1 Korinthiërs 4
Afrikaans PWL
1Laat ons op hierdie manier deur julle gereken word as dienaars van Die Gesalfde Een en toesighouers oor die geheime van God. 2Van nou af word dit hier van die toesighouers verwag dat hulle vertrouenswaardig bevind sal word, 3maar vir my beteken dit weinig of ek deur julle of deur ’n menslike oordeel beoordeel word; inteendeel, ek beoordeel myself nie eens nie, 4want ek het niks in myself wat my pla nie. Dit verklaar my egter nie onskuldig nie, maar my Regter is יהוה. 5Julle moet daarom niemand voor die tyd oordeel nie, nie voordat יהוה kom, wat die geheime dinge van die duisternis in die lig sal bring en die motiewe van die verstand, wil en emosie openbaar sal maak nie en dan sal elkeen lof van God ontvang.

6In hierdie dinge, broers, het ek myself en Apollos as voorbeelde gebruik, om julle ontwil sodat julle kan leer om nie meer af te lei as wat geskrywe is nie sodat julle nie, die een of die ander, ophef teenoor ’n derde nie, 7want wie ondersoek jóú? Wat het jy wat nie vir jou gegee is nie en as dit vir jou gegee is, waarom roem jy asof dit nie vir jou gegee is nie?

8Julle is alreeds uit julleself versadig! Julle het alreeds ryk geword! Julle heers ook onafhanklik van ons! O, dat julle tog maar geheers het sodat ons saam met julle kon heers, 9want ek dink dat God ons afgevaardigdes aan die einde geplaas het asof tot die dood veroordeel, om ’n skouspel te word vir die wêreld, die engele en die mense! 10Ons is dwaas ter wille van Die Gesalfde Een, maar julle is verstandig in Die Gesalfde Een. Ons is swak, maar julle is sterk. Julle word geëer, maar ons verag. 11Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, is ons kaal, word ons mishandel en het ons nie ’n huis nie 12en is ons moeg van werk met ons eie hande. Word ons uitgeskel, seën ons; word ons vervolg, hou ons dit uit; 13word ons beskuldig, smeek ons van hulle; ons het soos vuilgoed van die wêreld geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.

14Ek skrywe hierdie dinge nie om julle skaam te maak nie, maar soos aan liewe kinders gee ek ’n waarskuwing, 15want al sou julle tien duisend instrukteurs in Die Gesalfde Een hê, het julle daarenteen nie baie vaders nie, want in Die Gesalfde Een, Yeshua, het ek aan julle geboorte gegee deur die goeie boodskap. 16Daarvolgens doen ek ’n beroep op julle, word my nabootsers; 17daarom het ek Timotheos, vir wie ek lief is en wat ’n getroue seun in יהוה is, na julle gestuur om aan julle my lewenswyse in Die Gesalfde Een oor te dra, soos ek oral in elke gemeente leer. 18Aangesien ek nie na julle toe gekom het nie, het sommige arrogant geword, 19maar, as יהוה wil, sal ek gou na julle toe kom en dan sal ek sien, nie wat die opgeblase sê nie, maar hulle krag, 20want die Koninkryk van God bestaan nie uit wat gesê word nie, maar in wonderwerkende krag. 21Wat wil julle hê? Moet ek met ’n stok na julle toe kom of met omgee en in ’n gees van sagtheid?

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 3
Top of Page
Top of Page