1 Korinthiërs 7
Afrikaans PWL
1Na aanleiding van dit waaroor julle aan my geskryf het: dit is goed vir ’n man om nie by ’n vrou te kom nie, 2maar as gevolg van die seksuele immoraliteit, laat ’n man ’n vrou vat en ’n vrou haar man vat. 3Die man moet aan die vrou die liefde, wat verskuldig is, gee en net so ook die vrou aan haar man. 4Die vrou het nie magtiging oor haar eie liggaam nie, maar die man en net so ook het die man nie magtiging oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. 5Onthóu julle nie van mekaar nie, behalwe as julle albei saamstem oor ’n bepaalde tyd met die doel om julle aan vas en gebed te kan wy en kom terug na plesier sodat die teëstander julle nie versoek deur die begeertes van julle liggame nie. 6Dit sê ek egter aan die swakkeres, nie by wyse van opdrag nie, 7want ek wens dat alle mense in reinheid soos ek was, maar elkeen het sy eie geestelike gawe van God, die een so, maar die ander weer anders.

8Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is voordelig as hulle bly soos ek, 9maar as hulle nie kan volhard nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.

10Aan die getroudes beveel ek, nie ek nie, maar die Meester, dat die vrou nie van haar man mag weggaan nie 11en as sy tog van hom af weggaan, moet sy ongetroud bly, of haar verhouding met haar man herstel en die man moet sy vrou nie in die steek laat nie.

12Vir die ander sê ek, nie my Meester nie, as enige broer ’n ongelowige vrou het en sy dit goeddink om saam met hom te bly, moet hy haar nie verwerp nie 13en as enige vrou ’n ongelowige man het en hy dit goeddink om saam met haar te bly, moet sy hom nie verwerp nie, 14want die ongelowige man is afgesonder deur die vrou en die ongelowige vrou is afgesonder deur die man, want anders sou julle kinders ‘onrein’ wees, maar nou is hulle afgesonder. 15As die ongelowige wil weggaan, laat hom weggaan. In sulke gevalle is die broer of suster nie as slaaf gebind nie, maar God het ons tot vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid geroep, 16want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?

17Elkeen moet leef met dit wat יהוה hom gegee het, net soos elkeen was toe God hom geroep het en so beveel ek in al die gemeentes. 18Was iemand besny toe hy geroep is, moet hy nie terugkeer na onbesnedenheid nie. Was iemand onbesny toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie. 19Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die uitvoer van die opdragte van God, is wat tel. 20Laat elkeen in dié roeping bly waarin hy geroep is.

21Is jy as slaaf geroep, moenie dat dit jou pla nie, maar as jy vryheid kan verkry, kies self om te dien, 22want die slaaf wat in ons Meester geroep is, is ’n vrygemaakte van God; net so is ook hy wat as vryman geroep is, ’n slaaf van Die Gesalfde Een. 23Julle is met ’n prys gekoop; moenie slawe van mense wees nie. 24Laat elkeen, broers, in dít waarin hy geroep is, bly voor God.

25In verband met die maagde het ek geen outoriteit van die Meester nie, maar ek gee my advies as iemand wat deur die guns van ons Meester vertrouenswaardig is. 26Ek dink, vanweë die onderdrukking wat op hande is, dat dit goed is vir ’n mens om so te bly. 27Is jy aan ’n vrou verbonde, moenie soek om los te wees nie; is jy los van ’n vrou, moenie ’n vrou soek nie, 28maar as jy ’n vrou vat, sondig jy nie en as ’n maagd trou, sondig sy nie, maar sulke mense sal probleme hê aan die vlees en ek wil julle dit spaar. 29Dit sê ek, broers, die bepaalde tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie 30en die wat huil, asof hulle nie huil nie en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie en die wat koop, asof hulle dit nie kry nie 31en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle nie vasgevang is daarin nie, want die toestand van hierdie wêreld gaan verby.

32As gevolg hiervan wil ek hê dat julle sonder sorg moet wees. Die ongetroude gee om vir die dinge van sy Meester, hoe hy sy Meester kan tevrede stel, 33maar die getroude gee om vir die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal tevrede stel. 34Daar is ook verskil tussen ’n vrou en ’n maagd: die ongetroude gee om vir die dinge van haar Meester, om afgesonderd te wees na liggaam sowel as na gees, maar die getroude gee om vir die dinge van die wêreld, hoe sy haar man sal tevrede stel. 35Ek sê hierdie dinge tot julle eie voordeel, nie om julle te beperk nie, maar dat julle getrou aan julle Meester sal wees op ’n mooi manier en nie aandag gee aan die wêreld nie.

36As iemand meen dat hy tot skande gemaak word deur sy maagdelike dogter as sy oor die fleur van haar jeug is en hy haar nie vir ’n man gegee het nie en dit is gepas om haar te gee, sondig hy nie. Sy mag trou. 37Hy wat waarlik vasstaan in sy gedagtes en nie onder dwang verkeer vir plesier nie, maar outoriteit het oor sy eie wil en dit in sy eie verstand, wil en emosie besluit het om sy dogter ’n maagd te hou, hy doen goed; 38daarom, hy wat sy maagdelike dogter in die huwelik uitgee, doen goed, maar hy wat nie sy maagdelike dogter in die huwelik uitgee nie, doen beter.

39’n Vrou is deur die geskrewe wet gebind solank as wat haar man lewe, maar as die man dood is, is sy vry om te trou met wie sy wil, solank hy in ons Meester is. 40Sy is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my opinie en ek dink dat ek ook die Gees van God het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 6
Top of Page
Top of Page