2 Kronieke 15
Afrikaans PWL
1Die Gees van God het op `Azaryah, die seun van `Oded, gekom 2en hy het uitgegaan om Asa te ontmoet en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en die hele Y’hudah en Binyamin! יהוה is by julle vir ewig en ewig en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind, maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat. 3Vir ’n lang tyd het Yisra’el nie hulle God in waarheid gedien nie en nie die lerings van Sy priesters aanvaar of hulle wette gehoorsaam nie, is hulle daarom oorgegee in die hand van hul vyande. 4Wanneer hulle egter in hul benoudheid tot יהוה, die God van Yisra’el, gebid en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind. 5In daardie vroeëre tye toe ons nie ons God gedien het nie, was daar geen vrede vir hom wat uit- of ingegaan het nie, as gevolg van groot teëspoed wat oor al die inwoners van die land gekom het 6en ons is verstrooi onder elke nasie en volk en dorpe en stede 7omdat ons ons God verlaat het en nie wou luister na die stem van Sy diensknegte, die profete nie, is ons daarom beloon volgens ons dade.”

8Toe Asa hierdie woorde wat `Azaryah, die seun van `Oded, die profeet gesê het, hoor, het hy moed geskep en al die afgode verwyder uit die hele land van Y’hudah en Binyamin en uit die stede wat hy in die land van Efrayim ingeneem het en hy het die altaar van יהוה wat voor die stoep van יהוה was, herstel. 9Hy het die hele Y’hudah en Binyamin, asook die proseliete wat uit Efrayim en M’nasheh en uit Shim’on by hulle was, want hulle het in menigte uit Yisra’el na hom toe oorgeloop toe hulle sien dat יהוה, sy God, by hom was, 10in Yerushalayim bymekaar laat kom in die derde maand van die vyftiende jaar van die regering van Asa 11en op dieselfde dag aan יהוה geoffer van die buit wat hulle ingebring het, sewe honderd beeste en ses duisend skape. 12Hulle het in ’n verbond getree om יהוה, die God van hulle vaders, met hul hele verstand, wil en emosie en met hul hele lewe te soek 13en dat wie ook al יהוה, die God van Yisra’el, nie soek nie, gedood sou word, klein of groot, man of vrou. 14Hulle het tot יהוה gesweer met ’n harde stem en met die blaas van gedraaide en reguit trompette. 15Die hele Y’hudah was verheug oor die verslag wat hulle gehoor het, want hulle het Hom gesoek met hulle hele verstand, wil en emosie en met hul hele lewe tot Hom gebid en Hy is deur hulle gevind en Hy het aan hulle rus gegee reg rondom.

16Hy het ook vir Ma’akhah, die moeder van Asa afgesit as koninginsmoeder omdat sy ’n fees vir haar afgode gehad het en Asa het haar afgode afgekap en hulle by die spruit van Kidron verbrand. 17Die altare op die hoë plekke is egter nie uit Yisra’el verwyder nie, nogtans was Asa se verstand, wil en emosie volmaak in die aanbidding van יהוה, sy God, al die dae van sy lewe. 18Hy het alles wat sy vader en hyself afgesonder het, in die huis van יהוה ingebring: silwer, goud en allerhande voorwerpe. 19Daar was geen oorlog tot in die vyf en dertigste jaar van die regering van Asa nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 14
Top of Page
Top of Page