2 Kronieke 25
Afrikaans PWL
1Amatzyahu was vyf en twintig jaar oud toe hy begin heers het en hy het nege en twintig jaar in Yerushalayim regeer. Die naam van sy moeder was Y’ho’addan, van Yerushalayim. 2Hy het gedoen wat reg was in die oë van יהוה, maar nie met ’n volmaakte verstand, wil en emosie nie. 3Dit het gebeur toe die koninkryk stewig in sy hand was dat hy sy diensknegte, wat sy vader, die koning, vermoor het, doodgemaak het, 4maar nie hulle kinders nie, want so is dit geskryf in die boek van die wet van Moshe, waar יהוה dit beveel het: “Die vaders moenie vir die kinders sterf en die kinders moenie vir die vaders sterf nie, maar elke man sal sterf vir sy eie sonde.”

5Amatzyahu het Y’hudah bymekaar laat kom en bevelvoerders oor ’n duisend en bevelvoerders oor ’n honderd oor hulle aangestel, volgens die huise van hulle vaders, regdeur die hele Y’hudah en Binyamin. Hy het hulle getel van twintig jaar oud en daarbo en gevind dat hulle drie honderd duisend jongmanne was, wat swaard en skild kon hanteer, in staat om te gaan oorlog maak. 6Hy het ook ’n honderd duisend dapper magtige manne uit Yisra’el vir ’n honderd talente silwer gehuur. 7Daar het egter ’n profeet van God na hom toe gekom en gesê: “O koning, laat die hele leër van Yisra’el nie saam met u gaan nie, want יהוה is nie by Yisra’el, of by die hele huis van Efrayim nie. 8U sal in ’n groot geveg betrokke raak en יהוה sal u laat val voor u vyande, want u het יהוה nie gelofprys nie, want Hy is die Helper en Een wat verhoog.” 9Amatzyahu sê vir die man van God: “Watter oortreding het ek begaan deur die honderd talente vir die manne van Yisra’el te gee?” Die man van God antwoord: “יהוה is in staat om vir u baie meer as dit te gee, dubbel wat u gegee het.” 10Toe het Amatzyahu die manne wat uit Efrayim gekom het afgesonder om weer huis toe te gaan, maar hulle het baie kwaad geword en hy het hulle in woede teruggestuur.

11Amatzyahu het homself versterk en sy manne gelei en na die Vallei van Sout gegaan en tien duisend van die manne wat vanaf Se’ir is, verslaan. 12Die seuns van Y’hudah het nog tien duisend lewendig gevang en hulle na die top van die krans gebring, almal in kettings gebind. 13Die dapper manne wat Amatzyahu laat teruggaan het, het ’n plundertog onderneem in die stede van Y’hudah, Shomron en die stede van die ander nasies en het drie duisend manne gedood en baie buit geroof.

14Dit het gebeur toe Amatzyahu teruggekom het nadat hy die Edomiete verslaan het, hulle vir hom die gode van die manne van Se’ir gebring het en hy het hulle voor hom opgestel en hom voor hulle neergebuig en vir hulle wierook laat opgaan; 15daarom het die woede van יהוה teen Amatzyahu ontvlam en Hy stuur ’n profeet na hom, wat vir hom sê: “Waarom het jy gebid voor die gode van die ander nasies, wat nie hulle eie volk uit u hand kon red nie?” 16Dit het gebeur terwyl die profeet met hom praat dat die koning vir hom sê: “Die aanbidding van houtvoorwerpe is deur die konings opgeneem.” Toe onttrek die profeet van hom en sê: “Wee tot u, let op, יהוה het besluit om u te vernietig omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie.”

17Amatzyahu, die koning van Y’hudah, het raad gekry en gestuur na Y’ho’ash, die seun van Y’ho’agaz, die seun van Yehu, koning van Yisra’el, om te sê: “Kom, laat ons mekaar se gesigte sien in geveg.”. 18Y’ho’ash, koning van Yisra’el, het Amatzyahu, koning van Y’hudah, so geantwoord: “Die distel wat op die L’vanon is, het vir die seder wat op die L’vanon is, laat weet: ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou en daar het ’n wilde dier in die L’vanon verbygegaan en die distel vertrap.’ 19Omdat u die Edomiete verslaan het, het u verstand, wil en emosie u opgelig om te roem. Behou u waardigheid en bly tuis. Waarom wil u moeilikheid opstook dat u sou val, u en die hele Y’hudah saam met u?”

20Amatzyahu wou egter nie luister nie en toe het Y’ho’ash, koning van Yisra’el en Amatzyahu, koning van Y’hudah opgetrek 21en mekaar gekonfronteer in ’n geveg by die dorp Beit-Shemesh wat op die grens van Y’hudah is. 22Y’hudah is voor Yisra’el verslaan en hulle het, elkeen na sy tent toe, gevlug. 23Y’ho’ash, koning van Yisra’el, het vir Amatzyahu, koning van Y’hudah, in Beit-Shemesh gevang en hom na Yerushalayim gebring en vier honderd el van die muur van Yerushalayim afgebreek, vanaf die Efrayimspoort tot by die Hoekpoort. 24Hy het al die goud, die silwer en al die voorwerpe wat in die huis van God te vinde was sowel as die voorwerpe wat by Oved-Edom gehou is en die skatte van die huis van die koning en die voorwerpe van die koning en die voorwerpe van goud gevat en na Shomron teruggegaan.

25Amatzyahu, die seun van Yo’ash, koning van Y’hudah, het ná die dood van Y’ho’ash, die seun van Y’ho’agaz, koning van Yisra’el, nog vyftien jaar geleef. 26Die res van die dade van Amatzyahu, die vroeëre en die latere, let op, hulle is geskryf in die Boek van die konings van Y’hudah en Yisra’el. 27Vanaf die tyd dat Amatzyahu van יהוה af weggedraai het, het sy diensknegte ’n sameswering teen hom gesmee in Yerushalayim sodat hy na Lakhish gevlug het, maar hulle het agter hom aangestuur na Lakhish en hom daar doodgemaak. 28Sy diensknegte het hom op perde gebring en hom by sy vaders begrawe in die stad van Dawid.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 24
Top of Page
Top of Page