1 Petrus 1
Afrikaans PWL
1Kefa, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, aan die gekoses en die pelgrims, wat verstrooid is in Pontos, Galatia, Kappadokia, Asië en Bithunia; 2hulle wat gekies is volgens die voorkennis van God-die-Vader, deur die afsondering van die Gees sodat hulle sal wees tot gehoorsaamheid en tot besprinkeling met die bloed van Yeshua, Die Gesalfde Een: onverdiende guns en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid word vermenigvuldig vir julle!

3Geseënd is God, die Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, wat in Sy groot omgee vir ons die geboorte gegee het van bo af, deur die opstanding van Yeshua, Die Gesalfde Een, uit die dood, tot die versekerde verwagting van lewe 4en tot ’n erfenis wat nie vernietig, besoedel of verwelk word nie, wat in die hemel vir julle voorberei word 5terwyl julle deur die krag van God en vertroue in stand gehou word vir dié lewens wat gereed is om openbaar te word in die laaste tyd. 6Lewens waarin julle jul vir ewig sal verheug, alhoewel julle, vir ’n kort tydjie, moeg gemaak word deur allerhande versoekings wat skielik oor julle kom 7sodat die egtheid van julle vertroue, wat baie kosbaarder is as fyn goud, wat vergaan, maar deur vuur gesuiwer word, gewys mag word as prysenswaardig, kosbaar en tot eer, lof en grootheid by die openbaring van Yeshua, Die Gesalfde Een; 8Hy vir Wie julle nie gesien het nie en Hom liefhet en deur Sy vertroue julle verbly met ’n heerlike blydskap wat nie uitgespreek word nie 9sodat julle die einddoel van julle vertroue, die redding van julle gees, kan ontvang.

10Die profete wat geprofeteer het aangaande hierdie lewens, het hierdie onverdiende guns wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors. 11Hulle het ondersoek na watter tyd of geleentheid die Gees van Die Gesalfde Een, wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyding wat oor Die Gesalfde Een sou kom en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid daarna. 12Aan hulle is openbaar sodat hulle nie hulleself nie, maar vir ons bedien het deur dié dinge wat nou aangekondig is deur dié wat die goeie nuus aan julle verkondig het in die Gees van Afsondering, wat vanaf die hemel gestuur is; hierdie dinge waarin ook die engele begeer om in te sien.

13Bind daarom die heupe van julle verstand vas, wees volkome waaksaam en verwag die onverdiende guns wat julle deel word by die openbaring van Yeshua, Die Gesalfde Een, 14soos gehoorsame kinders en moenie weer deel kry aan julle vorige begeertes wat julle sonder kennis begeer het nie, 15maar wees afgesonderdes in al julle lewenswyses, soos wat Hy wat julle geroep het, afgesonderd is 16omdat daar geskrywe is: “Wees afgesonderd, soos Ek afgesonderd is.”

17As julle jul op Hom as Vader beroep, wat onpartydig oordeel volgens elkeen se dade, leef dan in respekvolle vrees gedurende dié tyd wat julle vreemdelinge is 18omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle leë dade wat tradisioneel deur die vaders oorgedra is nie, 19maar deur die kosbare bloed van die Lam, waarin geen gebrek of vlek is nie, wat Die Gesalfde Een is, 20wat wel voor die tyd hiervoor aangestel is, voor die vorming van die wêreld, maar in hierdie laaste tye openbaar is, om julle ontwil. 21Julle, wat deur Hom, in God, wat Hom uit die dood uit opgewek en aan Hom eer, lof en aanbidding gegee het, vertrou het sodat julle vertroue en versekerde verwagting in God kan wees,

22soos julle lewens afgesonder sal word in gehoorsaamheid aan die waarheid en gevul word met liefde, sonder aanneming van ’n persoon sodat julle mekaar sal liefhê uit ’n skoon en volmaakte verstand, wil en emosie, 23soos mense wat van bo af gebore is, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die Lewende Boodskap van God, wat tot in ewigheid bly,

24want alle vlees is soos gras en al die eer en lof van die mens soos ’n veldblom. Die gras verdor en die blom val af,

25maar die woorde van ons God bly tot in ewigheid en dit wat Hy gesê het, is die goeie boodskap wat aan julle verkondig is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
James 5
Top of Page
Top of Page