2 Kronieke 35
Afrikaans PWL
1Verder het Yoshiyahu ’n Pesag tot eer van יהוהin Yerushalayim gehou en hy het die fees op die veertiende van die eerste maand gehou. 2Hy het die priesters hulle take laat doen en hulle aangestel oor die dienslewering van die huis van יהוה. 3Hy het aan die Leviete gesê wat in die hele Yisra’el bly: “Sonder julle af vir יהוה en sit die afgesonderde ark in die huis wat Shlomo, die seun van Dawid, koning van Yisra’el, gebou het, want julle hoef dit nie meer op julle skouers te dra nie; dien nou יהוה, julle God en Sy volk Yisra’el 4en berei julle voor volgens julle families, volgens julle afdelings, ooreenkomstig die voorskrif van Dawid, koning van Yisra’el en volgens die skrywes van sy seun, Shlomo 5en gaan staan in die Afgesonderde Plek volgens die afdelings van die families van julle vaders en julle broers, die volk en volgens die afdelings van die families van die Leviete 6en slag die Pesag en sonder julle af en berei die verstand, wil en emosie van julle broers voor sodat hulle kan doen volgens die woord van יהוה deur die hand van Moshe.

7Toe het Yoshiyahu vir die mense skape, lammers en boklammers gegee, alles as Pesagoffers, vir almal wat teenwoordig was, dertig duisend in getal en ook drie duisend beeste; dit was uit die koning se besittings. 8Ook sy prinse het vrywillig aan die volk, die priesters en die Leviete gegee. Hilkiyahu, Z’kharyah en Yegi’el, leiers oor die huis van יהוה, het as Pesagoffers, twee duisend ses honderd skape en drie honderd jong bulle aan die priesters gegee. 9Konanyah, Sh’ma’yah, sy neef en N’tan’el, Hashavyah, Ye’i’el en Yozavad, die leiers van die Leviete, het aan die Leviete as Pesagoffers vyf duisend skape en vyf honderd jong bulle gegee.

10Die diens is voorberei en die priesters het op hul plek gaan staan en die Leviete volgens hulle afdelings. 11Hulle het die Pesag geslag volgens die koning se bevel en die priesters het sommige van die bloed gesprinkel. 12Die Leviete het die offers afgeslag en die brandoffers aan die afdelings van die families van die volk gegee om aan יהוה te offer, soos geskryf is in die boek van Moshe en so het hulle elke oggend gedoen. 13Hulle het die Pesag met vuur gebraai volgens die voorskrif, maar die ander afgesonderde gawes het hulle in potte en in kanne en in skottels gekook en gou onder al die mense verdeel. 14Agterna, toe die Leviete klaar was, het hulle vir hulleself en vir die priesters voorberei, want die priesters, die seuns van Aharon, was besig om die brandoffer en die vetstukke te offer; toe het die Leviete vir hulleself en die priesters wat bedien het, voorberei. 15Die sangers, die seuns van Asaf, was op hulle plek volgens die bevel van Dawid en van Heman en Y’dutun, die profeet van die koning en die poortwagters het by elke poort gebly; hulle mag nie hulle diens verlaat het nie, maar hulle broers, die Leviete, het hulle bedien.

16Die hele diens van יהוה is op dieselfde dag voorberei, om die Pesag te hou en brandoffers te bring op die altaar van יהוה volgens die opdrag van koning Yoshiyahu. 17Die seuns van Yisra’el wat teenwoordig was, het die Pesag gehou in daardie tyd en ook die Fees van die Ongesuurde Brode vir sewe dae lank. 18Daar was nie so ’n Pesag gehou in Yisra’el van die dae van Sh’mu’el, die profeet, af nie en ook het geen koning van Yisra’el so ’n Pesag gehou soos wat Yoshiyahu, die priesters, die Leviete, die hele Y’hudah en Yisra’el wat teenwoordig was in Yerushalayim, gehou het nie. 19Hierdie Pesag is in die agttiende jaar van die regering van Yoshiyahu gehou.

20Ná dit alles, toe Yoshiyahu die sake van die tempel voltooi het, het Farao, die lam koning van Mitzrayim (N’kho), opgetrek om teen Kark’mish aan die Eufraat, te veg en Yoshiyahu het teen hom uitgetrek. 21Hy het ambassadeurs na hom toe gestuur om te sê: “Wat het ek met jou te doen, koning van Y’hudah? Ek kom nie vandag teen jóu nie, o koning van Y’hudah, maar teen die huis wat teen my oorlog voer. God het gesê ek moet gou maak. Moenie jou teen God bemoei, wat met my is, dat Hy jou nie vernietig nie.” 22Nogtans wou Yoshiyahu nie sy gesig van hom af wegdraai nie, want hy het gegaan om teen hom te veg. Hy het nie geluister na die woorde van Farao, die Lamme, nie, want Yoshiyahu het nie geweet dat dit van יהוה is nie, hy het dus voortgegaan om teen hom te veg in die vlakte van Megiddo. 23Toe het Farao, die Lamme, twee pyle na Yoshiyahu geskiet. Toe sê die koning vir sy diensknegte: “Vat my weg, want ek is swaar gewond.” 24Sy diensknegte het hom uit die strydwa gehaal en hom in sy eie koninklike strydwa gesit en hom na Yerushalayim gebring. Hy het gesterf en is begrawe in die grafte van sy vaders en die hele Y’hudah en Yerushalayim het oor Yoshiyahu gerou.

25Yirmeyahu het ’n klaaglied vir Yoshiyahu gedig en gesê: “Alle regverdige manne en vroue, huil in julle klaagliedere vir Yoshiyahu.” Hy het dit tot ’n instelling in Yisra’el gemaak, tot vandag toe. Let op, hierdie klaagliedere is opgeskryf in die boek van Klaagliedere. 26Die res van die dade van Yoshiyahu en sy goedheid, volgens dit wat geskryf is in die wet van יהוה 27en sy dade, die vroeëre en die latere, let op, dit is opgeskryf in die Boek van die konings van Yisra’el en Y’hudah.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 34
Top of Page
Top of Page