Openbaring 22
Afrikaans PWL
1Hy het vir my ’n skoon rivier van die water van die lewe gewys, helder soos kristal, wat uitstroom vanuit die troon van God en van die Lam. 2In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe, wat twaalf vrugte voortbring en elke maand sy vrugte gee en sy blare vir die genesing van die volke 3en daar sal geen vloeke wees nie en die troon van God en van die Lam sal daarin wees en sy diensknegte sal Hom bedien. 4Hulle sal Sy aangesig sien en Sy Karakter en Outoriteit sal tussen hulle oë wees 5en daar sal geen nag wees nie en hulle het geen lig, lamp of sonlig nodig nie omdat יהוה-God vir hulle lig gee en hulle Koning vir tydlose ewigheid is.

6Hy het vir my gesê: “Hierdie boodskappe is vertrouenswaardig en waar en יהוה, God van die gees van die afgesonderde profete, het my, Sy engel, gestuur om vir Sy diensknegte te wys wat gou moet gebeur.

7Let op, Ek kom gou. Geseënd is die een wat die boodskap van die profesie van hierdie boekrol gehoorsaam.”

8Ek is Yoganan, wat hierdie dinge gesien en gehoor het en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel, wat my hierdie dinge gewys het neergeval om te aanbid. 9Hy het vir my gesê: “Profeet, nee! Ek is ’n medeslaaf saam met jou en jou broers, die profete en van hulle wat die boodskap van hierdie boekrol gehoorsaam. Aanbid God.”

10Hy het ook vir my gesê: “Moenie die boodskap van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die tyd is naby. 11Hy wat die bose doen, sal weer boosheid doen en wie besoedel is, sal hom weer laat besoedel en die onskuldige sal weer doen wat onpartydig opreg is en die afgesonderde sal weer afgesonder word.”

12“Let op, Ek kom dadelik en My beloning is by My en Ek sal vir elkeen gee volgens sy dade. 13Ek is Alef en Ek is Tau, die Eerste en die Finale, die Oorsprong en die Afhandeling.

14Geseënd is dié wat Sy opdragte gehoorsaam, want hulle sal outoriteit hê om te gaan na die boom van die lewe en sal ingaan deur die poorte in die stad in. 15Buitekant is die seksuele oortreders, die moordenaars, die aanbidders van afgode, die besoedeldes, towenaars en alle sieners en werkers van die leuen.

16Ek, Yeshua, het My boodskapper gestuur om hierdie dinge teenoor julle te getuig voor die gemeentes. אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Wortel en die Nakomeling van Dawid, sy Kameraad en die helder Môrester.

17Die Gees en die bruid sê: “Kom!” Laat hom wat hoor, sê: “Kom!” Laat hom wat dors het, kom en die water van die lewe neem, sonder koste.

18Ek getuig teenoor elkeen wat die boodskap van die profesie van hierdie boek hoor: wie ook al by hierdie dinge byvoeg, God sal die plae, waarvan in hierdie boekrol geskrywe is, op hom sit 19en wie ook al iets van die boodskap van hierdie profesie uit die boekrol wegvat, God sal sy deel wegvat uit die boekrol van die lewe en uit die afgesonderde stad uit, die dinge waarvan in hierdie boekrol geskryf is.

20Toe Hy hierdie dinge getuig het, het Hy gesê: “Ja, Ek kom gou.” Kom, יהוה-Yeshua!

21Die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een bly by al Sy afgesonderdes. Dit is waar!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Revelation 21
Top of Page
Top of Page