2 Korinthiërs 8
Afrikaans PWL
1Ons maak aan julle bekend, broers, die onverdiende guns van God wat aan die gemeentes van Makedonia gegee is: 2onder baie toetse van stryd was hulle oorvloedig in blydskap en die diepte van hulle armoede is oorvloedig gemaak in die rykdom van hulle vrygewigheid, 3want hulle was na vermoë, ek getuig dit, bo vermoë, uit hulleself gewillig. 4Hulle het ons met groot erns gesmeek dat ons hulle geskenk en hulle deel in die bediening aan die afgesonderdes, moet ontvang 5en het nie slegs gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulleself eers aan ons Meester geoffer en aan ons deur die wil van God, 6waardeur ons Titos versoek het dat hy, net soos hy reeds begin het, net so ook by julle hierdie geskenk moet voltooi.

7Soos julle egter in alles oorvloedig is: in vertroue, in die boodskap, in kennis, in alle erns en in julle liefde vir ons; laat julle ook in hierdie geskenk oorvloedig wees. 8Ek sê dit nie as ’n bevel nie, maar om deur die erns van ander ook die egtheid van julle liefde te toets,

9want julle ken die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het sodat julle deur Sy armoede ryk kan word. 10Hierin gee ek slegs my raad, want dit is beter vir julle omdat julle alreeds ’n jaar gelede begin het, nie alleen om te wil nie, maar ook om te doen. 11Voltooi egter nou die daad sodat, net soos die bereidheid om te wil daar was, julle so ook deur die daad kan voltooi uit wat julle besit, 12want as die gewilligheid daar is, is dit aanvaarbaar volgens wat iemand het, nie volgens wat hy nie het nie, 13want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle stryd nie, 14maar dat volgens gelykheid julle oorvloed hulle tekort kan aanvul in hierdie tyd sodat ook hulle oorvloed julle tekort kan aanvul en daar gelykheid is. 15Soos geskrywe is: “Hy wat oorvloed gehad het, het nie te veel gehad nie en hy wat min gehad het, het nie tekort gehad nie,”

16maar dank aan God, wat dieselfde omgee vir julle in die gedagtes, wil en emosie van Titos gegee het, 17want hy het ons versoek aanvaar en omdat hy baie ernstig was, het hy uit eie keuse na julle toe vertrek. 18Ons het ook die broer saam met hom gestuur, wat deur al die gemeentes aangeprys word in die goeie boodskap. 19Hy is ook so, deur die gemeentes, gekies om saam met ons te reis in hierdie onverdiende guns van dienswerk, wat deur ons gedoen word, tot die eer, lof en aanbidding van God en vir ons ondersteuning en versterking, 20om te verhoed dat iemand ons sou beskuldig in verband met hierdie oorvloedigheid, wat deur ons bedien word, 21want ons neem in ag wat reg is, nie alleen in die Teenwoordigheid van God nie, maar ook voor die mense. 22Ons het ook ons broer, wie se erns baie keer en in baie dinge getoets is, maar nou nog ernstiger is deur sy groot vertroue in julle, saam met hulle gestuur; 23asook Titos, wat my deelgenoot en medewerker vir julle is; asook ons broers, hulle is afgevaardigdes van die gemeentes, tot eer, lof en grootheid van Die Gesalfde Een. 24Bewys daarvolgens aan hulle julle liefde en dit waaroor ons roem oor julle, ook voor die gemeentes.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Corinthians 7
Top of Page
Top of Page