1 Timotheus 1
Afrikaans PWL
1Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, volgens die opdrag van God, ons Lewegewer en dié van Die Gesalfde Een, ons Meester, Yeshua, ons Versekerde Verwagting;

2aan Timotheos, ’n ware seun in vertroue: onverdiende guns, omgee, vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vanaf God-ons-Vader en Die Gesalfde Een, Yeshua, ons Meester!

3Soos ek jou gevra het toe ek na Makedonia op pad was, moet jy in Efesos wag om sekere persone te beveel dat hulle nie ’n ander leer moet leer nie 4en nie moet toegee aan fabels en aan eindelose verslae van geslagsregisters, wat net al hoe meer stryd produseer en nie opbouing in die vertroue tot God nie. 5Die einddoel van die opdragte is liefde wat uit ’n rein verstand, wil en emosie, ’n goeie gewete en ware vertroue kom. 6Sommige van hulle het afgedwaal van hierdie dinge af en na leë woorde toe weggedraai. 7Daarin wil hulle leraars van die geskrewe wet wees terwyl hulle niks verstaan wat hulle sê, of die dinge waaroor hulle praat, nie.

8Ons weet dat die geskrewe wet goed is as iemand toelaat om volgens die geskrewe wet gelei te word 9en terwyl hy weet dat die geskrewe wet nie aangestel is vir die onskuldige nie, maar vir die wettelose, vir die rebelse, vir die slegte, vir die sondaars, vir die wrede mense, vir dié wat nie rein is nie, vir die wat hulle vaders en hulle moeders slaan, vir moordenaars, 10vir seksuele oortreders, vir mans wat by mans lê, vir diewe van kinders wat vry is, vir leuenaars, vir hulle wat ’n eed verbreek en vir enige een wat die gesonde leer 11van die goeie boodskap van die eer, lof en aanbidding tot die geseënde God, waarmee ek toevertrou is, teëstaan.

12Ek dank Hom wat my in staat gestel het, ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, wat my vertrouenswaardig geag en in Sy bediening aangestel het; 13vir my wat vroeër ’n kwaadprater, ’n vervolger en ’n belediger was, maar ek het omgee ontvang omdat ek in ongeloof nie verstaan het wat ek doen nie, 14maar in my was die onverdiende guns van ons Meester oorvloedig saam met vertroue en liefde wat in Yeshua, Die Gesalfde Een, is. 15Dit is ’n vertrouenswaardige boodskap en waardig om aanvaar te word, dat Yeshua, Die Gesalfde Een, na die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die voorste is, 16maar daarom is aan my omgee bewys sodat Yeshua, Die Gesalfde Een, eerstens in my al die langdurige geduld van Sy Gees sou wys, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sal vertrou tot die ewige lewe. 17Aan die Koning van die uitspansel, aan Hom wat onvernietigbaar is en nie gesien word nie, Wat Een God is, kom toe die waardigheid, die eer, lof en aanbidding vir tydlose ewigheid. Dit is waar!

18Hierdie mandaat gee ek aan jou, my kind Timotheos, volgens die profesieë wat vroeër aangaande jou gebring is sodat jy daardeur die goeie geveg kan baklei 19met vertroue en ’n goeie gewete. Hulle wat hierdie verwerp het, is leeg gemaak van vertroue, 20soos Humenaios en Alexandros, wat ek aan die teëstander oorgegee het sodat hulle gedissiplineer kan word om nie kwaad te praat nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Thessalonians 3
Top of Page
Top of Page