1 Korinthiërs 2
Afrikaans PWL
1Ek, toe ek by julle gekom het, my broers, het nie aan julle die geheimenis van God kom verkondig met ’n verhewe boodskap of geleerdheid nie, 2want ek het besluit om niks anders onder julle te ken nie as Yeshua, Die Gesalfde Een en Hom as gekruisigde. 3Ek het ook in baie vrees en in bewing by julle gekom 4en my boodskap en my verkondiging was nie in oorredende woorde van wysheid nie, maar in die demonstrasie van die Gees en wonderwerkende krag 5sodat julle vertroue nie in wysheid van mense sou wees nie, maar in die krag van God.

6Ons bespreek wysheid onder die volwassenes, maar ’n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se outoriteite, wat vergaan nie, 7maar ons bespreek die geheime wysheid van God, wat weggesteek was en wat God van voor die ontstaan van die aarde af beplan het, om ons in die Gemanifesteerde Teenwoordigheid te bring, 8wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie, want as hulle dit geken het, sou hulle die Meester van die Gemanifesteerde Teenwoordigheid nie gekruisig het nie,

9maar soos geskrywe is: “Die oog het nie gesien en die oor het nie gehoor en dit het nie in die gedagtes van ’n mens opgekom, dít wat God voorberei het vir dié wat Hom liefhet nie.”

10God het dit aan ons deur Sy Gees openbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God, 11want wie ken die innerlike van die mens, as dit nie die gees van die mens is wat in hom is nie? Net so weet ook niemand wat ín God is nie, behalwe die Gees van God, 12maar ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat vanuit God is sodat ons kan verstaan wat God vir ons uit onverdiende guns gegee het. 13Dit wat ons ook oor praat, nie met argumente wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Gees van Afsondering leer sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

14Die natuurlike mens aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie, want dit is vir hom dwaasheid en hy kan dit nie verstaan nie omdat dit deur die gees onderskei word, 15maar die geestelike mens beoordeel alle dinge, maar self word hy deur niemand beoordeel nie. 16“Want wie het die gedagtes van יהוה geken dat hy Hom sou kon leer?” Ons hét egter die gedagtes van Die Gesalfde Een.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 1
Top of Page
Top of Page