1 Kronieke 20
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur in die volgende jaar, in die tyd dat die konings uittrek in geveg, dat Yo’av die leërmag gemobiliseer het en teen die land van die seuns van `Ammon kamp opgeslaan en sommige van die stede gevat het; hy het ook gekom en Rabbah, hulle hoofstad, beleër terwyl Dawid in Yerushalayim gebly het. Yo’av het Rabbah verslaan en dit vernietig. 2Dawid het die kroon van hul koning van sy kop afgehaal en dit geweeg en gevind dat dit ’n talent goud weeg en daar was edelgesteentes in. Dawid het dit op sy kop gesit en het ook baie buit uit die stad gebring. 3Hy het ook die bevolking wat daarin was, uitgebring en hulle met kettings, slotte en boeie gebind. So het Dawid hulle gebind, asook almal wat in die stede van `Ammon gevind is, maar hy het niemand van hulle doodgemaak nie en hulle gebring en in die stede van Yisra’el gevestig. Toe het Dawid met al die manskappe na Yerushalayim teruggegaan.

4Na dit het dit gebeur dat daar by Gezer oorlog ontstaan het met die F’lishtyne; toe het Sibkhai, die Hushatiet, vir Saf, doodgemaak wat van die nageslag van die reuse was. 5Daar was weer oorlog met die F’lishtyne en Elganan, die seun van Ya’ir, het vir Lagmi, die broer van Golyat, die magtige Gittiet, wie se spiessteel soos ’n wewersbalk was, verslaan. 6Daar was weer oorlog by Gat, waar ’n baie lang man was met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier en twintig; hy was ook die seun van ’n reus. 7Hy het Yisra’el uitgedaag, maar Y’honatan, die seun van Shim’ah, die broer van Dawid, het hom verslaan. 8Hierdie vier is vir die reuse in Gat gebore en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy diensknegte.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Chronicles 19
Top of Page
Top of Page