2 Konings 13
Afrikaans PWL
1In die drie en twintigste jaar van Yo’ash, die seun van Agazyah, die koning van Y’hudah, het Y’ho’agaz, die seun van Yehu, koning geword oor Yisra’el in Shomron, sewentien jaar lank. 2Hy het boos gedoen in die oë van יהוה en agter die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, waarmee hy Yisra’el laat sondig het, aangeloop; hy het nie van hulle af weggedraai nie. 3Die toorn van יהוה het teen Yisra’el ontbrand en Hy het hulle voortdurend oorgegee in die hand van Haza’el, koning van Aram en in die hand van Ben-Hadad, die seun van Haza’el. 4Toe het Y’ho’agaz die guns van יהוה gesoek en יהוה het na hom geluister, want Hy het die verdrukking van Yisra’el gesien, hoe die koning van Aram hulle onderdruk. 5יהוה het aan Yisra’el ’n bevryder gegee sodat hulle van onder die mag van Aram uit ontsnap het en die seuns van Yisra’el het in hulle tente gebly soos vroeër. 6Nogtans het hulle nie weggedraai van die sondes van die huis van Yarov’am waarmee hy Yisra’el laat sondig het nie, maar daarin geloop en die Asherah het ook in Shomron bly staan. 7Hy het vir Y’ho’agaz nie meer as vyftig perderuiters, tien strydwaens en tien duisend voetgangers van die leër laat oorbly nie, want die koning van Aram het hulle vernietig en hulle gemaak soos stof as gedors word. 8Die res van die dade van Y’ho’agaz en alles wat hy gedoen het en sy mag, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie? 9Y’ho’agaz is neergelê by sy vaders en hulle het hom in Shomron begrawe en Y’ho’ash, sy seun, het in sy plek koning geword.

10In die sewe en dertigste jaar van Yo’ash, die koning van Y’hudah, het Y’ho’ash, die seun van Y’ho’agaz, koning geword oor Yisra’el in Shomron; sestien jaar lank. 11Hy het gedoen wat boos was in die oë van יהוה; hy het nie weggedraai van al die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, waarmee hy Yisra’el laat sondig het nie, maar het daarin volhard. 12Die res van die dade van Y’ho’ash en alles wat hy gedoen het en sy mag waarmee hy teen Amatzyah, koning van Y’hudah, geveg het, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie? 13Y’ho’ash is neergelê by sy vaders en Yarov’am het op sy troon gaan sit en Y’ho’ash is begrawe in Shomron by die konings van Yisra’el.

14Toe Elisha siek geword het met die siekte waaraan hy sou sterf, het Y’ho’ash, die koning van Yisra’el, afgekom na hom toe en oor hom gehuil en gesê: “My vader, my vader, die strydwaens van Yisra’el en sy ruiters!” 15Elisha sê vir hom: “Vat ’n boog en pyle.” Hy het ’n boog en pyle gevat. 16Toe sê hy vir die koning van Yisra’el: “Sit jou hand aan die boog.” Hy het sy hand op dit gesit en Elisha het sy hande op die hande van die koning gelê. 17Hy het gesê: “Maak die venster oop na die ooste toe!” Hy het dit oopgemaak. Toe sê Elisha: “Skiet!” Hy het geskiet. Toe sê hy: “יהוה se pyl van oorwinning, van oorwinning oor Aram, want jy sal die Arameërs oorwin by Afek.” 18Toe sê hy: “Vat die pyle.” Hy het dit gevat. Hy sê vir die koning van Yisra’el: “Slaan die grond!” Hy het drie maal geslaan en opgehou. 19Die man van God was kwaad vir hom en sê: “Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs geslaan het totdat jy hulle vernietig het, maar nou sal jy die Arameërs net drie maal verslaan.”

20Elisha het gesterf en hulle het hom begrawe. Die bendes van die Mo’aviete het met die aanvang van die jaar die land binnegeval. 21Terwyl hulle besig was om ’n man te begrawe, let op, sien hulle ’n plunderende bende en gooi die man in die graf van Elisha. Toe die man die gebeente van Elisha raak, het hy lewendig geword en op sy voete gestaan.

22Haza’el, koning van Aram, het Yisra’el onderdruk, al die dae van Y’ho’agaz, 23maar יהוה was goedgunstig tot hulle en het omgee vir hulle gehad en na hulle toe gedraai ter wille van Sy verbond met Avraham, Yitz’gak en Ya’akov en Hy wou hulle nie vernietig en van Sy Teenwoordigheid af weggooi nie; tot nou toe.

24Toe Haza’el, koning van Aram, sterf, het Ben-Hadad, sy seun, in sy plek koning geword. 25Toe het Y’ho’ash, die seun van Y’ho’agaz, weer die stede uit die hand van Ben-Hadad, die seun van Haza’el, teruggevat wat hy uit die hand van Y’ho’agaz, sy vader, in die oorlog gevat het. Y’ho’ash het hom drie maal verslaan en die stede van Yisra’el herower.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 12
Top of Page
Top of Page