1 Korinthiërs 9
Afrikaans PWL
1Is ek nie vry nie? Is ek nie ’n afgevaardigde nie? Het ek Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester, nie gesien nie? Is julle nie my werk in my Meester nie? 2As ek nie vir ander ’n afgevaardigde was nie, is ek dit vir julle en julle is die seël op my amp as afgevaardigde.

3My antwoord vir die wat my beoordeel, is dít: 4Hoekom mag ons nie eet en drink nie? 5Is dit nie reg vir ons om ’n suster as vrou met ons saam te vat op reis, soos die ander afgevaardigdes, die broers van ons Meester en Kefa, nie? 6Of is dit net ek en Bar-Nabba wat nie die outoriteit het om nie hande-arbeid te doen nie? 7Wie baklei in ’n oorlog op eie koste? Wie plant ’n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ’n kudde op en gebruik nie van die melk van die kudde nie?

8Sê ek dit miskien menslikerwys? Let op, die geskrewe wet sê ook hierdie dinge, 9want in die geskrewe wet van Moshe is geskryf: “Jy mag nie ’n os wat besig is om te dors, muilband nie.” Is dit oor osse wat God besorg is? 10Dit word verstaan dat Hy dit vir ons onthalwe sê en dit vir ons geskryf is omdat hy wat ploeg, met versekerde verwagting moet ploeg en hy wat dors, met versekerde verwagting vir ’n oes. 11As ons geestelik by julle gesaai het, is dit dan ’n groot ding as ons die fisiese vanaf julle sal oes? 12As ander outoriteit oor julle het, is dit nie te meer gepas vir ons nie? Ons het nie hierdie outoriteit gebruik nie, maar alles verdra om nie ’n hindernis te wees vir die goeie boodskap van Die Gesalfde Een nie. 13Weet julle nie dat dié wat in die afgesonderde tempel werk, vanuit die afgesonderde tempel voorsien word nie en dat die wat by die altaar bedien, met die altaar deel nie? 14Op die manier het ons Meester ook beveel dat die wat die goeie boodskap verkondig, vanuit die goeie boodskap moet lewe,

15maar ék is nie gewoond aan een van díe dinge nie en ek skryf ook nie met die doel dat dit vir my gedoen word nie, want dit sou vir my beter wees om dood te gaan as dat iemand my eer en lof tot niks sou maak nie, 16want as ek ook die goeie boodskap verkondig, is dit vir my geen roem nie, want die dringendheid is op my gelê en wee my as ek die goeie boodskap nie verkondig nie! 17As ek dit vrywillig doen, het ek loon, maar as ek dit onwillig doen, is ’n verantwoordelikheid aan my toevertrou. 18Watter loon het ek daardeur? Dat as ek die goeie boodskap verkondig, ek die goeie boodskap van Die Gesalfde Een kosteloos bring en nie my outoriteit in die goeie boodskap gebruik nie,

19want alhoewel ek vry is van alles, het ek my ’n slaaf van almal gemaak om baie te wen. 20Ek was by die Jode, as ’n Jood, om die Jode te wen; by die wat onder die geskrewe wet is, soos een wat onder die geskrewe wet is, om die wat onder die geskrewe wet is, te wen. 21Vir die wat nie die geskrewe wet het nie, soos een wat nie die geskrewe wet het nie terwyl ek nie vir God sonder die wet is nie, maar in die wet van Die Gesalfde Een sodat ek ook die wat sonder die geskrewe wet is, kan wen. 22Ek was by die swakkes as swak om die swakkes te wen; vir almal het ek alles geword om almal te red, 23maar dit het ek gedoen sodat ek ’n deelgenoot van die goeie boodskap kan wees.

24Weet julle nie dat die wat in die stadion hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys kry nie? Hardloop op so manier dat julle dit sal kry. 25Elkeen wat aan ’n kompetisie deelneem, dissiplineer sy gedagtes: húlle om ’n verganklike kroon te ontvang, maar ons ’n onverganklike. 26Ek hardloop daarvolgens soos een wat nie onseker is nie, ek neem deel soos een wat nie in die lug slaan nie, 27maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit gehoorsaam sodat ek nie, terwyl ek vir ander verkondig het, self verwerplik sou wees nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 8
Top of Page
Top of Page