1 Thessalonisense 2
Afrikaans PWL
1Julle weet self, my broers, dat ons koms na julle toe nie vir niks was nie, 2maar eerstens het ons, soos julle weet, in Filippoi gely en is mishandel en toe het ons te midde van ’n groot stryd met die vrymoedigheid van ons God aan julle die goeie boodskap van Die Gesalfde Een verkondig, 3want ons versterking en vertroosting was nie vanuit misleiding of vanuit onreinheid of in bedrog nie, 4maar net soos toe ons deur God goedgekeur is en vertrou is met Sy goeie boodskap, so praat ons, nie om mense tevrede te stel nie, maar God, wat ons denke, wil en emosie toets, 5want ons praat ook nooit met vleitaal, soos julle weet, of met uiterlike uitbuitery nie. God is getuie. 6Ons het ook nie eer en lof van mense gesoek, wanneer ons wel as afgevaardigdes van Die Gesalfde Een vereer kon word nie; nie van julle en ook nie van ander nie, 7maar ons was nederig onder julle. Soos ’n moeder haar kinders versorg, 8net so het ons na julle verlang en nie net goed gedink om met julle die goeie boodskap van God te deel nie, maar ook ons eie lewe omdat ons vir julle lief is.

9Julle onthou, broers, dat ons gearbei het en nag en dag hard gewerk het met ons hande om nie ’n las op enige een van julle te lê nie; 10julle is saam met God getuies, hoe ons die goeie boodskap van God aan julle verkondig het; suiwer en regverdig, sonder fout teenoor almal wat vertrou. 11Net soos julle weet, hoe ons by elkeen van julle, net soos ’n vader by sy kinders, gepleit het, julle verstand, wil en emosie vol gemaak het en julle versoek het 12om, soos dit gepas is, vir God te leef; Hy wat julle na Sy Koninkryk en Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid geroep het.

13Ook as gevolg hiervan dank ons God sonder ophou dat julle die boodskap van God, wat julle van ons af ontvang het, nie ontvang het as die boodskap van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die boodskap van God wat ook deur dade werk in julle wat vertrou. 14Julle, my broers, het egter navolgers geword van die gemeentes van God wat in eenheid met Yeshua, Die Gesalfde Een, in Y’hudah is omdat julle ook dieselfde dinge gely het onder julle eie volksgenote, net soos hulle gely het onder die inwoners van Y’hudah, 15die wat ons Meester, Yeshua en hulle eíe profete vermoor het, ons vervolg het, God nie tevrede stel nie en alle mense teëstaan, 16want hulle verbied ons om met die ander nasies te praat sodat hulle kan lewe. Hulle sondes word op díe manier volledig gemaak, maar die toorn sal oor hulle kom tot die einde toe.

17Ons, my broers, was ’n kort tydjie van julle af weg in persoon, nie in denke, wil en emosie nie en ons het al hoe meer moeite gedoen om julle in baie liefde te sien 18en het begeer om na julle toe te kom. Ek Sha’ul, meer as een maal, maar die teëstander het my verhinder. 19Wie anders as julle is ons versekerde verwagting en blydskap, of die kroon van ons lof en eer in die Teenwoordigheid van ons Meester, Yeshua, by Sy koms? 20Julle is ons eer, lof en blydskap.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Thessalonians 1
Top of Page
Top of Page