2 Korinthiërs 1
Afrikaans PWL
1Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, deur die wil van God en die broer, Timotheos, aan die gemeente van God wat in Korinthos is en aan al die afgesonderdes wat in die hele Agaia is:

2onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God-ons-Vader en ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.

3Aanbiddingswaardig is God, die Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, die Vader van omgee en die God van alle ondersteuning en vertroosting, 4wat ons ondersteun en troos in al ons beproewing sodat ons die wat in enige beproewing is, kan ondersteun en troos deur die ondersteuning en vertroosting waarmee ons self deur God ondersteun en getroos word. 5Net soos die lyding van Die Gesalfde Een oorvloedig in ons is, so is ons ondersteuning en troos ook oorvloedig deur Die Gesalfde Een, 6maar as ons ook ly, is dit ter wille van julle ondersteuning, troos en redding dat ons ly en as ons ook ondersteun en getroos word, is dit vir julle tot ondersteuning, troos en redding deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan. 7Ons versekerde verwagting vir julle is vas, want ons weet dat, as julle deelgenote is aan die lyding, net so ook aan die ondersteuning en troos.

8Broers, aangaande die beproewing wat in Asië oor ons gekom het, wil ons dat julle weet dat ons grootliks beproef was, ver bo ons kragte sodat ons lewe op die punt was om te vergaan. 9Wat onsself betref, het ons die oordeel van die dood ervaar sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek; 10Hy, wat ons gered het van ’n gewelddadige dood, op Wie ons versekerde verwagting is dat Hy ons ook voortdurend sal red, 11deur die hulp van julle gebede vir ons persoonlik en dat Sy geskenk vir ons tot guns, ter wille van baie, sal wees en baie Hom mag bely, as gevolg van ons,

12want ons roem is dit: die getuienis van ons gewete: dat ons in vrygewigheid, reinheid en die onverdiende guns van God aangewend is, veral teenoor julle en hulle by julle en in die wêreld, nie in vleeslike wysheid nie. 13Ons het aan julle niks anders geskryf as wat julle weet en mee saamstem nie, maar ek vertrou dat julle tot die einde toe sal saamstem. 14Net soos julle ook, met ’n bietjie van baie, saamgestem het dat ons julle roem is, net so is julle ook ons roem in die dag van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.

15In hierdie vertroue wou ek eerste na julle toe kom sodat julle twee keer onverdiende guns kan ontvang 16wanneer ek by julle verby, deurgaan na Makedonia, om weer vanaf Makedonia by julle aan te kom en julle saam met my na Y’hudah gaan. 17Het ek dit haastig beplan toe ek dit beplan het? Of wat ek beplan, beplan ek na die vlees sodat daarin ’n ja-ja en nee-nee, (onsekerheid) is? 18God is vertrouenswaardig dat ons boodskap vir julle nie ja en nee was nie, 19want die Seun van God, Yeshua, Die Gesalfde Een, wat deur ons aan julle verkondig is, deur my, Sila en Timotheos, was nie ja en nee nie, maar was ja in Hom, 20want al die beloftes van God is ja in Hom, Die Gesalfde Een. As gevolg hiervan, deur Hom, gee ons die “dit is waar,” tot eer, lof en aanbidding van God, 21maar ons bevestig God by julle, in eenheid met Die Gesalfde Een, wat ons gesalf het, 22wat ook Sy seël op ons gesit het en die Gees as deposito in ons verstand, wil en emosie gegee het.

23Ek getuig uit my gees teenoor God dat ek, om julle te spaar, nog nie na Korinthos gekom het nie; 24nie omdat ons meesters oor julle vertroue is nie, maar ons is helpers aan julle blydskap, want dit is deur vertroue dat julle staan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 16
Top of Page
Top of Page