; tien jaar lank. 18Hy het boos gedoen in die oë van יהוה; hy het in al sy dae nie weggedraai van die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, waarmee hy Yisra’el laat sondig het nie.

19Pul, koning van Ashur, het teen die land gekom en Menagem het vir Pul ’n duisend talente silwer gegee sodat sy hande met hom sou wees om die koningskap in sy hand te versterk. 20Toe het Menagem die geld vanuit Yisra’el ingevorder, van al die magtige manne van rykdom, vyftig sikkels silwer van elke man om die koning van Ashur te betaal. So het die koning van Ashur teruggedraai en nie daar in die land gebly nie. 21Die res van die dade van Menagem en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie? 22Menagem is neergelê by sy vaders en P’kagyah, sy seun, het in sy plek koning geword.

23In die vyftigste jaar van `Uziyahu, koning van Y’hudah, het P’kagyah, die seun van Menagem, in Shomron koning geword oor Yisra’el; twee jaar lank. 24Hy het boos gedoen in die oë van יהוה; hy het nie weggedraai van die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, waarmee hy Yisra’el laat sondig het nie. 25Toe het Pekag, die seun van Remalyahu, sy adjudant, teen hom saamgesweer en hom in Shomron, in die vesting van die koning se huis geslaan, saam met Argov, Aryeh en vyftig man uit die Gil’adiete en hy het hom doodgemaak en in sy plek koning geword. 26Die res van die dade van P’kagyah en alles wat hy gedoen het, let op, dit is opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’.

27In die twee en vyftigste jaar van `Uziyahu, koning van Y’hudah, het Pekag, die seun van Remalyahu, in Shomron koning geword oor Yisra’el; twintig jaar lank. 28Hy het boos gedoen in die oë van יהוה; hy het nie weggedraai van die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, waarmee hy Yisra’el laat sondig het nie.

29In die dae van Pekag, koning van Yisra’el, het Tiglat-Pil’eser, koning van Ashur, gekom en `Iyon, Avel-Beit-Ma’akhah, Yanoag, Kedesh, Hatzor, Gil’ad en die Galil ingeneem; die hele land van Naftali en hy het hulle in gevangeskap weggevoer na Ashur. 30Hoshea, die seun van Elah, het ’n sameswering gesmee teen Pekag, die seun van Remalyah en hom geslaan en doodgemaak en in sy plek koning geword, in die tweede jaar van Yotam, die seun van `Uziyahu. 31Die res van die dade van Pekag en alles wat hy gedoen het, let op, dit is opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el.’

32In die tweede jaar van Pekag, die seun van Remalyah, koning van Yisra’el, het Yotam, die seun van `Uziyahu, koning van Y’hudah, koning geword. 33Hy was vyf en twintig jaar oud toe hy koning geword het en hy het vir sestien jaar in Yerushalayim regeer en sy moeder se naam was Yerusha, die dogter van Tzadok. 34Hy het gedoen wat reg was in die oë van יהוה; hy het alles gedoen volgens wat sy vader `Uziyahu gedoen het. 35Net die hoë plekke is nie verwyder nie; die volk het steeds op die hoë plekke geoffer en wierook laat opgaan. Hy het die Boonste Poort van die huis van יהוה gebou. 36Die res van die dade van Yotam en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? 37In daardie dae het יהוה begin om Retzin, koning van Aram en Pekag, die seun van Remalyah, teen Y’hudah te stuur. 38Yotam is neergelê by sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van sy vader, Dawid en sy seun, Agaz, het in sy plek koning geword.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 14
Top of Page
Top of Page