1 Korinthiërs 12
Afrikaans PWL
1Wat die geestelike dinge betref, my broers, wil ek dat julle weet 2dat toe julle ongelowiges was, julle sonder onderskeiding gelei is deur afgode wat stom is. 3Ek sê daarom vir julle dat niemand wat deur die Gees van God praat, Yeshua ’n vervloeking noem nie en niemand kan sê: “Yeshua is יהוה,” behalwe deur die Gees van Afsondering nie.

4Daar is ’n verskeidenheid van gawes, maar die Gees is Een. 5Daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar יהוה is Een. 6Daar is ’n verskeidenheid van wonderwerke, maar God wat alles in elke persoon werk, is een God, 7maar aan elke persoon word die manifestasie van die Gees gegee soos dit hom help. 8Daar word aan hom, deur die Gees, ’n boodskap van wysheid gegee, maar aan ’n ander ’n boodskap van kennis, in hom, deur die Gees; 9aan ’n ander vertroue in hom deur die Gees, aan ’n ander die gawe van gesondmaking in hom deur die Gees, 10maar aan ’n ander wonderwerke, aan ’n ander profesie, aan ’n ander onderskeiding van geeste, aan ’n ander verskillende tale en aan ’n ander die vertaling van tale. 11Al hierdie dinge doen die een Gees en deel uit aan elkeen soos Hy wil,

12want net soos die liggaam een is en baie ledemate het, maar al die dele van die liggaam, al is hulle baie, een liggaam is; so ook met Die Gesalfde Een, 13want ons is ook almal deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Arameërs, slawe of vrymanne is en ons is almal van een Gees gegee om te drink,

14want ook die liggaam is nie een ledemaat nie, maar baie. 15As die voet sou sê: ‘Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie’, is hy daarom nie deel van die liggaam nie? 16As die oor sou sê:’ Omdat ek nie die oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie’, is hy daarom nie deel van die liggaam nie? 17As die hele liggaam ’n oog was, waar sou die gehoor wees? As alles gehoor was, waar sou die reuk wees? 18Nou het God egter elkeen van die ledemate in die liggaam gesit, net soos Hy wil. 19As almal een ledemaat was, waar sou die liggaam wees? 20Nou is daar egter baie ledemate, maar net een liggaam. 21Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek het jou nie nodig nie;’ of ook die kop vir die voete: ‘Ek het julle nie nodig nie,’ 22maar veel eerder is dié ledemate van die liggaam, wat as swak beskou word, noodsaaklik 23en dié ledemate van die liggaam wat ons dink skandelik is, gee ons oorvloediger waarde en die minder mooi, oorvloediger elegansie 24terwyl ons mooi gevormde ledemate dit nie nodig het nie, maar God het die liggaam saamgestel en aan die ledemaat wat klein is oorvloediger waarde gegee 25sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die ledemate dieselfde vir mekaar mag omgee. 26Nou, as een ledemaat ly, sal almal die pyn deel en as een ledemaat hom verheug, verheug al die ledemate hulle saam,

27maar julle is die liggaam van Die Gesalfde Een en ledemate op julle plekke.

28God het in Sy gemeente geplaas: eerstens afgevaardigdes, na hulle profete, na hulle leermeesters, na hulle werkers van wonderwerke, na hulle gawes van gesondmaking, helpers, leiers en verskillende tale. 29Is almal van hulle afgevaardigdes? Is almal van hulle profete? Is almal van hulle leermeesters? Is almal van hulle werkers van wonderwerke? 30Het almal van hulle die gawes van gesondmaking? Praat almal van hulle in tale? Vertaal almal van hulle? 31As julle ywerig is na die groter gawes sal ek vir julle ’n beter manier wys:

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 11
Top of Page
Top of Page