1 Kronieke 23
Afrikaans PWL
1Toe Dawid oud en vol van dae was, het hy sy seun Shlomo koning oor Yisra’el gemaak. 2Hy het al die oudstes van die priesters en die Leviete bymekaar laat kom.

3Die Leviete is getel, vanaf dertig jaar oud en ouer en hulle getal was, man vir man, agt en dertig duisend. 4Uit hulle het Dawid toesighouers aangestel oor die werk aan die huis van יהוה, vier en twintig oor elke duisend werkers en regters en skrywers, ses oor elke honderd werkers: 5om toesig te hou oor die werk, dat dit gedoen word, om toesig te hou oor die voorrade en werk en om rekenskap te gee van die rykdom en die aalmoese wat hulle aan die armes gegee het. 6Dawid het administrateurs en bestuurders oor die armes en behoeftiges aangestel om aan die armes te voorsien en uit te deel, een persoon oor elke tien en hulle het niks tekort gekom nie. Dawid het hulle aangestel volgens hulle afdelings, volgens die seuns van Levi: Gershon, K’hat en M’rari.

7Van die Gershoniete: La’dan en Shim’i. 8Die seuns van La’dan was: die eersgeborene, Yegi’el, dan Zetam en Yo’el, drie. 9Die seuns van Shim’i was: Shlomit, Hazi’el en Haran, drie; dit was die hoofde van die vaders van La’dan. 10Die seuns van Shim’i was: Yagat, Zavdah, Ye’ush en B’ri’ah; dit was die vier seuns van Shim’i. 11Yagat was die eersgeborene en Zavdah die tweede, maar Ye’ush en B’ri’ah het nie baie seuns gehad nie en is daarom in hulle vader se afdeling as een gesit.

12Die seuns van K’hat was: `Amram, Yitz’har, Hevron en `Uzi’el, vier. 13Die seuns van `Amram was Aharon en Moshe en Aharon is gekies om in die Mees Afgesonderde Plek te bedien, hy en sy seuns, vir ewig, om wierook voor יהוה te brand, Hom te bedien en om vir ewig in Sy Naam (Karakter en Outoriteit) te seën. 14Moshe, die profeet van God, se seuns is by die stam van Levi genoem. 15Die seuns van Moshe was Gershon en Eli’ezer. 16Die seun van Gershon was Sh’vu’el, die eersgeborene. 17Die seun van Eli’ezer was Regavyah, die eersgeborene en Eli’ezer het nie ander seuns gehad nie, maar die seuns van Regavyah was Rivvi, die eersgeborene. 18Die seun van Yitz’har: Shlomit, die eersgeborene. 19Die seuns van Hevron: Yeriyahu, die eersgeborene, Amaryah, die tweede, Yagzi’el, die derde en Y’kam’am, die vierde. 20Die seuns van `Uzi’el: Mikhah, die eersgeborene en Yishiyah, die tweede.

21Die seuns van M’rari: Magli en Mushi. Die seuns van Magli: El’azar en Kish. 22El’azar het gesterf en geen seuns gehad nie, net dogters en die seuns van hulle oom, Kish, het hulle as vroue gevat. 23Die seuns van Mushi was Magli, `Eder en Yeremot, drie.

24Dit was die seuns van Levi, volgens die huise van hulle vaders, die hoofde van die huise, soos hulle getel is volgens die getal name, man vir man, wat die toesighouers was oor die dienswerk in die huis van יהוה, vanaf twintig jaar oud en ouer, 25want Dawid het gesê: “יהוה, die God van Yisra’el, het aan Sy volk rus gegee en Hy bly in Yerushalayim vir ewig.” 26Hy het ook vir die Leviete gesê dat hulle nie meer die Tabernakel en al sy voorwerpe vir sy diens hoef te dra nie. 27Volgens die laaste woorde van Dawid moes die Leviete getel word, van twintig jaar oud en ouer, 28want hy het hulle aangestel in die taak om die seuns van Aharon te help en toesighouers te wees in die huis van יהוה, oor hulle wat met reguit en gedraaide horings blaas en oor die kamers waarin die afgesonderde voorwerpe van יהוהgestoor word 29en oor die brode van die Teenwoordigheid en die fyn meel vir die graanoffer en oor die ongesuurde koeke en oor almal wat sing en dank offer, 30dat hulle elke oggend vroeg opstaan om יהוה te dank en te prys en net so saans; 31om ook die brandoffers tot יהוה op Shabbat te bring, op die nuwemane en op die vasgestelde feeste, in getal volgens die getalle daarvoor beveel, voortdurend voor יהוה. 32Hulle het ook bevel gehad oor die voorwerpe van die Tent van Ontmoeting en bevel oor die voorwerpe van die Afgesonderde Plek en onder bevel van die seuns van Aharon, hulle broers, wanneer hulle nodig was om te bedien in die huis van יהוה.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Chronicles 22
Top of Page
Top of Page