Sagaria 14
Afrikaans PWL
1Let op, ’n dag kom vir יהוה wanneer die buit wat van jou gevat is, tussen julle verdeel word, 2want Ek sal al die nasies versamel om te veg teen Yerushalayim en die stad sal oorgeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap, maar die res van die mense sal nie uit die stad uitgeroei word nie, 3dan sal יהוה gaan en veg teen dié nasies soos wanneer Hy veg op die dag van die geveg. 4Op daardie dag sal Sy voete op die Olyfberg staan, wat voor Yerushalayim lê, aan die oostekant en die Olyfberg sal middeldeur geskeur word van oos na wes deur ’n baie groot vallei sodat die helfte van die berg na die noorde sal beweeg en die ander helfte na die suide. 5Julle sal vlug deur die vallei van My berge, want die vallei van die berge sal loop tot by Atzel; ja, julle sal vlug net soos julle gevlug het voor die aardbewing in die dae van `Uziyah, koning van Y’hudah, dan sal יהוה, my God, kom en al die afgesonderdes saam met Hom!

6In daardie dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal verflou, 7want dit sal ’n unieke dag wees wat aan יהוה bekend is, geen dag of geen nag nie, maar dit sal gebeur dat daar teen die aand lig sal wees.

8In daardie dag sal daar lewende waters vanuit Yerushalayim vloei, die helfte daarvan na die oostelike see en die ander helfte na die westelike see; dit sal in die somer, sowel as in die winter wees.

9יהוה sal Koning wees oor die hele aarde; op daardie dag sal יהוה Een wees en Sy Naam Een.

10Die hele land sal in ’n vlakte verander word, vanaf Geva tot by Rimmon, suid van Yerushalayim, maar Yerushalayim sal opstaan en bly aan sy kant van die poort van Binyamin, so ver as tot by die plek van die Eerste poort, tot by die Hoekpoort en vanaf die toring van Hanan’el tot by die parskuipe van die koning. 11Mense sal daarin woon en daar sal nie langer ’n vloek wees nie, want Yerushalayim sal in veiligheid bly.

12Hierdie sal die plaag wees waarmee יהוה al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Yerushalayim te veg: hulle vlees sal verrot terwyl hulle op hul voete staan, hulle oë sal in hulle holtes verrot en hulle tong sal in hulle mond verrot. 13Dit sal gebeur in daardie dag dat ’n groot paniek vanaf יהוה op hulle sal val en hulle sal mekaar se hand vasgryp en die hand van die een sal opgelig word teen die hand van die ander. 14Y’hudah sal ook in Yerushalayim veg en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud, silwer en klere in groot oorvloed. 15Net soos hierdie plaag is, sal die plaag wees op die perd, die muil, die kameel, die donkie en al die beeste wat in daardie kampe sal wees,

16dan sal dit gebeur dat enige wat oorbly uit al die nasies wat teen Yerushalayim opgegaan het, van jaar tot jaar sal opgaan om die Koning, יהוה-Tzva’ot, te aanbid en om die Fees van Hutte (Sukkot) te vier. 17Dit sal wees dat wie ook al uit al die families van die aarde, nie na Yerushalayim sal opgaan om die Koning, יהוה-Tzva’ot, te aanbid nie, daar geen reën op hulle sal val nie. 18As die familie van Mitzrayim nie opgaan of ingaan nie, dan sal die plaag waarmee יהוה die nasies tref wat nie opgaan om die Fees van Hutte (Sukkot) te vier nie, ook op hulle val. 19Dit sal die straf vir Mitzrayim wees en die straf vir al die nasies wat nie opgaan om die Fees van Hutte (Sukkot) te vier nie.

20Op daardie dag sal op die klokke van die perde staan: “Afgesonderd tot יהוה!” Die kookpotte in die huis van יהוה sal wees soos die komme voor die altaar. 21Elke kookpot in Yerushalayim en in Y’hudah sal afgesonderd wees tot יהוה-Tzva’ot en almal wat offer, sal kom en daarvan vat en daarin kook. In daardie dag sal daar geen Kena’aniet meer in die huis van יהוה-Tzva’ot wees nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Zechariah 13
Top of Page
Top of Page