Afrikaans PWL 1Toe het Shlomo die oudstes van Yisra’el en al die stamhoofde, die familie-leiers van die seuns van Yisra’el, by koning Shlomo in Yerushalayim bymekaar laat kom om die ark van die verbond van יהוה vanuit die stad van Dawid, dit is Tziyon, op te bring.
2Al die manne van Yisra’el het hulleself op die fees by koning Shlomo vergader, in die maand van die oes, dit is die sewende maand.
3Toe het al die oudstes van Yisra’el gekom en die priesters het die ark opgetel.
4Hulle het die ark van יהוה en die tent van samekoms saam met al die afgesonderde gereedskap gebring wat in die tent was en die priesters en die Leviete het dit gebring.
5Koning Shlomo en die hele vergadering van Yisra’el, wat by hom vergader was, was saam met hom voor die ark terwyl hulle soveel kleinvee en beeste geoffer het dat hulle nie getel of bereken kon word nie.
6Toe het die priesters die ark van die verbond van יהוה na sy plek gebring, in die binnevertrek van die huis, na die Mees Afgesonderde, onder die vlerke van die gérubs,
7want die gérubs het hulle vlerke uitgesprei oor die plek van die ark en die gérubs het ’n bedekking van bo af oor die ark en sy pale gemaak,
8maar die pale was so lank dat die punte van die pale uit die Afgesonderde plek, voor die binnevertrek, gesien kon word, maar hulle kon nie buite gesien word nie; hulle is daar tot vandag toe.
9Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moshe by Horev daarin gesit het, waar יהוה ’n verbond met die seuns van Yisra’el gesluit het, toe hulle uit die land van Mitzrayim uitgekom het.
10Dit het gebeur dat toe die priesters uit die Afgesonderde plek uitgaan, die wolk die huis van יהוה gevul het
11sodat die priesters, as gevolg van die wolk, nie kon staan om te bedien nie, want die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het die huis van יהוה gevul. 12Toe het Shlomo gesê: “יהוה het gesê dat Hy in die digte wolk sal bly. 13Ek het verseker vir U ’n verhewe huis gebou, ’n plek vir U om ewig in te bly.” 14Toe draai die koning sy gesig om en seën die hele vergadering van Yisra’el terwyl die hele vergadering van Yisra’el staan. 15Hy het gesê: “Praat goed van יהוה, die God van Yisra’el, wat met Sy mond met my vader Dawid gepraat het en dit met Sy hand volbring en gesê het: 16‘Van die dag af dat Ek My volk Yisra’el van Mitzrayim af gebring het, het Ek nie ’n stad gekies uit al die stamme van Yisra’el om ’n huis in te bou sodat My Karakter en Outoriteit daar sou wees nie, maar Ek het vir Dawid gekies om oor My volk Yisra’el te wees.’ 17Dit was in die verstand, wil en emosie van my vader, Dawid, om ’n huis te bou vir die Karakter en Outoriteit van יהוה, die God van Yisra’el, 18maar יהוה het vir my vader, Dawid, gesê: ‘Omdat dit in jou verstand, wil en emosie was om vir My Karakter en Outoriteit ’n huis te bou, het jy goed gedoen deurdat dit in jou verstand, wil en emosie was. 19Nogtans sal jy nie die huis bou nie, maar jou seun wat vir jou gebore sal word, hy sal vir My Karakter en Outoriteit die huis bou.’ 20Nou het יהוה Sy Woord vervul wat Hy gesê het, want ek het opgestaan in die plek van my vader, Dawid en ek sit op die troon van Yisra’el soos יהוה belowe het en ek het die huis gebou vir die Karakter en Outoriteit van יהוה, die God van Yisra’el. 21Daar het ek ’n plek gemaak vir die ark, waarin die verbond van יהוה is, wat Hy met ons vaders gesluit het toe Hy hulle uit die land van Mitzrayim uitgebring het.” 22Toe het Shlomo voor die altaar van יהוה gaan staan, voor die hele vergadering van Yisra’el en sy hande uitgesprei na die hemel 23en hy het gesê: “יהוה, die God van Yisra’el, daar is geen God soos U in die hemel daarbo of op die aarde hier onder nie, wat die verbond hou en liefdevolle omgee wys aan U diensknegte wat voor U loop met hulle hele verstand, wil en emosie, 24wat vir U kneg, my vader Dawid, nagekom het wat U aan hom belowe het; inderdaad, U het met U mond gepraat en met U hand volbring, soos dit op hierdie dag is; 25daarom, יהוה, God van Yisra’el, hou ook die belofte wat U aan U kneg, my vader Dawid, gemaak het, deur te sê: ‘Daar sal vir jou nooit ’n man ontbreek wat op die troon van Yisra’el sal sit nie, as jou seuns net hulle pad in ag neem om voor My Teenwoordigheid te loop soos jy voor My Teenwoordigheid geloop het.’ 26Nou, daarom, o God van Yisra’el, ek bid, laat U woord bevestig word wat U gepraat het tot U kneg, my vader, Dawid. 27Sal God werklik op die aarde bly? Let op, die hemel en die hoogste hemele kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het? 28Tog, gee aandag aan die gebed van U dienskneg en tot sy smeking, יהוה, my God, om te luister na die geroep en die gebed wat U dienskneg vandag voor U bid; 29dat U oë oop mag wees na hierdie huis, nag en dag, na die plek waarvan U gesê het: ‘My Karakter en Outoriteit sal daar wees,’ om te luister na die gebed wat U dienskneg na hierdie plek toe sal bid. 30Luister na die smeking van U dienskneg en van U volk Yisra’el wanneer hulle na hierdie plek toe bid; luister in die hemel, U blyplek; hoor en vergewe. 31As ’n mens teen sy naaste sondig en gedwing word om ’n eed te neem en hy voor U altaar in hierdie huis ’n eed neem, 32hoor dan in die hemel en tree op en oordeel U diensknegte, veroordeel die wettelose deur sy optrede op sy eie kop te bring en verklaar die onpartydig opregte onskuldig deur vir hom te gee volgens sy onpartydige opregtheid. 33Wanneer U volk Yisra’el verslaan word voor ’n vyand omdat hulle teen U gesondig het; as hulle weer na U toe draai en U Karakter en Outoriteit erken en tot U bid en smeek in hierdie huis, 34hoor dan in die hemel en vergewe die sonde van U volk Yisra’el en bring hulle terug na die land wat U aan hulle vaders gegee het. 35Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie omdat hulle teen U gesondig het en hulle na hierdie plek toe bid en U Karakter en Outoriteit erken en van hulle sonde af wegdraai wanneer U hulle teister, 36hoor dan in die hemel en vergewe die sonde van U diensknegte en van U volk Yisra’el, inderdaad, leer hulle die goeie pad waarin hulle moet loop en stuur reën op U land, wat U aan U volk as ’n erfenis gegee het. 37As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar skimmel, heuningdou, sprinkane of grassprinkane is, as sy vyande hom in die land, in sy poorte beleër, watter plaag ook al, watter siekte daar ook al is, 38watter gebed of smeking ook al deur enige een of deur die hele volk Yisra’el gemaak word, laat elkeen die leed van sy eie verstand, wil en emosie ken en sy hande na hierdie huis toe uitsprei; 39hoor dan in die hemel, U blyplek en vergewe en tree op en doen aan elkeen volgens al sy optrede, wie se verstand, wil en emosie U ken, want U alleen ken die verstand, wil en emosie van al die seuns van die mens 40sodat hulle U respekvol kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het. 41Ook aangaande die vreemdeling wat nie van U volk Yisra’el is nie, wanneer hy vanaf ’n ver land ter wille van U Karakter en Outoriteit kom, 42want hulle sal hoor van U groot Naam (Karakter en Outoriteit), U magtige hand en U uitgestrekte arm; wanneer hy voor U sal kom en bid in hierdie huis, 43hoor dan in die hemel, U blyplek en doen volgens alles waaroor die vreemdeling na U toe uitroep sodat al die volke van die aarde ’n verbondsverhouding met U Naam (Karakter en Outoriteit) mag hê, om U respekvol te vrees, net soos U volk Yisra’el en dat hulle mag weet dat hierdie huis wat ek gebou het, by U Naam (Karakter en Outoriteit) genoem word. 44Wanneer U volk uitgaan om oorlog te maak teen hulle vyand, op watter pad U hulle ook al stuur en hulle bid tot יהוה in die rigting van die stad wat U verkies het en die huis wat ek vir U Naam (Karakter en Outoriteit) gebou het, 45hoor dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking en bevestig hulle doel. 46Wanneer hulle teen U sondig, want daar is geen mens wat nie sondig nie en U kwaad is vir hulle, hulle aan ’n vyand oorgee sodat hulle hul gevange wegvoer na die land van die vyand, ver of naby, 47as hulle daaroor dink in die land waarheen hulle gevange geneem is en hulle erken en omdraai en U smeek in die land van die wat hulle gevange geneem het en sê: ‘Ons het gesondig en oortree, ons het boos opgetree,’ 48as hulle na U toe terugdraai met hul hele gees en met hul hele verstand, wil en emosie, in die land van hul vyande wat hulle weggevoer het en hulle bid tot U volgens die godsdiens van hul eie land wat U aan hulle vaders gegee het, die stad wat U gekies het en die huis wat ek vir U Naam (Karakter en Outoriteit) gebou het; 49hoor dan in die hemel, U blyplek, hulle gebed en smeking en bevestig hulle doel 50en vergewe U volk wat teen U gesondig het en al hulle oortredinge wat hulle teen U begaan het en laat hulle ontvangers van omgee word voor die wat hulle weggevoer het dat dié aan hulle omgee kan bewys, 51want hulle is U volk en u erfenis wat U uit Mitzrayim uitgebring het, uit die midde van die ystersmeltoond 52sodat U oë oop kan wees vir die smeking van U dienskneg en vir die smeking van U volk Yisra’el, om na hulle te luister wanneer hulle ook al tot U roep, 53want U het hulle vir U as erfenis afgesonder van al die volke van die aarde, soos U deur U kneg, Moshe, gepraat het toe U, Meester-יהוה, ons vaders uit Mitzrayim uitgebring het.” 54Toe Shlomo klaar hierdie hele gebed en smeking gebid het tot יהוה, knielend met sy hande na die hemel uitgesprei, het hy van voor die altaar van יהוה af opgestaan 55en hy het gestaan en die hele vergadering van Yisra’el hardop geseën en gesê: 56“Praat goed van יהוה, wat aan Sy volk Yisra’el rus gegee het volgens alles wat Hy belowe het; nie een woord van al Sy goeie beloftes wat Hy deur Sy dienskneg Moshe belowe het, het onvervuld gebly nie. 57Mag יהוה, ons God, by ons wees soos Hy by ons vaders was; mag Hy ons nie verlaat of ons verwerp nie 58sodat Hy ons verstand, wil en emosie na Homself sal keer, om in al Sy paaie te loop en Sy opdragte, Sy wette en Sy instellings te gehoorsaam wat Hy ons vaders beveel het. 59Mag hierdie woorde van my, waarmee ek voor die Teenwoordigheid van יהוה gesmeek het, dag en nag naby יהוה, ons God, wees sodat Hy Sy dienskneg se doel kan bevestig en die doel van Sy volk Yisra’el, soos elke dag vereis 60sodat al die volke van die aarde kan weet dat יהוה God is; daar is geen ander een nie. 61Laat julle verstand, wil en emosie daarom volkome toegewy wees aan יהוה, ons God, om te leef volgens Sy instellings en Sy opdragte te gehoorsaam, soos op hierdie dag.” 62Die koning en die hele Yisra’el saam met hom, het offers voor die Teenwoordigheid van יהוה geoffer. 63Shlomo het as die vredesoffer wat hy tot יהוה gebring het, twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend skape geoffer. So het die koning en al die seuns van Yisra’el die huis van יהוה afgesonder. 64Op dieselfde dag het die koning die middel van die hof afgesonder wat voor die huis van יהוה was, want daar het hy die brandoffer, die graanoffer en die vet van die vredesoffers geoffer omdat die koper altaar wat voor יהוה is, te klein was om die brandoffer, die graanoffer en die vet van die vredesoffers te hou. 65So het Shlomo in dié tyd die fees onderhou en die hele Yisra’el saam met hom, ’n groot vergadering van die ingang na Hamat af tot by die spruit van Mitzrayim, voor die Teenwoordigheid van יהוה, ons God, vir sewe dae en nog sewe dae; veertien dae lank. 66Op die agtste dag het die volk ’n afvaardiging gestuur en die koning geseën en hulle het vreugdevol na hulle tente gegaan, bly van gees oor al die goedheid wat יהוה aan Sy kneg Dawid en Sy volk Yisra’el bewys het. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |