Rut 2
Afrikaans PWL
1Na’omi het ’n familielid van haar man gehad, ’n bekende ryk man, uit die familie van Elimelekh, wie se naam Bo’az was. 2Rut, die Mo’aviet, het vir Na’omi, haar skoonmoeder gesê: “Laat my nou na die land toe gaan en are optel agter die snyers in wie se oë ek guns mag vind.” Haar skoonmoeder antwoord haar: “Gaan my dogter.” 3Rut het gegaan om are graan op te tel agter die snyers; dit het gebeur dat sy op ’n stuk land gekom het wat aan Bo’az behoort, wat familie was van Elimelekh. 4Let op, Bo’az het uit Beit-Legem gekom en aan die snyers gesê: “Vrede, voorspoed, vergenoegdheid en gesondheid vir julle.” Hulle het hom geantwoord: “יהוה seën u!” 5Toe sê Bo’az vir die jongman wat in beheer was van die snyers: “Wie se jong vrou is hierdie?” 6Die jongman antwoord en sê vir hom: “Dit is die Mo’avitiese vrou wat saam met Na’omi teruggekom het vanaf die land van Mo’av 7en sy het gesê: ‘Laat my die are graan agter die snyers optel. Sy het vanaf die oggend tot die tyd van rus toe opgetel.”

8Toe sê Bo’az vir Rut: “My dogter, het jy nie die spreuk gehoor: ‘Moenie graan optel in ’n land wat nie joune is nie?’ Bly daarom hier en bly naby my diensmeisies. 9Kyk na die land wat hulle afsny en volg hulle. Let op, ek het die jongmanne beveel dat niemand jou sal kwaad aandoen nie en wanneer jy dors word, gaan drink van die kanne wat die jongmanne geskep het.” 10Toe val sy met haar gesig op die grond en betoon eerbied aan hom en sê: “Is dit omdat ek guns in u oë gevind het dat u my erken, aangesien ek ’n vreemdeling is? 11Bo’az sê vir haar: “Ek is ten volle ingelig oor alles wat jy vir jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man en nou het jy jou vader en jou moeder en jou familie verlaat en na ’n volk gekom wat jy nie vroeër geken het nie. 12Mag יהוה, die God van Yisra’el jou beloon en mag die Een onder wie se vlerk jy kom skuil het, jou terugbetaal.” 13Toe het sy vir hom gesê: “Omdat ek guns in u oë gevind het, my meester en u my getroos het en met gevoel met u diensmaagd gepraat het, laat my soos een van u diensmaagde wees.”

14By etenstyd het Bo’az vir haar gesê: “Kom nader en eet van die brood” en hy het haar langs die snyers gesit en vir haar garsmeel gegee en brood gedoop in melk. Toe het hy vir haar gebraaide koring gegee en sy het geëet en was versadig en het nog oorgehou. 15Toe sy opgestaan het om are op te tel, het Bo’az sy diensknegte beveel en gesê: “Laat haar selfs ook tussen die gerwe optel en moet haar nie kwaad aandoen nie” 16en hulle het haar tussen die gerwe laat optel en haar nie kwaad aangedoen nie.

17Sy het op die land opgetel tot die aand toe en uitgeslaan wat sy opgetel het; dit was omtrent ’n efa gars. 18Sy het dit opgetel en ingegaan stad toe en vir haar skoonmoeder gewys wat sy opgetel het en vir haar van die kos gegee wat sy oorgehou het nadat sy versadig was. 19Haar skoonmoeder vra vir haar: “Waar het jy vandag opgetel? Geseënd is die plek waar jy was en die man in wie se oë jy guns gevind het!” Sy het haar skoonmoeder vertel waar sy was en gesê: “Die naam van die man in wie se land ek vandag opgetel het, is Bo’az.” 20Naómi sê vir haar skoondogter: “Geseënd is יהוה, want Hy het nie Sy goedheid laat ophou van die lewende of van die dooies nie.” Na’omi sê ook vir haar: “Die man is naby familie van ons, hy is een van ons naaste familie.” 21Rut sê vir haar skoonmoeder: “Hy het ook vir my gesê: ‘Jy moet naby my diensknegte bly totdat die oes klaar is’”. 22Na’omi het vir Rut, haar skoondogter, gesê: “Gelukkig is jy, my dogter, dat jy naby sy diensmeisies gebly het en niemand jou kwaad aangedoen het op die land wie se eienaar jy nie geken het nie.” 23Sy het naby die diensmeisies van Bo’az gebly om are op te tel tot die einde van die gars oes en die koring oes. Rut het by haar skoonmoeder gebly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ruth 1
Top of Page
Top of Page