Romeine 6
Afrikaans PWL
1Wat sal ons daarom sê? Sal ons in die sonde bly sodat die onverdiende guns meer kan word? 2’n Verwerplike gedagte! Hoe kan enige een van ons wat dood is vir die sonde, weer daarin leef? 3Of weet julle nie dat díe van ons wat in Die Gesalfde Een, Yeshua, gedoop is, in Sy dood gedoop is nie? 4Ons is saam met Hom begrawe in die doop tot die dood sodat net soos Die Gesalfde Een uit die dood uit opgestaan het deur die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van Sy Vader, ons ook net so in ’n nuwe lewe kan leef, 5want as ons een geword het met Hom deur dieselfde dood as Hy, sal ons ook een wees met Hom in dieselfde opstanding as Hy. 6Ons weet dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is sodat die liggaam van sonde vernietig sou word sodat ons nie langer ’n slaaf van die sonde sal wees nie, 7want hy wat dood is, het homself van die sonde bevry.

8As ons daarom saam met Die Gesalfde Een dood is, laat ons vertrou dat ons saam met Die Gesalfde Een sal lewe 9omdat ons weet dat Die Gesalfde Een opgestaan het uit die dood en nie weer sal sterf nie en die dood geen outoriteit oor Hom het nie. 10Hy wat dood is vir die sonde, het een maal gesterf en omdat Hy leef, leef Hy vir God. 11Net so moet julle ook julleself beskou as dood vir die sonde en dat julle leef vir God in eenheid met ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.

12Die sonde sal daarom nie in julle dooie liggame heers, asof julle aan sy begeertes gehoorsaam sou wees nie. 13Moet ook nie julle lede aanbied as wapens vir boosheid tot sonde nie, maar bied julleself aan vir God as mense wat uit die dood uit lewend is en julle lede sal wapens wees vir die onpartydige opregtheid van God. 14Sonde het nie outoriteit oor julle nie, want julle is nie onder die geskrewe wet nie, maar onder onverdiende guns.

15Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die geskrewe wet is nie, maar onder die onverdiende guns? ’n Verwerplike gedagte! 16Weet julle nie dat julle, aan wie julle ook al julself aanbied om gehoorsaam te wees, sy slaaf is om aan hom gehoorsaam te wees nie; òf dit die sonde, òf die onpartydige opregtheid is waarna jy luister? 17Dank God dat julle slawe van die sonde was en vanuit julle verstand, wil en emosie gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle gebring is 18en toe julle vrygemaak is van die sonde, het julle slawe geword van die onpartydige opregtheid. 19Ek praat menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees, want net soos julle jul liggaamsdele as slawe aangebied het van die onreinheid en wetsoortreding, so moet julle nou ook jul lede aanbied as slawe van die onpartydige opregtheid en afsondering,

20want toe julle slawe geword het van die sonde, het julle vry geraak van die onpartydige opregtheid. 21Watter vrug het julle toe gehad? Dit waaroor julle jul nou skaam, want die uiteinde daarvan is die dood. 22Nou, omdat julle vrygemaak is van die sonde en slawe geword het van God, lei die voordeel wat julle trek tot afgesonderdheid en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die eindproduk van die sonde is die dood, maar die geskenk van God is die ewige lewe, in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Romans 5
Top of Page
Top of Page