Romeine 8
Afrikaans PWL
1Daar is daarom geen veroordeling in Yeshua, Die Gesalfde Een, vir dié wat nie in die vlees leef nie, 2want die wet van die Gees van Lewe, wat in Yeshua, Die Gesalfde Een, is, het jou vrygemaak van die wet van die sonde en van dood, 3want omdat die wet swak was, deur die sieklikheid van die vlees, het God Sy Seun in die vorm van die sondige vlees gestuur, as gevolg van sonde, om die sonde in Sy vlees te veroordeel 4sodat die onpartydige opregtheid van die wet volledig gemaak kon word in ons sodat ons nie na die vlees leef nie, maar na die Gees. 5Hulle wat in die vlees is, word deur daardie vlees beheer, maar die wat van die Gees is, word deur daardie Gees beheer, 6want die gedagtes van die vlees is dood, maar die gedagtes van die Gees is lewe, vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid 7omdat die gedagtes van die vlees vyandskap teen God is, want dit is nie gehoorsaam aan die wet van God nie, want dit is ook nie moontlik nie. 8Hulle wat in die vlees is, kan God nie tevrede stel nie,

9maar julle is nie in die vlees nie, maar in die Gees, as die Gees van God waarlik in julle bly, maar as iemand die Gees van Die Gesalfde Een nie het nie, behoort hy nie aan Hom nie. 10As Die Gesalfde Een in julle is, dan is die liggaam dood vir die doel van sonde, maar die Gees is lewend vir die doel van die onpartydige opregtheid 11en as die Gees van Hom wat ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een uit die dood uit laat opstaan het, in julle bly, dan sal Hy wat Yeshua, Die Gesalfde Een uit die dood laat opstaan het, ook aan julle dooie liggame lewe gee deur Sy Gees wat in julle bly.

12Nou, my broers, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie, 13want as julle na die vlees lewe, sal julle sterf en as julle in die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe, 14want dié wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. 15Julle het nie ’n gees van slawerny ontvang om weer te vrees nie, maar julle het die Gees van aanstelling as kinders ontvang, deur Wie ons uitroep: “Vader, ons Vader!” 16Daardie Gees getuig tot ons gees dat ons kinders van God is 17en as ons kinders is, dan ook erfgename. Erfgename van God en mede-erfgename van Yeshua, Die Gesalfde Een, want as ons saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van God smaak.

18Ek verklaar dat die lyding van hierdie tyd nie vergelyk kan word met die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van God wat aan ons openbaar sal word nie, 19want die skepping wag in versekerde verwagting en in afwagting op die openbaarmaking van die kinders van God, 20want die skepping is onderworpe aan die waardeloosheid, nie uit keuse nie, maar onder Hom wat dit gehoorsaam gemaak het, in die versekerde verwagting 21dat ook die skepping vrygemaak sal word van die slawerny van vernietiging tot die vryheid van die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van God saam met die kinders van God, 22want ons weet dat alles wat geskep is, kreun en in geboortepyn is tot nou toe. 23Nie alleen hulle nie, maar ook ons wat die eersteling vrugte van die Gees in ons het, kreun ook in onsself in afwagting op die aanstelling as kinders en die bevryding van ons liggame, 24want ons leef in versekerde verwagting, maar die versekerde verwagting wat gesien word, is geen verwagting nie, want waarom verwag iemand dit wat hy sien? 25As ons verwag wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met geduld.

26Net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie wat nodig is, waarvoor ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitgesproke kreuninge 27en Hy wat die verstand, wil en emosie ondersoek, weet wat die bedoeling van die Gees is omdat Hy, ooreenkomstig die wil van God, vir die afgesonderdes intree.

28Ons weet dat, vir hulle wat God liefhet, Hy hulle in alles help tot die goeie, vir hulle wat Hy opsy gesit het om geroep te word, 29want die wat Hy vooruit geken het, dié het Hy ook vooruit gevorm om te lyk net soos die beeld van Sy Seun sodat Hy die Eersgeborene kan wees onder baie broers 30en die wat Hy vooruit gevorm het, dié het Hy ook geroep en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook onskuldig verklaar en die wat Hy onskuldig verklaar het, aan dié het Hy ook Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid gegee.

31Wat sal ons daarom van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie is teen ons? 32As Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom, in plaas van ons almal, oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ook vir ons alles gee nie? 33Wie sal beskuldigings inbring teen dié wat God gekies het? God verklaar onskuldig. 34Wie is dit wat veroordeel? Die Gesalfde Een is Hy wat gesterf het, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterkant van God is, wat ook vir ons onthalwe intree.

35Wat sal my skei van die liefde van Die Gesalfde Een: lyding, gevangeskap, vervolging, hongersnood, naaktheid, gevaar of die swaard?

36Soos geskrywe is: “Om U ontwil word ons die hele dag lank doodgemaak, ons is gereken as skape vir die slagting.”

37In al hierdie dinge oorwin ons egter, deur Hom wat ons liefhet, 38want ek is oortuig daarvan dat geen dood of lewe of engel of outoriteit of leërmag of dinge wat nou bestaan of dinge wat sal kom 39of hoogte of diepte of enige ander skepsel in staat is om my af te sny van die liefde van God, wat daar in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, is nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Romans 7
Top of Page
Top of Page